Het julle al ooit opgelet na die spelling van die woord ‘misnoeg’? Dit is so ‘n mooi beskrywende woord. ‘Mis’, is om nie die teiken te tref nie. ‘Noeg’ soos in ‘genoeg’. Ek is tot in my diepste siel toe moeg vir mense wat altyd die teiken mis om genoeg te hê. Waarskuwing: Moet jou nie met sulke mense omring nie, hulle is vreugde-moordenaars. Voor jy kan sê ‘misnoeg wyk weg’, dan is jou mond op ‘n plooi getrek soos iemand wat al van kleuterskool af rook.
Indien so ‘n onvergenoegde mens uit noodsaak deel is van jou huishouding, sit jy met ‘n probleem waarvan die donkerte nimmereindigend is. En dit is aansteeklik, baie erger as Covid. Die geringste blootstelling aan die Moper, en die donkerte het jou beet. Net soos met Covid is die enigste kuur om jou totaal te isoleer van genoemde Moper. Wanneer jy wel in aanraking kom met die gevreesde Moper, moet jy dadelik alles aan en om jou steriliseer. Jou gedagtes, woorde, emosie, gevoel – selfs, in akute gevalle, jou siel.
Die herkenbaarste eienskap van ‘n Moper is die oordonderende ontevredenheid. Niks, nêrens en niemand is ooit goed genoeg nie. Hulle mope dat hulle te ver is van hul geliefde kinders af. Die alleenheid is te veel om te verduur. Moenie in die strik trap nie, my liewe sagte Lam! Die oomblik wat jy hulle nooi om nader aan jou te trek, begin die gemoedsbeduiweling… In dieselfde dorp sal nie deug nie. In dieselfde straat sal nie deug nie. Selfs die woonstel teen die huis sal nie deug nie. Die enigste aanvaarbare opsie is die gastekamer in jou huis. Lekker naby aan hul nasate.
Gevaar! Gevaar! Gevaar! Jy het sopas die deur oop gemaak vir die ergste Covid-variant. Dit is dodelik. Jou siel sterf lank voordat jou ordentlikheid moed opgee. Vir die Moper is slegs die ‘gas’ in gastekamer betekenisvol. En nie net ‘n gewone kuiergas nie, nee, die standaarde is hoog. Met hand en tand bedien, gaan vir jou nuwe betekenis kry. Selfs nie die mees kieskeurige royalty kan kers vashou by die Moper nie. Die temperatuur in die kamer is gelykstaande aan ‘n vrieskas. Om in die sonnetjie te sit sal nie deug nie, want die wind waai vir ‘n wen of ‘n plek. Koppies tee word by die gallon aangedra, maar dit is nooit die regte brand nie…of dit is te flou…het te min suiker in. Probeer maar jou uiterste bes om Masterchef-waardige etes op te tower, daar gaan altyd ‘n bestandeel kort. Of jy maak dit nie op die regte manier gaar nie. Nog erger, jy veroorsaak dat hulle bose sere kry omdat daar nie genoeg groente op die tafel is nie. My liefste Lam, jy gaan wol van staal nodig hê om hierdie situasie te oorleef.
Jy kan maar weet dat die Moper se sig, en uitsig, ook altyd donker is. Hulle sien beslis nie die baldadige branders breek teen die rotse nie, sommer so reg op die voorstoep. Die Weskus se Goddelike sonsondergange kan hulle ook nie raaksien nie, want dit is te koud buite. Die misnoё slaan uit in kolle op die Moper se vel, want daar is nie geld om op ‘n blomme-toer deur Namakwaland te gaan nie. Die blommetjies wat oornag ontplof reg op hulle voorstoep, verlep ongesiens. Onthou, die Moper se sig bied geen uitsig…Ook geen insig nie.
Selfs die konstante teenwoordigheid van hul geliefde nasaat is nie genoeg om die Moper se eensaamheid te verlig nie. Die eensaamheid en ellende word ‘n geliefde kombersie wat hulle styf-styf om hulle lywe vou. Die bure se kinders raas. Die ander bure kan nie mee gemeng word nie, want hulle is van ‘n ander dam se ganse. Die geselserige tuinier moet hom bepaal by sy eie besigheid, wat hy in elk geval nie reg doen nie. Om nie te praat van die huishulp wat so onder die Moper se voete is nie. En so onder die Moper se konstante kritiek verloor die tuinier sy geselsie en die immer-vriendelike huishulp haar breё glimlag. En die Moper trek haar kombersie nog stywer teen haar lyf.
Wat is die oplossing? Is daar ‘n kans op oorlewing teen die Moper se maniese greep? Vir lank kon ek geen uitkoms sien nie. Elke dag was ‘n nuwe stryd teen die groot ontevredenheid. Die donkerte kom lê soos asemnood in jou bors. Kort voor lank glo jy soos die Moper dat die enigste lig in die tonnel die aankomende trein is – en jy lê vasgeketting aan die spore. Hoe harder jy probeer om die ontevredenheid te bekamp, hoe hongerder word die misnoё-monster.
Tot op een wonderbaarlike dag. Die dag wat Nataniёl die dorp kom besoek. Die man van my hart kry vir ons kaartjies. Ook die Moper word saam genooi. Selfs nie die Moper se skaduwee kan my opgewondenheid verminder nie. Ek kan nie wag vir die vertoning nie! Eie aan die Moper se geaardheid trek sy kleinkoppie die oggend van die vertoning. Die pyn en lyding wat sy ervaar is net te ondraaglik. Geen gedagte word gegee aan die onkostes wat aangegaan is in ‘n tyd waar elke sent honderd maal omgedraai moet word nie. En die ellende-kombersie word knussies om die lyf gevou.
Halfpad deur die vertoning gaan die lig vir my aan…Nataniёl sê: “Pyn is onvermydelik. Almal het ‘n pyn iewers wat net wag om jou te bespring. Lyding is egter ‘n keuse.” Ek is stomgeslaan. Wyser woorde het ek nog nooit gehoor nie: Pyn is onvermydelik. Lyding is ‘n keuse. My hart klop sommer vinniger. Die lig in die tonnel is nie meer ‘n aankomende trein nie, dit is ‘n reuse soeklig wat al die misrabele donkerte helder, helder, helder verlig.
Hierin lê ons kuur my liefste Lam. Ons het ‘n keuse. Ons kan kies om ons rug te draai op misnoё, op ontevredenheid en sielsdonkerte. Ons kan kies om nie daagliks te ly onder die Moper nie. Ons kan kies om sielstevrede te wees met ons omstandighede. Ons kan kies om vreugdevol weg te hol van klagtes en jeremiades. Ons kan kies om te sê: “Ek is presies op die regte plek in my lewe waar ek moet wees. Misnoeg? Nee. Net genoeg.” Dankie Nataniël.