Moenie ‘n jellievis wees nie.

Wil jy weet wat maak my dadelik briesend? Nie jou gewone verergdheid nie, maar die vulkaniese uitbarsting, verwoes alles in sy pad, woede? Wil jy weet wat maak my soos ‘n rasende hond met skuim om sy bek?  Mense wat op hulle stuitjies lê en bestuur! Meer spesifiek, mense wat op hul agternate agter ‘n Mini Cooper se stuurwiel rus. Hul koppe skaars sigbaar bo die ruit. 

Sekerlik is daar erger dinge op ons paaie vandag wat mens kan omkrap, jou kan laat vrees vir jou eie veiligheid en lewe. Taxi’s, onverskillige bestuurders,  luukse motors wat die paaie besit, padwoede, is alles geldige redes vir hemelhoë bloeddruk. Nie vir my nie. Al hierdie klein jakkalsies laat my komkommerkoel. 

Ek lig skaars ‘n wenkbrou wanneer ‘n taxi voor my indruk. Hulle is immers haastig. Die mense moet by die werk kom. Daar is nie tyd om ‘n flikkerlig te gebruik nie. Ek verstaan dit heeltemal. Stop gerus dood reg voor my in die pad, my motor het goeie remme en ek beskik oor blitsige reflekse. Dis nie asof ek dringend iewers moet wees of iets moet doen nie. Gaan asseblief voort in jul haastige stryd teen tyd, my liewe taxi-bestuurders.

Onverskillige bestuurders raak my nie. Van dag een af as nuwe bestuurder word daar by jou ingedril dat jy nie net vir jouself moet dink nie, maar ook vir al die ander bestuurders op die pad. Dit is al tweede natuur om op die uitkyk te wees vir nie-denkendes. Dit is vir my logies dat ek nie kwaad kan word vir bestuurders wat nie in staat is om te kán dink nie. Ons lewe in ‘n samelewing van geen diskriminasie. Denkendes en nie-denkendes moet oor dieselfde kam geskeer word. Ek is nie die een wat die appelkar gaan omsmyt oor inklusiwiteit en eksklusiwiteit nie. Ek identifiseer as ‘n randeier.

Natuurlik mag jy alle padreëls verontagsaam vername luuksemotor-bestuurder. Jy het immers jou siel verkoop om daardie monster van weelde te kan bekostig. Gewone aardlinge, soos ek, is maar net te  dankbaar dat ons in jou luukse motor se walms mag ry. Dis altyd beter om longe te besoedel met peperduur uitlaatgasse.

Padwoede is eie aan ons tyd. Nie net in Suid-Afrika nie, maar reg oor die wêreld is mense kwaad. Kwaad oor alles. Armoede, ekonomie, onreg, regerings, kerke, ander mense, geweld. Noem maar op. Die lys is lank. Niemand is bestand teen die woede-pandemie nie. Ek kan verstaan dat hierdie opgekropte aggressie êrens moet manifesteer. Waarom nie op ons paaie nie? Dis beter om te skel en my vuis te lig vir ‘n onbekende bestuurder as om my hand te lig vir my vrou of kind. Ek verstaan my liewe woedende padgebruiker. Wys gerus vir my jou middelvinger as dit jou beter laat voel.

Maar, my liefste Mini-bestuurder, sit om hemelsnaam regop in jou stoel! Ek verloor my zen in ‘n millisekonde as ek jou sien laaglê agter die stuur. Waarom doen jy dit? Het jy jou ruggraat verloor? Glo jy dat net visse oor grate beskik? Hoe is jy in beheer van jou motor en omgewing as jy so tussen die stuurwiel en die spoedmeter deur loer? A nee a, jy is nie ‘n mol wat opkom vir lug nie. Trek jouself regop – aan jou skoenveters as dit moet – wees trots en kyk die wêreld vierkantig in die oë. Net jellievisse voer ‘n ruggraatlose bestaan. Moenie ‘n jellievis wees nie.