Die laaste ruk verskyn daar gereeld advertensies van rond gevormde vroue op my sosiale media. Almal van hulle is asemloos van opgewondenheid oor die nuwe lyfkous wat jou weer dieselfde figuur as in jou jonger jare gee.
Hulle ruk die pakkie oop, wat aanlyn bestel is, en hou dan die lyfkous ongelowig voor hul lyf. Dit lyk soos Barbie se leotard. Natuurlik is jy, die kyker, ook vol ongeloof. Daar is geen manier waarop dié Dolla in daardie nommertjie gaan pas nie. Maar gelukkig vir ons is die model vreesloos en skaamteloos. Sy sal deur hierdie oefening gaan, sodat jy nie hoef nie! ‘n Vinnige verskuiwing van die kamerahoek en voila! Dikkerige Dolla is met al haar ekstratjies in die lyfkous. ‘n Uurglas-figuur en al. ‘n Hedendaagse wonderwerk. Self haar jeans wat te klein was, hang nou soos ‘n sak aan haar.
Wat die Dolla jou nié wys nie, is presies hoe sy in die nommertjie gekom het. Laat ek jou sommer vertel, sodat jy nie self hoef te probeer nie…
Eerstens kort jy ‘n medepligtige wat saam met jou die winkels kan trotseer – verkieslik nie ‘n laatlam wat met haar lippies op ‘n plooi getrek jou reghelp met die korrekte terminologie nie. (Alleen sal die honderde opsies jou net oorweldig en verwar.) Laatlam laat my wel dom saam met die dik voel, maar mens kan nie kieskeurig wees as daar ‘n tekort aan beskikbare kamerade is nie.
Tweedens: Moet onder géén omstandighede die moontlike aankopie in die winkel probeer aanpas nie. Die rede hiervoor sal binnekort vir jou duidelik word. Jy gryp jou aankope, maak klaar in die winkels en laat spaander vir die privaatheid en veiligheid van jou huis.
Derdens: Ter wille van jou selfrespek druk jou pakkie vinnig in ‘n laai totdat jy dit benodig. Daar is geen rede waarom Manlief hiervan moet weet nie. Dit is beter dat sekere illusies behoue bly.
Kort voor lank sal die dag aanbreek waarop die lyfkous uitgetoets moet word. In my geval was dit ‘n gemeentebraai wat ek, volgens Manlief, móét bywoon. Die nuwe groen rok in my kas word uitgehaal. Die een wat my so herinner aan my jonger, veel slanker, self. Die een wat effens knap is, maar wat perfek gaan sit met die hulp van my nuwe aankopie.
Vierdens: Moet onder geen omstandighede stort voordat jy die knellende ding probeer aantrek nie. Dit is ‘n fatale fout – tensy jy jou hele lyf vol poeier gooi om enige sweempie van klammigheid te absorbeer. Dit was my eerste fout…
My tweede fout was om dit alleen te probeer aantrek. Dit raak seker met oefening, maar vir ‘n leek is dit nag. Die bra-gedeelte het maklik genoeg oor my kop gekom. Maar toe frommel die ding op oor my blaaie. Dit is asof jy vasgemaak is in daardie wit harnas waarmee psigiatriese instellings weerbarstige pasiёnte onder beheer bring. Stel jou Hannibal Lecter, met sy arms styf voor sy lyf vasgemaak, voor. My arms is so vasgeklem dat ek om den dood nie agter my rug kan bykom nie.
Ek skree sagkens vir Laatlam om my te kom red. Vreesbevange dat Manlief my gaan hoor en op hierdie onwaardige prentjie gaan instap. Tot Laatlam se krediet het sy sonder om te lag, of om ‘n woord te sê, my kom help. Sy word summier uit die kamer geboender voordat ek my selfopgelegde marteling voortsit.
Vyfdens: Maak seker dat jy iets het om aan vas te hou voordat jy die lyfkousdeel aantrek. My derde fout was om my balans en soepelheid te oorskat. Jy kan nie altwee jou voete in die ding druk en dan optrek soos ‘n broek nie. Onthou, die ding is Barbie-grootte. So, jy steek eers een voet in en dan moet jy dit so hoog as moontlik optrek. Tot op hierdie stadium is dit redelik maklik. Ek was heel in my skik dat dinge mooi glad verloop na die aanvanklike struikelblok.
Sesdens: Moenie jouself té gou gelukwens nie. Ek staan nou met die lyfkous to bo-aan my een been getrek. Nou moet ek my ander voet optel om been nommer twee in te forseer. Tensy jy familie van ‘n flamink is, is dit bykans onmoontlik om jou balans te hou. Gelukkig was die kas naby genoeg om my val te keer. Met een hand op die kasdeur vir balans, een voet op die grond en die ander voet hoog in die lug, moet jy dan met die oorblywende hand probeer om die lyfkous hoog genoeg op te trek, totdat jy met albei voete op die grond kan staan. Dis moeilik. Baie moeilik. Jy moet sterk wees, want jy moet met al jou krag trek en stoei om die ding hoog genoeg op te trek.
Uiteindelik is albei my voete op die grond. Ek is sopnat gesweet. Dan begin die gewriemel en getrek om my volle self in Barbie se leotard te kry. Wees gerus, net wanneer ales swart word om jou en die wêreld begin kantel, is die ding aan. Toemaries, moenie bekommer wees omdat jy lighoofdig voel nie, dit is nie ‘n gebrek aan suurstof nie. Jy is maar net lighoofdig van verligting!
Ek het die groen rokkie vol selfvertroue oor my kop gegooi, die gordel netjies om my middel geknoop. Asemloos van opgewondenheid het ek na die spieël gedraai om hallo te sê vir my slanker self…Smart der smarte! Ek lyk glad nie soos Barbie in ‘n groen rokkie nie. Soos deur die dikkerige Dollas belowe wys daar wel geen rolletjies nie. Die rolletjies is nou saamgepers in een groot rol! Soos ‘n vet opgestopte worsie. Van ‘n uurglas-middeltjie is daar geen sig nie. Ek is verslae.
Teen dié tyd het Manlief al in die kar gesit en toeter blaas. Ons is laat. Daar is nie tyd om weer uit die ding te worstel nie.
Ek het die braai glad nie geniet nie. Behalwe dat ek selfbewus was, moes ek die hele tyd kiertsregop op ‘n stoel sit. Die lyfkneller laat geen ander beweging toe nie. My hande was netjies op my skoot gevou, soos ‘n skooljuffrou sin, om die rok se pante te keer van ‘n onbehoorlike gapery. Almal het gedink my rooi wange was die son se skuld, maar ek het geweet dat dit weens ‘n tekort aan suurstof was.
Dus, my liefste vriendinne, beveel ek aan dat jy alle advertensies van dikkerige Dollas en hul wonderwerk lyfkouse, soos die swart pes vermy. Lyfkouse is deur die duiwel se bloedsussie ontwerp om gewone vroue na die randjie van selfhaat en kranksinnigheid te dryf. Moet jou nie laat mislei nie. Omhels jou kurwes! Vier jou vrou-wees in alle vorme!