So elke nou en dan moet mens op die randjie van gevaar leef. Jou kop figuurlik in ‘n byenes steek. Die wat weet sê dat die gevoel van vryvloeiende angs jou lewendig laat voel. So…kom ek toets hierdie teorie…
Mense se beheptheid met selfies is ‘n teken van die narsistiese tyd waarin ons leef. Selfliefde en ‘n opgeblaasde gevoel van eiewaarde het ‘n stortvloed van selfies tot gevolg. Daar. Ek het dit gesê. Iemand moes!
My standpunt het niks met my eie kamerasku-self te doen nie. Dalk het dit? Ek weet nie. Ek is seker daar is ander vrouens wat ook al ‘n wel-geleefde lewe van oppe en affe agter die rug het, wat ook hiperkrities na hulself op ‘n foto kyk. Dubbel-kenne, vetrolle, plooie en grys hare kla my aan vanuit elke foto.
Die laaste foto van myself waamee ek geen fout vind nie, is my en manlief se troufoto. Dit wys ‘n stralende bruid, propvol optimisme vir ‘n hoopvolle toekoms. Selfs ‘n blinde kan die liefde sien wat soos ‘n helder stralekrans om ons hang. Selfs na dertig jaar raak ek nooit moeg om daarna te kyk nie. Dit is so ‘n eerlike foto. Geen spesiale effekte nie. Geen ‘glamour’ filters nie. Net ons. ‘n Kosbare oomblik vasgevang op papier. Volgens my, is dít die rede waarom ons foto’s moet neem. Om onsself, en ons geliefdes, te herinner aan daardie goue oomblikke wanneer die soms swaar tye op ons skouers kom nesskop.
En dit is presies net hier waar my hekel aan selfies vandaan kom. ‘n Rukkie gelede blaai ek deur my sosiale netwerkplatforms. (Ek erken ek doen dit omdat ek nuuskierig is oor wat in ander mense se lewens aangaan.) Maar in plaas van stories oor ‘n spesifieke persoon, verskyn daar net ‘n rits selfies. Ek herken die beeldskone wese net aan haar naam by die foto’s. Eers toe kon ek vaagweg trekke van die oorspronklike persoon raaksien.
Eers het ek gedink dit is net ‘n oomblik van waansin aan die selfie-persoon se kant. Nuuskierigheid om al die filmster-filters te beproef. Maar, helaas. Die gedokterde selfies verskyn daagliks, een na die ander, in al hul onnatuurlike glorie. Weg is die natuurlike vrou met al haar perfekte tekortkominge. Weg is die deel van haar goue, hoewel onvolmaakte, oomblikke. Weg is die deel van ‘n ongebonde lewe waar volmaaktheid nie aan hierdie kant van die hemel te vinde is nie.
In die plek daarvan het net die leuen oorgebly. Die lieg uit die diepste dele van die hel dat nét die (plastiek) volmaakte beeld aanvaarbaar is. Ek lieg vir ander oor wie ek is – onaanvaarbaar. Nog erger, ek lieg vir myself – ondenkbaar! Obsessief word gedokterde selfies op sosiale media geplaas om myself, en ander, daagliks te herinner aan hoe perfek ek is. Hoe meer ek selfies neem, hoe meer moet ek dit dokter, hoe meer raak ek verlief op hierdie skynbeeld. Ek verloor myself. Ek weet nie meer wat ‘n goue oomblik is nie.
In die Griekse mitologie het Narcissus op sy eie weerkaatsing verlief geraak, en ons weet almal hoe die tragiese verhaal geëindig het. Wees dus gewaarsku liewe patologiese selfie-nemers!