‘n Tydjie terug verjaar Twinsie en sy nooi ‘n klein groepie vriendinne om by haar huis te kom feesvier. Al was sy nie my tweelingsuster-van-’n-ander-moeder nie, sou ek nog steeds gegaan het want Rein-van-hart maak die lekkerste eetgoed. En kom ons wees nou maar brutaal eerlik, mens weier nie soetgoeterse nie want die lewe is kort. Ook is dit my persoonlike missie om geen soet dingetjie, wat vir my aangebied word, in die gesig te vat nie. Terwyl ek nog tande het, sal ek my bydrae lewer tot die geestesgesondheid van soetgoed. Viva suiker!
Maar ek dwaal af…
Ek kyk na die groepie vroue om die tafel en die afwesigheid van ‘n geliefde vriendin is opvallend. Skaars ‘n paar weke terug sou ek nie kon dink dat daar ooit ‘n tyd sal kom waar sy nie deel van my binne-kringetjie sou wees nie.
Sy het nie uit die dorp getrek nie. Sy het nie siek geword nie. Ons het nie eers baklei nie…Sy het net haar rug op my gedraai en ons vriendskap was oor en verby. Sommer net so. Haar keuse.
En my hart is stukkend, want om vriende te maak is nie een van my vele talente nie. Een hand se vingers is te veel om my aantal vriende te tel. Ek het heeltemal verlore gevoel en natuurlik dadelik die fout by myself gesoek. Wat het ek gedoen wat só erg is, dat sy nie langer kans gesien het vir ons vriendskap nie?
‘n Talent wat ek wél in oorvloed besit, is die gawe om dinge te oordink. Ek is ‘n meester in oordinkery. Ek het die skielike op-slag-dood van hierdie vriendskap bedink, oordink, bepeins en weer van vooraf gedink en gedink…Hoe langer die verblyf in my kop geduur het, hoe meer het ek myself oortuig dat ek nie ware vriendskap waardig is nie. Nie goed genoeg nie, nie heilig genoeg nie, nie interessant genoeg nie, nie warm genoeg nie, nie…nie…nie.
Af en af en af val ek in Alice se hasegat af. Tot op die bodem. Tot daar waar ek myself oortuig dat dit die heel beste vir my is om dit nooit ooit weer uit my self-opgelegde isolasie te waag nie. Selfs die idee van verblyf in ‘n klooster waar praat taboe is, klink vir my heel aangenaam. Ek het reeds al die regte name: suster Maria Magdalena Elizabeth van die Heilige Orde van die Stilswyendes. Fantasties!
Die groepie om die tafel lag, gesels en lê weg aan Rein-van-hart se dekadente lekkernye. Ek is maar stil en kry myself vreeslik jammer. Teen die derde porsie soetigheid op my bordjie, het die karamel- en sjokolade-koek genoeg gehad van my Martie-martelgat-houding. Ek word tot my sinne geklap deur ‘n suiker-inspuiting wat tot ernstige diabetes kan lei…
’n Hoofstuk in my lewe is nie my hele lewensverhaal nie! Waar het jy nou al ooit gehoor van ‘n boek wat net uit een hoofstuk bestaan? Blaai om, allamapstieks! Sommige karakters is bedoel vir net een hoofstuk in jou boek, dalk selfs net ‘n paragraaf. En dit is heeltemal goed so. Nie almal is bedoel om ‘n hoofkarakter te wees nie.
Die suiker fluister: “Indien jy nie omblaai nie, sal jy nooit weet watter avonture wag nog op jou nie!” Protagoniste wat onversteurbaar, soos ‘n goue draad, deur al jou hoofstukke loop.‘n Piepklein groepie wie se teenwoordigheid so gemaklik, en kosbaar, soos jou eie asemhaling is. Jou oppe en affe is húlle vreugdes en hartseer. Jy hoef niks voor te gee nie. Jy kan net wees. Jou menswees is altyd goed genoeg. Jy word ‘eie troepe’, soos Rein-van-hart sal sê.
Hoekom vertel ek vir jou hierdie hele treurmare? Ek is bang jy mis dalk uit (soos ek ampertjies) op hoofkarakters wat jou storie gaan verryk, vêr bo wat jy kan dink, of doen, of vra. Moenie vashaak by ‘n hoofstuk nie, blaai om, lees aan…Die beste lê nog voor!