MALLEmeule

Aan die begin van hierdie 2026-ste jaar van Onse Here, kom kuier Kleinsus en haar gesin vir ons. Ek moet bieg dat die jaar nie op ‘n beter, doller, besiger manier kon begin het nie.  As hierdie enigsins ‘n aanduiding is van die verloop van die res van die jaar, liewe lesers, dan beveel ek ernstig die volgende aan: Maak vas jou veiligheidsgordel, trek jou sportsbra aan en haal jou valstande uit. Die wipwa-rit het amptelik begin!

Laat ek verduidelik…

Laatlam is vas oortuig daarvan dat ‘n uitstappie na die permanente karnaval op ‘n naburige dorp, ‘n uitstekende gomtyd is vir ons vier dames. Ek het my voorbehoude, maar uitkoms is daar nie. As Kleinsus (ook al verby die vyftig-jaar merk) geesdriftig instem, gaan ek beslis nie die vervelige outannie in die geselskap wees nie. Dit is tyd om my grootmeisie-bloemer aan te trek. 

Eers drink ons die lekkerste melkskommels, terwyl ons al die ryk mense se seiljagte bekyk. Die feit dat Laatlam net ‘n Coke drink, moes al vir my ‘n waarskuwing gewees het. Sy weet iets wat ek nie weet nie!

Na ‘n hewige debat voor die kaartjiekantoor bereik ons ‘n ooreenkoms. Ek en Kleinsus sal saam met die twee tieners op die skulpe ry. Klink onskuldig en mak, nê? Julle almal ken die rit. Jy gaan sit op die skulp se bankie. Laat sak die veiligheidsharnas. Rustiggies dein die skulp op en af terwyl dit in die rondte draai. Lekker, man.

‘n Verveelde tienerseun neem ons kaartjies. Dit is net ons vier wat gaan ry. Laatlam en kuiergas gaan sit saam op een skulp. Ek en Kleinsus mik vir ‘n ander een. Met die opklim vra ek vir Verveelde Seun of die rit darem veilig is vir vroue oor vyftig. (Eintlik net om hom te terg – ek het die besigheid mos mooi uitgekyk voordat ek ingestem het om saam te ry.) Verveelde Seun trek net sy maer skouertjies op. Sê niks. Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde flits daar ‘n liggie in sy oë. Regtig! Ek maak dit nie op nie. In daardie presiese oomblik verander Verveelde Seun in Seun-met-’n-missie. My onskuldige opmerking word beskou as ‘n uitdaging! Dié tannie is in vir die rit van haar lewe!

Die eerste rondte om die baan was nie sleg nie.Eintlik, heel kalm. Ek voel dapper. Kyk vir my! Vir die eerste keer sedert my prille jeug, ry ek weer op ‘n mallemeule-karretjie. Ek voel sommer weer jonk.

Hierdie oomblik van euforie was van korte duur…

Met die eerste verby ry, maak ek oogkontak met die sluwe Seun-met-’n-missie. Het hy parmantig vir my oog geknip? So asof hy iets weet wat ek nie weet nie? Ja. Ja, mense, hy het. Sonder enige bekommernis oor oumensveiligheid maak die seun alle remme los. Die woema-kraan word vol oop gedraai. Hy trap die petrol PLAT!

Dit was die laaste keer wat ek enige oogkontak met enigiemand kon maak. Met geweld is ek uit my wentelbaan van gerustheid gesmyt. Die res van die rit is vir my net ‘n vae warboel van paniek, vrees, angs en weer paniek. Baie van wat hierna gebeur het, het ek eers agterna gehoor.

Eers het ek net ‘n fyn, baie vroulike, gilletjie gegee toe die skulp met ‘n sweepslag omtol. Met die tweede tolling was ek oortuig ons gaan losskiet van die spoor af. Ons verminkte liggame gaan oor kilometers met ‘n teesiffie opgetel word. Ek verloor alle inhibisies, waardigheid is vir die voëls. 

Die aktrise van Scream een, twee én drie is geen kompetisie vir die skreeue wat uit my binneste bars nie. Ek gil manies soos ‘n vark wat weet hy gaan geslag word. Die rit voel nimmereindigend. Ek skree op die seun  om asseblief die nagmerrie te stop. Ek weet nou waarom Laatlam net Coke gedrink het. Ons gaan om en om en om. My karamel melkskommel dreig om ‘n herverskyning te maak. Om en om…

Kleinsus troos besorg dat die rit amper klaar is. Sy wys ‘n kwaai vinger vir sluwe seun. Hy vee die lagtrane uit sy oë en laat ons vir nog ‘n duisend keer gratis draai en draai en draai. Daar is nie eers kans vir my lewe om voor my oë verby te flits nie. Ons vlieg in ‘n waas al in die rondte.

Teen die tyd wat die ellendige martelmasjien stop, het elke been in my lyf in jellie verander. Kleinsus moet my omtrent uit die skulp tel en sleepdra teen die trap af. Moedswillige Seun se gesig is bloedrooi gelag. Hy vee nog trane uit sy oë: “Jislaaik, tannie. In al die tyd wat ek hier werk, het ek nog nooit so lekker gelag nie. Tannie is vrek snaaks!” Tannie het nie die krag om hom uit te skel nie. Tannie is maar net te bly sy lewe nog.

Laatlam lag vir ure daarna nog haar asem uit. Sy kan nie wàg om by die huis te kom sodat sy haar pa alles kan vertel nie. Nooit, ooit, het sy gedink haar ma is so vrekkens snaaks nie.

Oe! Ek is net so bitter bly dat my dood-in-die-gesig-staar belewenis soveel genot vir ander gebring het. My lewensdoel is bereik! Hah!

Voordat jy dink dat ek ‘n doemprofeet is wat 2026 met ‘n nagmerrie vergelyk, wil ek jou gerusstel. Die wipwa-rit het my geleer dat die lewe (2026) net soos ‘n mallemeule is. Daar gaan beslis mal dae wees wanneer jy voel asof die lewe jou deur ‘n meul druk. Daar gaan ook tye wees wanneer wilde draaie jou gaan ruk en pluk. Maar, dis dan wanneer jy moet weet dat die Veiligheidsgordel daar is vir ‘n rede. Jy kan daaraan vasklou met mening, maar dis nie eers nodig nie. Maak nie saak hoe wild die rit is nie, Hy hou jou stewig vas. Jy kan maar jou hande in die lug gooi en uitbundig lag – soos Laatlam en Nie-meer-verveelde-seun. Hy het jou. Altyd.