Stroperige soetsappigheid staan my nie aan nie. Veral nie op sosiale media nie. Ek het ‘n kleintjie dood aan lewensmaats wat op ‘n openbare forum hul ewigdurende liefde aan mekaar uitbasuin. Komaan! Jy het dit ook al gesien: “My liefste Poeksie-Woepsie, ek sal jou liefhê totdat die aarde ophou draai. Jy maak my knieë lam.” …myne ook – van uiterste irritasie. Ek vra jou met trane in my oë, waar in die wêreld bevind liefste Poeksie-Woepsie hom / haar dat jy jou bewondering nie sommer direk (in privaatheid) kan oordra nie?
Toe gebeur die ondenklike – ek hoor ‘n liedjie van Nadine en Dozi op die radio, ‘Toe die engel aan die water raak’. En nét daar tref dertig jaar se onderdrukte stroperigheid my soos ‘n taai tsoenami. Die lirieke slaan my asem weg. Dit raak my hart en maak dit propvol, want elke woord resoneer met my. Wie sou dit nou kon dink?
Een-en-dertig jaar terug het ook ek aan my Pa ‘n bedelbrief gestuur. Nogals heel spesifiek ook. Hy moet asseblief donker hare en blou oë hê. Hy moet beslis geestelik sterker as ek wees, sodat ek in sy voetspore kan trap. Ek erken geredelik dat ek inherent ‘n pasifis is en soms saamgesleep sal moet word.
Soos Nadine, het ek my Pa gevra vir ‘n ribbekas waarin ek perfek sal pas. Bitter min van ons arriveer in ons volwasse lewe sonder enige seerplekke en littekens. Baie van ons raak verknog aan al hierdie bagasie wat ons moeitevol saamdra. My Pa sou Sy storie moes ken om ons legkaartstukke inmekaar te laat pas.
Minder as ‘n jaar later het ek voor die kansel gestaan met die antwoord op my bedelbrief. Niemand was meer verbaas as ek nie. Ek is seker dat my Pa moes meet en pas aan my flentersiel, totdat Hy met Sy waterpas my perfek in Manlief se ribbekas kon pas.
Is alles perfek in hierdie pasgemaakte verhouding? Natuurlik nie. Die rib het ‘n wil van haar eie. Sy wil nie vasgedruk voel in haar ribbekas nie. Sy is fynbesnaard en liggeraak. Sy kan haar stert blitsig in ‘n krul wip.
Ek is seker julle het ook al gehoor van egpare wat dekades lank getroud is, wat sê dat hulle nog nooit aan egskeiding gedink het nie – wel aan moord. Ek kan nie saampraat nie. My gunsteling genre in films en literatuur is moord en dood. Daar bestaan nie ‘n CSI – televisieprogram wat ek nog nie gekyk het nie. Ek weet dus presies hoe moeilik dit is om met moord weg te kom. Moord is nie ‘n opsie nie. Ook is ek oneindig lief vir my ribbekas, ek hou net nie altyd so baie van hom nie. Nee, dood wil ek hom beslis nie hê nie. Somtyds wil ek net met mag en mening uit my ribbekas klim. Ek oortuig myself dat ek in die verkeerde ribbekas geplant is. Dat hierdie ribbetjie geen ribbekas nodig het nie…
Maar ‘n ribbekas wat afgemeet en afgeskaaf is, waterpas gemaak is, kán nie ontrou aan sy roeping wees nie. Hy is gebeitel totdat hy die perfekte tuiste vir sy rib is. Hy is gemaak om ‘n veilige vesting te wees, om te versorg, om standvastig te wees. Hy kan nie anders as om ‘n weerbarstige rib vas te hou en lief te hê nie. Sy word nie toegelaat om in ‘n impulsiewe oomblik los te ruk nie. Haar Pa weet dat sonder haar is die ribbekas nie heel nie, is daar ‘n gat in sy lewe.
‘n Rib en ‘n ribbekas pas soos ‘n voltooide legkaart se stukke inmekaar – en dit is meer as genoeg rede om ‘n klein bietjie stroop te drup.