Sondag in ons kerk vra die predikant tydens sy boodskap die vraag: “Watter tipe moeder is jy?” Die opsies is biddend, beproef of bedroef. Dit het my aan die dink gesit. Watter tipe ma is ek? Al bogenoemde? Enigeen van bogenoemde? Geen van bogenoemde?
Snaaks hoe ‘n kommersiële dag, reeds van ons geboorte af, só deel van ons lewens word soos Kersdag. Of jy nou ‘n moeder is, of ‘n moeder het, gedenk sal ons gedenk. Ook het ons almal ‘n opinie oor wat, en hoe, ‘n moeder behoort te wees.
Maak net bloedbande jou ‘n moeder? Is bloed regtig dikker as water? Wat as die biologiese moeder nie haar plig verstaan nie – of geen erg daaraan het nie? Wat as sy nie opbou, aanmoedig of onvoorwaardelik liefhet nie? Verdien sy dan nog steeds die titel ‘Moeder’?
Indien jy my in my laat tienerjare sou vra of ek ‘n ma wou wees, sou ek beslis geantwoord het: “Nee, dankie!” Enigiets behalwe ‘n ma. ‘n Beroepsvrou? Ja. ‘n Skrywer? Ja. Reisiger? Ja, asseblief. ‘n Ma? Nee. Nee. Nee. Watter verantwoordelike, verstandige vrou (dis nou ek) wil nóg onskuldige baba’s in hierdie deurmekaar warboel van ‘n wêreld inbring?
Totdat my eie baba in my arms gesit is…En alle edele voornemens saam met daardie eerste in mekaar se oë kyk by die teaterdeur uitgevlieg het. In ‘n breukdeel van ‘n sekonde het my eie wense en welsyn nie meer bestaan. Nee, dit is nie heeltemal waar nie. Dit is net vervang met ‘n verbeterde weergawe daarvan. Niks anders maak so erg saak soos hierdie klein mensie wat my hart in haar vuisies vashou nie.
Klink dit alte soetsappig? Natuurlik! Is dit die waarheid? Absoluut. Teen die tyd dat baba nommer twee haar opwagting gemaak het was ek voluit deel van die ‘Ma-van-die eeu’-kompetisie.
As ek vandag terugkyk na myself as ‘n jong mamma kan ek net my kop laat sak. Hoe voortvarend kan een vrou wees? Hoe slim! Ek het al die regte boeke gelees en toegepas. My enigste doelwit wat ek onverpoos nagejaag het, was om die beste ma te wees wat hierdie aardse mensdom al ooit gesien het. Beslis beter as wat my eie ma was.
My dogters is gepiep en getroetel. Toegegooi met liefde. Ek het voor my oë verander in ‘n dans- en hokkie-mamma. Ek het onbeskaamd gegil, geskree en probeer fluit (behoede my!). Geen oefening, kompetisie of wedstryd is gemis nie. Alles in die strewe na die beste-mamma-ooit-medalje.
Maar, ek het foute gemaak. Baie. Ek het onnodig geraas, dogter-harte seer gemaak, erg voorskriftelik opgetree en soms verbete vasgeklou aan my eie idees. Maar darem was ek beter as my ma.
Genadiglik kom daar met die ouderdom ook insig. Ma’s probeer regtig net hul heel beste. Ek het my ma eindeloos gekritiseer omdat sy altyd gewerk het. Ander ma’s het by die huis gebly en hul kind se aktiwiteite bygewoon. My ma het kos op die tafel gesit. Dankie, Mamma.
Dit het my gegrief dat my broer en suster my ma se hart kon breek, maar sy het hulle nooit ‘n koue skouer gegee nie. Hoeveel keer het ek nie soos die verlore seun se broer gevoel nie? Lekker bitterbek omdat ek maar altyd die standvastige en betroubare een is. Vandag weet ek dit is hoe onvoorwaardelike liefde lyk. Dankie, Mamma.
Na ‘n deeglike hartsondersoek dink ek die antwoord op die predikant se vraag is: “Die mamma wat haar beste doen.” Ek kan vandag na my dogters kyk en weet dat, ten spyte van my foute, hulle uitnemende jong vrouens is wat eendag ook hul heel beste gaan gee.