Daar is min dinge wat ‘n mens so totaal van balans afgooi, as om valslik beskuldig te word. ‘n Mens (nie net myne nie) se eerste reaksie is om stomgeslaan te wees. Nooit ooit sal dit eers by jou opkom om iemand seer te maak, of te na te kom, nie. Laat staan nog iemand vir wie jy liewer is as jou volgende asemhaling. Dan skop die oeroue instink in om jouself te wil verdedig – want jy is ONSKULDIG!
Daar is derduisende gedagtes wat deur jou kop storm soos ‘n gekweste dier. Elke aantyging word van alle kante af onder ‘n vergrootglas bekyk. Nks maak sin nie. Hoe harder jy probeer om te verstaan, hoe meer voel dit asof jy met ‘n sonbril op in die nag probeer bestuur. Bekende terreine verander in ‘n nagmerrie-landskap.
Soos ‘n volstruis druk jy jou kop in die sand en weier om saam met die aanklaer om ‘n tafel te sit. Nie eers die belediging dat jy soos ‘n kind optree, kan jou uit jou verslaendheid ruk nie. Sien niks, hoor niks, sê niks. Jy is ONSKULDIG.
Weke gaan verby waarin jy nie behoorlik kan funksioneer nie, want die skerwe van jou gebreekte hart weeg ‘n ton. Die wolk van geregtigheid versmoor jou siel.
Dan sit Manlief sy voet neer. Tot hiertoe en nie ‘n tree verder nie. Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu – sy grootste genot om skeiding te bring tussen geliefdes. Elke misverstand, stilswye en agterdog word gebruik as ‘n bloedige wapen totdat daar niks oorbly van die eens liefdevolle verhouding waarin jy gemaklik gedy het nie.
Gedweë sit jy toe maar saam met jou aanklaer om ‘n tafel. Jou vaste voorneme is om vrede te maak, daarom het jy reeds vóór die ontmoeting vergiffenis gebedel vir elke moontlike ondeurdagte en onbedoelde oortreding.
Hierdie edele voorneme vlieg binne die eerste paar minute met Red Bull-vlerke by die deur uit. Aanklaer duld geen afwyking van die agenda nie. Daar is ‘n lys van aanklagte wat deurgetrap moet word. Dit is hier waar jou verdedigingsinstink paraat inskop. Jy probeer kalm en logies jouself verdedig. Jy verduidelik en verduidelik en verduidelik. Aanklaer glo jou nie, lag smalend vir jou argumente. En jy verduidelik nóg meer, desperaat, want jy is ONSKULDIG.
Liewe leser, jy sal wonder wat hierdie jammerlike klaagliedere (erger as die nimlike Job) met jou te doen het? Wat is die moraaltjie van die staaltjie? Is my onskuld bewys? Nee. Is ek geglo? Ook, nee. Is daar wedersydse vergifnis gevra en gegee? Wel…nie eintlik nie. Nou wat dan?
Toe ons met ‘n swaar hart wegry van die rampspoedige ontmoeting, met my hart wat wipplank ry tussen intense hartseer en heilige toorn, ruk Manlief my tot stilstand met sy woorde : “Die mate waartoe jy jouself wil verdedig, is die mate waartoe jou ego nog jou baas is.” Ha!
In die volgende paar dae ry sy woorde my bloots. Ek stoei met die Here. Is Manlief reg? Is dit my eie ego wat in die pad van my vrede staan? My brose ego wat dit nie kan verdra dat mense onregverdig met my, of Manlief, is nie. My selfbeeld wat verkrummel soos droë beskuit wanneer mense my integriteit betwyfel, of nie van my hou nie.
En die Here is getrou, Hy wys my dat ek nie nodig het om myself, en Manlief, te verdedig nie. Hý sal! My hart staan op uit die as. Ek kan, en hoef, nét verantwoording te doen vir my eie woorde en aksies. Ek moet, en hét, vergiffenis gevra vir waar ek verkeerd was. Of die ander party dieselfde doen, is nie meer my bekommernis – óf my tronk – nie. Dit bepaal nie meer my emosies of vrede nie. Regverdig of onregverdig? Dit is nie meer my las om te dra nie. Ek kan dit laat gaan…