“A rose, by any other name, would smell as sweet…”, so verseker Juliet haar geliefde Romeo. Dat hy dieselfde naam dra as haar familie se aartsvyande, die Montague’s, bepaal nie wie hy as mens is nie. Sy familienaam plaas hom nie outomaties in dieselfde kamp as die vyand nie. Inderdaad vra Shakespeare vir sy gehoor, “What is in a name?” ‘n Naam is slegs ‘n konvensie om mense en dinge van mekaar te onderskei. ‘n Naam insigself het geen waarde of betekenis nie. Of het dit?
Wel, as jy my skoonma se opinie glo, bepaal jou naam jou plek in die familie. ‘n Kind word gebore met ‘n naam, net ‘n hond kry ‘n naam – aldus haar. Johanna, Jakoba, Katarina, die volksmoeder ses geslagte terug moet vereer word. Dit is ‘n gegewe dat elke oudste dogter wat gebore word hierdie name kry. Dit is nie ‘n keuse nie, dit is ‘n plig. Dit maak nie saak dat die arme bloedjie verdoem word tot ‘n lewe van krom skouers omdat sy so swaar dra aan haar lys name nie. Dit is hoe dit is.
En behoede jou en jou nageslag indien jy dit durf waag om van hierdie tradisie af te wyk. Jou blinkoog-baba, met haar splinternuwe naam, word summier in die familie-anale ontken, ouma Wilhelmina draai in haar graf om en skoonma onteien jou dogters.
Shakespeare mag miskien die helfde van die Engelse woordeskat geskep het, maar in die hele naamstorie is hy verkeerd. Daar steek baie meer in ‘n naam as net ‘n term om een persoon van ‘n ander te onderskei. Ook skoonma, met haar familiename, versterk my punt. Dit is tussen haar en Shakespeare dat volwassenes opgesaal is met name soos: Klein-Gert, Vet-Gert, Rooi-Gert, Vet-Gert, Lang-Gert. Want hoe anders moet ons onderskei tussen die klomp Gerharde in die familie?
Ek beskou myself ook as voorbeeld. As oudste dogter was dit my lot om vernoem te word na al my vroulike voorsate. Goeie vroue, almal van hulle, ek is seker. Maar…Ek ken nie een van hulle nie. Ek het nie een van hulle ooit ontmoet nie. Het hierdie lys name enige betekenis tot my lewe bygevoeg? Nee, glad nie. Ek word nie eers op enige van my doopname genoem nie. (Dankie tog vir klein genades!) Het ek darem iets ge-erf as draer van hierdie gewigtige name? Nie ‘n dooie duit nie. Wel, miskien my wipperige houding. En dat ek baie klein kan skryf. Die amptelike lyntjie waarop jy gereeld al jou name moet invul, is ook net só lank.
Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is ‘n sterk voorstaander van betekenisvolle name. Jou naam onderskei jou nie net van ander mense nie, dit is verteenwoordigend van wie jy is. Ek glo dat ‘n naam krag dra – negatief of positief. Daarom toe ons twee dogtertjies gebore is, was ‘n lang lys familiename nie eers ‘n opsie nie. Ons kon besluit wat oor hulle uitgespreek word met elke noem van hul name. ‘n Belofte, of ‘n seёn, wat onbewustelik uitgespreek word met elke roep van hulle name.
Net ėėn naam, sodat hulle hulself duidelik kon identifiseer op daardie tė kort lyntjie. Kort en kragtig kan hulle verklaar: Dit is wie ek is. Ek is uniek. Daar is niemand anders soos ek nie.