Omsingel deur vroue!

Manlief is al vir die afgelope dertig jaar van ons getroude lewe omsingel deur vroue. “Omsingel” is eintlik eufemisties gestel. ʼn Meer akkurate beskrywing is “binnegeval”, “oorrompel” en “weerloos gelaat”. Dit klink dalk vir enige man soos hemel op aarde, maar lees eers hier en besluit dán!

Eers trou hy met my – ʼn selferkende aandagvraat. Moet nou nie begin raad gee en huweliksberaders aanbeveel nie. Ek hoef nie elke minuut en sekonde van elke dag aan hom vasgeplak te wees nie. Dit is ongesond! Hy moet net ten alle tye beskikbaar wees wanneer ek uit my kop klim om asem te skep. Niemand anders verstaan my ingewikkelde verhouding met myself so goed soos hy nie. Dus … hy móét gereed wees om my te red van myself.

Toe kom dogter nommer een, nommer twee en laatlam nommer drie. Die beleëring van Vesting Manlief is deur ons nasate voortgesit en suksesvol voltooi. Die arme man het geen kans gestaan nie. Nie eens die koms van troeteldiere in ons huishouding kon sy manlike posisie effens versterk nie. Die noodlot het veroorsaak dat bykans net tefies (Ja, ja, ek hoor sommer hoe maak al die manlike lesers nou opmerkings oor tewe en hul dinge.) hulle weg na ons huis gevind het. Die enigste reuntjie wat deur die vroulike oormag verdra word se hysbak ry nie heeltemal tot bo nie. Siestog!

Een kyk in oudste dogter se spieëlbeeldogies en Manlief was verlore. Sy lot is verseël, ʼn dogtertjie-pappa is gebore. ʼn Dekade of twee later het nog niks daaraan verander nie. Pappa se opinie is die een wat tel. Of die opinie en raad altyd gevolg word, is debatteerbaar. Oudste bly al in haar eie huis, maar Pappa bly nog steeds “Bob, the builder” wat goeters moet regmaak, want “die dogters kan nie so sukkel nie.” As dit beteken dat hy met seer knieë en ʼn slegte rug oor ʼn hoë muur moet klim om by die weggesteekte huissleutel te kom, dan is dit nou maar só! Wee dan die een (Dis nou ek of Laatlam!) wat lag en die bewys van sy toewyding op video vaslê …

Dogter nommer twee het hom vir altyd oortuig dat hy nie seuns nodig het nie. Met haar kordate houdinkie het sy hom in alles nageaap. As Pappa ʼn das dra, dan wil sy ook. As Pappa gras sny, ry sy saam op sy skouers. Jaloers het sy sy aandag geskaak, want hy was nét hare. Dat dogter nommer twee nou ʼn selfstandige, uiters bekwame, jong vrou is, sit nie lekker in Pappa se gemoed nie. Hy het immers nog tonne raad en bystand om te gee …

Dit is eintlik die onverwagte arrivering van Laatlam wat die finale spyker in die doodskis van Manlief se wankelrige manlike dominansie was. Die vroulike oorhand was nou net te groot. Voeg daarby dat ons nou al aan die effe ouer kant is, en jy sal verstaan dat Laatlam se jeugdige voortvarendheid met gedweë aanvaarding begroet is.

Nou is Manlief selektief met die veldslae wat hy stry, sodat hy hopelik die oorlog kan wen. Die vrouens in sy lewe glimlag net en laat hom glo dat hy kán …