Nuwe begin.

Wanneer is mens te oud vir ‘n nuwe begin? Is daar ‘n afsnypunt waar ‘n mens kan sê:”Aikona, nuut begin is nie meer vir my nie.” Want ek wil dan graag aansoek doen – my rakleeftyd vir wilde veranderinge is verby. Ek is meer as reg vir ewigdurende handhawing van die status quo.

Dit is nie dat ek en Manlief al oud is nie – ons nader nou eers ons middel-vyftigs – dis net dat die altyd gewillige gees se vlees nou begin kapsie maak teen enigiets wat meer inspanning verg as ‘n uitstappie van die rusbank na die yskas toe.

Maar dan gooi die lewe ‘n draaibal en ‘n nuwe begin hamer aan die deur. Vir die tweede keer in twee jaar moet ons verhuis. Toegegee, hierdie trek is ‘n Sondagskoolpiekniek in vergelyking met twee jaar terug toe ons oor die lengte van die land getrek het. Hierdie keer was afstand geen kwessie nie, want ons trek net drie huise in die straat af. Of só sal ‘n mens dink…

Die alleswetende ‘hulle’ beweer dat ‘n verandering net so goed soos ‘n vakansie is. ‘Hulle’ eet skille (van die soort wat hallusinasies veroorsaak) as jy my vra. ‘Hulle’ weet nie waarvan hulle praat nie. ‘Hulle’ is seker almal in hul fikse twintigs. ‘Hulle’ grootste trek was in hulle ouerhuis tussen hul bed en die kombuis. ‘Hulle’ ma het al hulle goedjies gepak vir ‘hulle’ eerste trek uit die huis uit. Laat ek jou vertel, dis ‘n trek van ‘n ander kleur as jy huis en haard moet oppak.

Hoe ek ookal vasgeskop het, trek moes ons trek. Ter wille van Manlief se gesondheid en my eie sieleheil. ‘n Huis, minder as ‘n katspoegie van die rotse en branders af, is net idillies totdat die klammigheid en muf dreig om ‘n vyandige oorname te orkestreer. Manlief hoes en proes, ek skrop en disinfekteer, maar na alles moet ons ons nederlaag erken. 

Soos ek gesê het, die nuwe huis is net te ver om te loop, maar te naby om te ry. Volgens Manlief is hierdie trekkery geen probleem nie. (Ek moet tog nie so negatief wees nie.) Daar is net ‘n paar uitdagings wat ons in ‘n japtrap sal baasraak. 

Uitdaging een: Die nuwe nessie is net ‘n holte vir ons moёe, stukkende voete vir die volgende tien weke totdat ons permanente nessie beskikbaar is. Ook is die nuwe, luukse nes ten volle gemeubileer – van teelepel tot lewensgrootte televisiestel. Fantasties? Miskien. Dit bring my by die uitdaging; ons huis en haard moet tydelik gestoor word. Steeds nog geen probleem nie? Moenie so seker van jou saak wees nie. Ek voel dat ons die tydelike nes as ‘n vakansiehuis moet beskou – ons stoor alles en vat net ons klere saam. (Let wel! Nét die klere wat jy nog dra. Nie die bêre-vir-eendag-as-ek-weer-maer-is nie. Ook nie jou matriekbaadjie en weermag Browns nie.) Manlief en dogter is tot in hulle beendere geskok oor hierdie banale beperking. Hulle noodsaaklikhede vir ‘n dag-tot-dag bestaan uit baie meer as net ‘n paar flentertjies klere. Ek het seker met my kop in ‘n trek gelê toe ek hierdie vereiste uitgedink het.

Dit bring my by die volgende uitdaging. Die ander twee lede van my gesin, nou lekker dikbek, weier om te verstaan dat elke liewe noodsaaklikheid wat hulle wil saambring na die nuwe nes weer ingepak én gestoor moet word vir die laaste twee weke in Desember. Dan kom die huiseienaars vakansie hou in hul lieflike vakansiehuis. Ons en ons noodsaaklikhede vorm nie deel van hul vakansieplanne nie. Ook nie ons drie katte en twee honde nie. Bedaar mense! Die vierpotige lede van die gesin word darem nie gestoor nie, hulle word in ‘n diere-hotel ingeboek. Vir amper dieselfde prys as ‘n mense-hotel. 

Die hoofuitdaging kom van Manlief self se kant af. Hy glo diep in sy hart dat ons gesinnetjie self die trekkery kan behartig. Die onbetaamlike pryse van ‘n meubelvervoerwa is genoeg van ‘n motivering om sommer die yskas op jou rug te gooi en straat-af te dra. Hemele val op my. Berge bedek my. Ons doen dit sommer self, sê die man. Met gekrokte lywe, spierspasmas in elke moontlike spier, bewolkte gemoedere (Goed dan – net my gemoed is nagdonker!), en ‘n gemurmureer onder die troepe pak ons die uittog self aan.

Dit vat ‘n hele sewe dae om die pak-, stoor- en aanry-operasie af te handel. In hierdie stadium voel my lyf ook ‘afgehandel’. My vleeslike en geestelike gereedheid vir ons nuwe begin het al op dag drie gesneuwel. Skuim vorm om my mondhoeke as enigiemand dit waag om iets van veranderinge en vakansies te sê. Manlief raak doodstil en sit swygsaam skouer aan die wiel. Dogter sluit haar toe in haar nuwe kamer voordat sy gevra word om nog een ding aan te dra, weg te pak, of op te laai. 

Genadiglik is daar altyd ‘n reёnboog aan die einde van storm. Met ‘n lyf wat tekens toon van herstel, kan ek saam met Manlief dankbaar wees vir hierdie nuwe begin. Wie kan nog sê dat hulle vir amper drie maande in luukse omstandighede kan ‘vakansie’ hou? In ‘n mufvrye huis, ‘n Goddelike uitsig en dankbaarheid in my hart kan ek agteroorsit en ‘n glasie klink op ‘n nuwe begin. Die uitdagings was miskien nie in ‘n japtrap opgelos nie, maar die uitkoms is onverdiende genade.