Weskus-wasgoed-ninja

Nog nooit het ek daarop geroem dat ek ‘n bekwame, of selfs net ‘n so-so, huisvrou is nie. Die nimmereindigende repetisie wat met die titel gepaard gaan laat my vel in vlekke uitslaan. Ek bewonder ‘n huisvrou wie se huis soos die binneblaaie van ‘n Garden & Home lyk. Georganiseerd, skitterskoon, met leë wasgoedmandjies.

Met al ons dogters volwasse en selfstandig in hulle eie huise (behalwe vir Laatlam) het ons huishouding, volgens Manlief, nie meer ‘n voltydse huishulp nodig nie. Ek snik in my hart, maar sê niks. Hoe moeilik kan dit nou wees om ons nessie aan die kant te hou?  Bitter moeilik, laat ek jou vertel…

Die heel moeilikste vir my is die wasgoedwassery. Ek kan sommer hoor hoe al wat ‘n bekwame huisvrou is, vir my sê dat ek bietjie dramaties is – jy gooi dan net alles in ‘n wasmasjien. Dis nou nie asof ek elke draadjie wat aan ons lywe kom, met die hand in ‘n rivier moet uitspoel nie.

Dit mag so wees, maar ek is oortuig daarvan dat daar ‘n sameswering bestaan tussen my huismense, hul klere en die wasgoedmandjie. Iewers het die klompie besluit dat ek ten alle tye besig gehou moet word. Ledigheid is die duiwel se oorkussing.

Die klere loop sommer self na die mandjie toe. Skoon, vuil of iewers tussen-in, maak nie saak nie. Hemel behoed dat húlle die swak skakel in die ketting moet wees. My huismense glo dat hulle direkte nasate van ‘n koningshuis is. Elke uitrusting word net een keer gedra. Dit sal nie deug om twee keer na mekaar dieselfde paar jeans te dra nie. Ek moet erken dat dit veral Laatlam is wat die skuldige in die tragiese verloop van gebeure is.

Die wasgoedmandjie identifiseer as die Bybelse weduwee se kruik. Die leë bodem daarvan het ek nog selde, indien ooit, gesien. Ook is daar geen vrugbaarder teelaarde as die binnekant van die mandjie nie. Ek daag jou uit! Los ‘n paar stukkies klere, sonder toesig, oornag in die mandjie. Sonder uitsondering teel die paar goedjies aan tot ‘n bondel van epidermiese proporsie. 

Die volgende uitdaging kom wanneer jy die oorvol mandjie tot by die wasmasjien gesleep het. Dan moet alles volgens materiaal en kleur sorteer word. Ek steur my nie veel aan dié stap nie – solank al die witgoed net alleen gewas word. ‘n Paar ongelukkies in dié verband het my oortuig dat geen ander kleur saam met wit gewas mag word nie. Nie eers beige, wat op die kleurkaart bitter naby aan wit is nie. Geen uitsondering word toegelaat nie!

Die wasproses self verloop meestal glad. Behalwe, as jy verveeld raak met die takie en te veel klere in die wasmajien prop.Jy mag dan dalk die wasmasjien moet vasvat in ‘n doodsgreep om te keer dat dit die huis vol hop. Of as jy die raad van ‘n vriendin effentjies verkeerd verstaan het. Oёnskynlik kan jy nie ‘n blokkie skottelgoedwasser-seep, saam met lepelsvol Sunlight skottelgoedseep, in die wasmasjien gooi om skoolsokkies spierwit te kry nie. Die sokkies mag dalk wit wees, maar jy sal dit nie kan opspoor tussen die berge skuim wat by die deur uitborrel nie.

Die laaste en moeilikste deel van die wassery is om die skoon wasgoed op te hang. Ongelukkig val ek nie in die groep mense wat geseënd is met lengte nie. Dit vat ‘n redelike gerek en gestrek om by die wasgoedlyn uit te kom. Teen die tyd wat die derde kledingstuk hang is my arms lam, my bloeddruk te laag en my suikertelling in die minus. 

Ten spyte van dit alles, probeer ek nog steeds om die taak  blymoedig te verrig. Ek sug en kreun onophoudelik – maar ek hang die verditse klere op.

Die ding wat my karakter en persoonlikheid gebreek het, is die Weskuswind. Glo my, niks kan ‘n Pretorianer voorberei op hierdie natuurkrag nie. Ek het totaal onkundig die stryd aangepak. Van wasgoed ophang aan die Weskus het ek niks geweet nie. Eers moes ek die kledingstuk stoei tot op die wasgoedlyn. Dit was my laaste samehangende gedagte…

My hare het soos Medusa sin in die lug opgestyg. Behalwe dit was nie slange nie, maar swaarde. En dit het my oë gesteek totdat ek niks deur die trane kon sien nie. Ek het dapper probeer om die hemp voel-voel vas te steek, maar toe ruk die wind my rok bo-oor my kop. Dit was tóé dat totale paniek oorgeneem het.  As ek die hemp los, waai dit tot in sy Oosterse land van herkoms. Keer ek my hare uit my oë, versmoor ek in my rok wat nou dreigend om my kop draai.

Dit was terwyl ek vir my lewe baklei het, wat my brein my vriendelik daaraan herinner dat ons buurman ‘n tuindienste-besigheid het. Wat as die man vandag in sy eie tuin doenig is? Hy sal sy oë met heilige water moet uitspoel nadat hy hierdie spektakel aanskou het. The good, the bad and the ugly! Ek kan nie eers vir seker weet of my onnoembares darem heel is nie. Die skande!

Dit was in daardie oomblik dat ek my lewenskeuses heroorweeg het. Nie almal is wasgoed-ninjas nie. Sommiges van ons is net bedoel om klere te dra – nat as dit moet! Ek hét probeer. Twee keer. Eerlikwaar. Elke keer het ‘n stukkie van my hemelse blydskap in die slag gebly. Manlief hang nou die wasgoed op…