Vreugde-apnee

* Slaap-apnee = Jy hou op asemhaal terwyl jy slaap.

Ek bekyk die wêreld rondom my en die uitsig maak my bekommerd. Strak gesigte. Oё op die grond. Skouers wat hang. Is dit tipiese einde-van-die-jaar-moegheid, of het die lewe die laaste bietjie vreugde uit ons gepers?

Vir baie van ons was die afgelope jaar moeilik. Gesaai met struikelblokke wat sedert 2020 aan die opbou was. Dit voel vir my asof ons / ek van krisis tot krisis leef. Skaars is die berg geklim, of jy sien dat jy eintlik net op ‘n plato staan. Die res van die berg toring soos Everest voor jou. Is dit nie genoeg om die laaste vonkie van vreugde te blus nie? Wie van ons kan bly staan as die vreugdestelers meedoёnloos is?

Ek dink miskien lê die antwoord nie voor ons nie, maar binne-in ons. Die oplossing kan nie meer wees wáár ek vreugde vind nie, maar eerder waarín.

‘n Rukkie gelede staan ek voor ons skaars gepopuleerde yskas. Die inwoners van die koue ruimte lyk asof hulle almal asosiaal is – elkeen in sy eie hoekie. Die koskas lyk nie veel beter nie. En ek moet erken…Die paraatheid en vindingrykheid van my Voortrekkermoeders het my beslis oorgeslaan. Selfs met oorgenoeg bestandele bly kosmaak vir my ‘n uitdaging. Die gedagte van iets skep uit niks, laat my in koue sweet uitslaan. Maar nie vir Nomu nie…

Nomu, met haar sagte gees, vra of sy die oorskietkos mag saamneem huis toe. Natuurlik mag sy, maar dit is beswaarlik genoeg bredie vir een mens – laat staan ‘n gesin van drie. Nomu lag vir my. Natuurlik kan sy haar gesin daarmee voed. Weet ek dan nie dat jy die sous en bietjies vleis kan rek nie? Het my ma my niks geleer nie? Vreugde en blydskap want vanaand het sy kos op die tafel vir haar gesin. Môre is nie vandag se bekommernis nie.

Twee voertuie per gesin was nog altyd deel van my normaal. Die nuwe normaal is die frustrasie van een voertuig in ‘n gesin, wanneer elkeen ‘n eie koers het om in te slaan. Erger as die frustrasie, is die drakoniese prys van diesel. Roetes word haarfyn beplan tot op die laaste druppel in die tenk. Weё jou as jy ‘n meter na links of regs afwyk. Voetslaan is jou voorland. In die donker ook nog as ESKOM die af-knoppie druk.

Nomu vra of sy mag saam ry dorp toe as ek die kinders by die skool gaan haal. Die taxi’s staak al weer. Nugter weet waarom. Vir mense wat afhanklik is van daardie verslete sitplek, is daar geen genade nie. Geen verlies aan inkomste of matrieks wat eksamen moet skryf, gaan verhinder dat elke liewe taxibestuurder deel neem aan ons land se nasionale sport nie. 

“Laai my sommer voor die OK af. Hierdie pad loop reguit na my huis toe.” Nomu sit reg met haar handsak op haar skoot. “Dit is nie nodig dat jy moet in ry nie.” 

Ek weet hoe ver dit nog na haar huis toe is. Met een oog op die petrolliggie wat reeds skalks glimlag, bied ek aan om haar by haar huis te gaan aflaai. Hoop ek in my hart dat sy weier?

“Nee wat. Kyk, ons is vandag saam in die moeilikheid!” Hand op die deur beduie sy met haar kop na die twee vrouens wat op die sypaadjie staan. “Ons loop sommer saam.” Met ‘n waai en ‘n lag sluit sy by haar twee susters-in-nood aan. Koppe omhoog, helder kletsende stemme loop hulle voor my kar verby. Stakende taxi’s is nie ‘n berg nie. Dis nie eens ‘n molshopie nie.

Nomu leer my elke dag dat regte vreugde en blydskap van binne myself moet kom. Dit is nie ware, egte vrede wat aan apnee ly nie – dit is ek wat ophou asem gee aan dit wat vir my vreugde bring. Dit is ek wat ophou skryf omdat ek my bekommer oor aardse dinge. Dit is ek wat my geliefdes wegstoot omdat ek ontoereikend voel. Dit is ek wat weier om oopmond vir die lewe te lag. Dit is ek wat my vreugde versmoor.