Laatlam is hoërskool toe! In ‘n ander dorp! In die koshuis! My hart snik. My bors trek toe. My kuikentjie het heel onbedagsaam die nes verlaat en hierdie Moeder Hen skrop verward rond.
Nog nooit ooit het ek geglo dat die leënes-sindroom ‘n werklikheid is nie. Laat staan nog dat dit iets is wat my sal oorkom. My hele volwasse lewe is ek nog altyd besig. Werk, studies, stokperdjies – noem maar op. Manlief het my voortdurend aangemoedig om my drome na te jaag. Ledige dae was yl gesaai. Kinders grootmaak was maar net een van my hartsdinge waarmee ek besig was. Reg?
Verkeerd! Dom. Dom. Dom. Dis eers wanneer die laaste kuikentjie haar vlerke sprei wanneer mens tot stilstand geskok word. Kinders is dalk net ‘n deeltjie van jou menswees, maar niemand sê vir jou dat daardie deeltjie jou hele hart is nie.
Die leë nes het op my afgesluip soos ‘n dief in die nag. Toe oudste dogter braaf haar eie nessie geskrop het, het middelste dogter ons besig gehou met al haar aktiwiteite. Laatlam het kom nesskop toe Middeldogter háár vlerke strek. Sy het ons nes tot boordens toe kom vul met lewe en klank. Haar besige kalender het seker gemaak dat ‘n leë nes nie eers ‘n gedagte op die horison was nie.
Haar laerskool-loopbaan was egter in ‘n oogknip verby. Teen die tyd wat ons na hoërskole moes kyk, het sy ons kalmpies ingelig dat sy klaar besluit het. Vir haar is daar net een opsie: Die hoërskool op ‘n naby geleë dorp. Die een wat ‘n koshuis het, want vir “alle praktiese oorwegings is sy eintlik maar ‘n enkelkind, met senior ouers, wie grootword op ‘n dorp wat netsowel ‘n ouetehuis kon gewees het.” Ha! Hou hart, hou!
Laatlam kry, tot haar uitbundige blydskap, toelating vir beide die gesogte skool en die koshuis. En dit was dit. My nes was leeg…
Dit is tóé wat ‘n jarelange vriendin my daaraan herinner dat ek en Manlief nou vir die eerste keer in dertig jaar die enigste bewoners van ons nes gaan wees. Waansin! Vir ‘n paniekerige sekonde of drie het ek gewonder wie ons is sonder kinders. Ons was binne die bestek van nege maande verlief, verloof, en getroud. Met ons eerste huweliksherdenking was ons eersteling twee weke oud. Regtig, het ons bitter min ervaring van nét ‘n paartjie wees. As ons nie meer ons dogters onder ons vlerke het nie, gaan ons nog van mekaar hou? Waaroor sal ons gesels? Sê nou net ons het niks meer in gemeen nie?
Gelukkig was die paniek van korte duur. Die nuwe fase in ons lewe het ongekende vryheid gebring. Ons kan doen wat ons wil, wanneer ons wil. (Ons kan selfs eet wat ons wil! Who knew?) Weeksaande kan in ‘n kits in ‘n kuier-aand verander. En Manlief? Hy is ‘n man so na my hart in hierdie nuwe avontuur wat voorlê.