Meer as ‘n handvol genade.

Daar is min dinge so vreesaanjaend as wanneer jou getroue lyf, onvolmaak soos wat dit is, besluit om in te konk. Dit lê jou weerloosheid bloot soos niks anders kan nie. Maar meer as my vrees en gevoel van blootstelling, kan ek getuig van God se genade vir my in elke oomblik van hierdie petalje.

Vroegoggend word ek wakker en voel sommer net moeg. Die donker hond is my getroue metgesel – dus niks vreemds vir my nie. Manlief is ook welbekend met die donker hond se streke en jaag my uit die bed om ‘n staande afspraak met ‘n vriendin na te kom. Dit is onder die stort wat die kapperjolle begin…

Eers voel ek duiselig, toe naar. Miskien is die water te warm? Ek draai die water kouer, maar teen die tyd moet ek op my hurke sit want die wêreld kantel gevaarlik. Nou draai ek die krane heeltemal toe, want netnou verdrink ek myself. Terwyl ek naby aan die grond is kruip ek na die toilet toe. As ek in die stort moet naarword, gril ek myself morsdood. Gruwelike goeters, soos bloed en derms, kan ek lag-lag hanteer – maar naarword? Aikona!

Dit is hier waar Manlief op my afkom. Op my knieë langs die porselein-troon. Toe word alles swart.

Volgende wakker oomblik, sit ek bo-op die troon…nog steeds ten volle geklee in my geboortepakkie. Al helder gedagte wat by my opkom is dat Elvis die lewe vaarwel toegeroep het in presies hierdie onwaardigste van alle plekke. Ek gee nie om om in die geselskap van ‘n legende te wees nie, maar hý het ten minste klere aan gehad.

Volgende wakker oomblik lê ek op die bed. Manlief is besig om my ribbekas in te duik met aggressiewe CPR. Paramedikus-dogter blaf bevele uit oor die foon. Die ambulans is op pad!

En waaraan dink ek? Om hemelsnaam trek net vir my klere aan!

Alles wat daarna gebeur het, is vir my redelik vaag – maar dit is hier waar God se genade-oomblikke begin.

Genade een: Ek het ‘n diepgaande vrees vir provinsiale hospitale. My ma se traumatiese dood in só ‘n hospitaal, het ‘n permanente letstel gelos. Máár, ons dorp se hospitaal is skoon met effektiewe dokters en verpleegpersoneel.

Genade twee: Ek het klere aan. Manlief se gemaklike slonsbroek is stewig om my middel vasgeknoop en ek het my eie t-hemp aan. Al die nodige onderklere ontbreek, maar ten minste is my plomp middeljarige lyf bedek. Die ander pasiënte in die ER is gespaar van nóg trauma by al hul ander elllendes.

Genade drie: Al ons dogters trek laer om my. Hoe en wanneer hulle uit die Kaap aangekom het, weet ek nie. Toe ek my oë oopmaak, is hulle net daar. Slaggereed om my, én Manlief, én Laatlam te ondersteun.

Genade vier: My vrees word waar; ek moet opgeneem word. Ek is te swak om beswaar te maak, maar Manlief se slonsbroek bewe. Ek sien al ek gaan nooit lewend hier uitkom nie. Komaan, liewe leser, moet nou nie skynheilig wees nie! Ons almal ken provinsiale hospitaalstories wat Stephen King se rillers na Sondagskoolverhale laat lyk. Selfs die suster wat my opneem, vertel my hoe sy by die dood omgedraai het met die behandeling wat sy by soortgelyke hospitaal ontvang het.

My gesin kom een-een in om nag te sê en ek kan die skrik in hulle oë sien. Ter wille van hulle sal ek bly sodat ek versorg kan word. Dis op daardie oomblik dat God se vrede wat alle verstand te bowe gaan, my hele menswees vul. Ek is nie alleen nie. Ek was nog nooit alleen nie. Van die oomblik wat ek my bewussyn die eerste keer verloor het, was die Heilige Gees daar.

Genade vyf: My bed is in die Pediatriese saal saam met drie ander vroue. Jip! Die baba-saal. Manlief meen sommer dadelik dit is omdat ek pieperig is. Grapjas!

Ook hier het die Here my toegevou met genade in die vorm van ‘n liefdevolle suster. Die saal was warm, gelykstaande aan ‘n-kilometer-van-die-son-af warm. Die lugreëling het nie gewerk nie en die vensters mag nie oopgemaak word nie. Almal wat my ken, sal weet: Ek + siek + warm = huilerige baba (gelukkig was ek klaar in die baba-saal)!

Die liefdevolle suster gee my een kyk en gaan grou ‘n waaier uit die dieptes van die hospitaal op. Sy maak dit staan op my bedkassie en sit ‘n nat waslappie op my nek. Alles uit haar eie uit, sonder dat ek gevra het!

Natuurlik veroorsaak hierdie voorkeurbehandeling ‘n rebellie onder die ander pasiënte. Ek kan nie minder omgee nie. Siekte is siekte. Raak aan hierdie waaier, tannies, en ek draai jou drip toe én ek kou al jou pynpille self op!

Genade ses: Nie almal sal saamstem dat my volgende punt ‘n genade is nie, maar vir my was dit ‘n bewys dat God selfs in die onbenullige na my omsien. Hospitaalkos het niemand nog ooit laat arias sing nie. Raai wat kry ek vir ete? Macaroni-en-maalvleis, lemoenpampoentjie en heelpit-mielies. Al my gunstelinge op een bord. En die pièce de résistance? ‘n Skyfie waatlemoen! Is dit nie ‘n duidelike teken van God se bederf nie?

Genade sewe: My lewe lank was ek nog nooit vreeslik lief vir baie mense om my nie. Meer as twee goeie vriende is ‘n uitspattige oordadigheid wat niemand nodig het nie. Maar in God se oneindige liefde vir my, pak Hy my toe met goeie vriende in die kort rukkie wat ons hier in ons klein dorpie bly. Vriende wat dadelik in aksie spring. Daar word seker gemaak dat Manlief en Laatlam versorg is. In ‘n menigte stemme word ek aan God opgedra vir genesing. Die dokters kan sê wat hulle wil, ek wéét dat sonder my vriende en gesin se gebede die uitkoms van my debakel totaal anders sou gelyk het.

Om ‘n lang storie kort te knip, dís wat ek geleer het: Moenie ons almagtige God se ‘klein’ genades miskyk nie. Jy kan huil oor die ellendes wat jou tref (siek in ‘n provinsiale hospitaal), of jy kan juig oor God se hand propvol genade. Die keuse, én die uitkoms, is joune alleen.