Wie is Riekie Greyling?

WhatsApp Image 2023-11-12 at 14.20.47

Waarom skryf ek?

Mooi woorde wat aanmekaar gestring kan word om nuwe wêrelde te skep, het my van kleins af gefassineer. My ouer broer het my leer lees nog voordat ek skool toe is.

Dit is sekerlik die beste geskenk wat enigiemand kan ontvang. Binne hierdie stories het ek plekke, mense en avonture ontdek waarbinne ek myself kon verloor. Ek kon wegkruip van die alledaagse in my boeke. Ek kon wees net wie ek wou; onverskrokke, dapper, uitgesproke – die heldin in alle omstandighede.

Hoe meer boeke ek verslind het, hoe hongerder het ek geword vir nόg. Op hoërskool het my Afrikaanse onderwyser my aangemoedig om self te skryf. Sy het geglo dat ek wonderlike stories kan skryf, maar ek moet bieg, dit het my etlike dekades geneem om self te glo dat ek kan.

Dat indien ek nie probeer nie, ek nooit sal weet of ek kan nie. Wat ‘n ongelooflike voorreg (en lekkerte) is dit nie om nou self woordstringe aan mekaar te ryg vir al die stories in my verbeelding nie.