Ek het nog nooit daarvan gehou dat mense my persoonlike aura betree nie. Laat staan nog aan my vat! As ek ‘n plant was, was ek sekerlik ‘n kaktus. Lekker sappig op die oog af, maar stekelrig om aan te vat.
Hierdie ongemaklikheid met oortreders in my persoonlike ruimte kom al van kleintyd af – dalk het dit iets daarmee te doen dat ek fisies klein gebou was. Met die jare wat verbygaan het daar êrens verwarring ontstaan met die rigting waarin groei moet plaasvind. Nog my hele lewe lank rigting-gestremd, het ek nie langer geword nie, maar wel my velgebied suksesvol uitgebrei. Die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking troon derhalwe bokant my uit. Miskien is dit die intimiderende hoogte van mense wat my prikkelrig maak vir aanraking.
Meer nog, dink ek, is die feit dat ek nie noodwendig baie van alle mense hou nie. Dit is vir my heeltemal te gemaklik om snoesig in my eie kop te lewe. My eie geselskap het my nog selde verveel. Dié dat ek dink dat as ek jou nie raaksien nie, jy mý ook nie kan raaksien nie. Stel jou dan my skok voor as jy dan, ongenooid, aan my vat…Ek het dit letterlik nie sien kom nie!
Manlief, daarenteen, is soos ‘n mense-magneet. Hy het geen probleem om aan mense te raak óf om aan gevat te word nie. Sy vel smag na die gevoel van ander vel.
Noodgedwonge moes ons ‘n ooreenkoms bereik oor hoe, wat, waar, wanneer en hoeveel fisiese aanraking – veral in die openbaar – toelaatbaar is. Mens wil niemand die skrik op die lyf jaag nie.
‘n Wyle terug stop ons twee by ‘n kleindorpiemark. Vooraf word Manlief herinner aan die reëls: Moenie oogkontak maak met vreemdes nie en moet veral nie geselsies maak nie. Maklik genoeg om te onthou!
Natuurlik was dit onmoontlik vir hom om selfs net by die eerste reël te hou. Binne die eerste minuut wat ons die saal instap, vertel die konfyt-tannie vir Manlief haar hele herkoms – tot vier geslagte terug.
Ek het soos ‘n ervare, kort, introvert gehou by die eenvoudige reëls en aangestap: Hou my oë op die goeters wat uitgestal word, vermy oogkontak met die base van die tafels. Ek was veilig deur driekwart van die saal toe die onheil my tref…
Ek het haar van ver af gesien. Dié vrou wat dit durf waag het om nie agter haar tafel te bly staan nie. Nee, hierdie was duidelik nie haar eerste mark nie. Sy kén mense soos ek! Sy weet as sy iets wil verkoop, gaan sy letterlik my aandag moet gryp.
Maar, ek is wakker. Ek sien haar. Ek systap haar sonder om ‘n ooglid te knip. Net toe ek myself gelukwens met my uitstekende kontak-vermydings-tegniek, hoor ek die gewraakte woorde: “Bok, kyk gou hier.”
Vir ‘n oomblik het dit oorweeg om Manlief se stem net te ignoreer – maak asof ek niks gehoor het nie. Maar my ma het my ordentlik grootgemaak – ook is nuuskierigheid vir my ‘n probleem. Ek draai om. Die wilde vrou het Manlief aan die arm beet. Teen die tyd wat ek by hulle kom, is sy arm al tot by by sy skouer besmeer met room. Wilde vrou verkoop velsorgprodukte wat sy self uit bossies en takke maak.
“Wys vir my vrou jou rome, ek het laas as baba room op my boudjies gehad.” Ek verstik amper in my eie spoeg. My oë skiet vuurbomme na hom toe. Hy glimlag onskuldig. Ek is aan die wilde vrou afgesmeer sonder enige gewetenswroeginge.
Ek probeer hoflik en baie ordentlik ‘nee dankie’ te sê, maar die wilde vrou is soos ‘n besete haai wat bloed geruik het. Mý bloed…
Ja. Ja. Ja. Knik haar kop. Sy kan sien my ligte vel het definitief haar sonbrandroom broodnodig. My arm word, sonder toestemming, gegryp: “ Hierdie rooi gebrande arm gaan in ‘n kits gesond wees.” Sy beplak my arm met taai bossie-room. Ek byt op my tande.
Manlief glimlag breër.
“Groei jy jou grys hare uit?” Wilde vrou druk haar taai hande in my hare. In. My. Hare. “Ek het net die regte conditioner vir jou. Net R250,00 vir ‘n botteltjie. Jy sal nie die verskil glo nie.” Ek gril, maar sy klou soos ‘n neet.
Manlief lag nou sommer hardop.
“En waar koop jy die mooi rokkie? Dit pas by enige lyf – al is jy effens geset.” Wilde vrou streel nou oor my heup om die mooi rokkie se materiaal te bevoel. Of my effens gesette heup. Ek is nie seker nie.
Ek is stomgeslaan. Watter regdenkende mens bevat en bevoel ‘n vreemdeling net soos die lus jou beetpak? Ek het ‘n woord vir dit, maar kan dit nie noem in ordentlike geselskap nie.
Verdwaas moes ek aan Manlief se arm hang om by die kar te kom. Tot in my binneste geskend. Dis eers toe ek my lam lendene op die sitplek regskuif, dat ek sien ek is die trotse eienaar van bossie-en-takke sonbrandroom en conditioner vir my grys hare.