Ons gesin was nog altyd lief vir enige bord- en kaartspeletjies. In my naïwiteit as ‘n jong ma het ek gedink dat dit ‘n goeie manier is om stewige gesinsbande te smee. Goeie, gesonde ontspanning. Reg?
Verkeerd!
Daar is niks ontspannend aangaande speletjies met die Greylings nie. (Onthou asb. dat ek ‘n aangetroude Greyling is.) ‘n Speletjie is nie suksesvol tensy Oudste Dogter wegstorm met: “Ek speel nie meer saam met julle spul kroekers nie!” Teen daardie tyd is Middelste Dogter se gesiggie al bloedrooi van woede vir die spul kroekers. (Haar middelnaam is Aggressie…) Laatlam laat haar nie intimideer nie – sy en Manlief ís die kroekers.
Ek blameer Manlief vir hierdie betreurenswaardige situasie. Êrens is daar by hom ingeprent dat wen die enigste uitkoms van enige spel is. Of dit nou ‘n Springbok-wedstryd is, of kaartspeel met die dogters – wen moet hy wen. Ek dra die littekens van sy onbeheerbare drang na wen tot vandag toe aan my lyf. (Dink driebeen-resies om ‘n swembad vasgetou aan Manlief…)
Mens sal dink dat die ouderdom hierdie “do or die” houding van Manlief al bietjie getem het…maar…nee…
Met Oudste Dogter en Middelste Dogter al uit die nes, het manlief net vir hom nuwe maatjies gekry om mee te speel. Veerpyltjies speel op ons stoepie was sy nuwe spel tot wêreldoorheersing.
Eers word Twinsie (Manlief sê ons tweetjies is uit dieselfde voortvarende, bakleierige patroon gesny.) en Rein-van-hart verlok om saam te speel. Sonder om ‘n oog te knip organiseer Manlief ons in twee groepe: Mans teen die vroue. ‘n Onskuldige, selfs logiese, indeling mag jy dink. Ha! Manlief weet dat ek in ekstase is as ek net die bord kan raakgooi. (Ek weet sommer dat my bloed-eie ma, ‘n voormalige Noord-Transvaal veerpyltjiekampioen, haar oë vir my rol vanuit die hemel waar sy tans woon.) Twinsie is piepklein en Manlief het met die eerste oogopslag haar ge-evalueer as te kort om die bord by te kom. Die kompetisie was minimaal.
Nodeloos om te sê dat tussen Manlief en Rein-van-hart, wat ‘n bobaas speler bleik te wees, het die uwe en Twinsie nog nooit ‘n spel gewen nie.
En toe daag Vonkeloog en Fris Flash op. Manlief se oë glinster. Hy ruik vars bloed. Die spanne word ingedeel. Mans teen vrouens. Hy proe die oorwinning sommer klaar op sy tong.
Wat ‘n verrassing het op ons albei gewag!
Vonkeloog is ‘n blonde, langbeen Viking. Van verloor verstaan sy net so min soos Manlief. Sy het rustigies begin. My onbeholpenheid goed uitgekyk vir ‘n volle twintig minute. Toe skop haar wendrang met mening in.
Ek word summier onderwerp aan broodnodige opleiding, sommer so tussen die speel deur. Lig jou elmboog op. Gooi net met jou pols. Alles in ‘n mooi kalm, bemoedigende stem.
Manlief grynslag.
Ek sweet.
Vonkeloog bly vasberade.
Ons verloor net-net.
Nou kan ons eet. Reg? Verkeerd! Het ek al genoem dat Vonkeloog nie graag verloor nie? Sy verklaar oorlog. Ons moet dadelik weer speel.
My hart gaan staan.
Manlief aanvaar die uitdaging met entoesiasme.
Fris Flash lyk erg verveeld.
Die spel begin. Alle grappies is nou op ‘n stokkie. Vonkeloog is nou gefokus. Ek weet van beter as om nou te kla dat my arm lam is. Vonkeloog vereis niks minder as my heel beste nie. Ek bid verbete dat ons asseblief toggies hierdie keer moet wen, anders gaan die aand oneindig lank wees. Opgee en oorgee is nie ‘n opsie nie.
Ek is dankbaar om te rapporteer dat Manlief, na al die jare, sy Moses teëgekom het. Ons wen die spel – of dit my gebed, of Vonkeloog se vasberadenheid en deursettingsvermoë is, is nie nou ter sprake nie…Ons het gewen. Ons kan maar eet.
Kan ons asseblief van nou af eerder kaart speel?