Hier in ons dorpie ken almal vir almal. Of jy nou wil of nie, jy weet van elke siekte, sonde of skande. Daar bestaan nie iets soos toeskouers of draadsitters nie. Die nuutste gegons het selfs vir my, wat my selde steur aan ander se geite, aan die dink gesit.
‘n Dierbare oom op die dorp het vroeër vanjaar sy geliefde vrou aan die dood afgestaan. Dit was vreeslik hartseer, want hulle het ‘n volle leeftyd gedeel. Die oom het verwese gelyk so op sy eie. Almal was besorg oor hoe die oom alleen oor die weg gaan kom.
Maar dis nie waaroor die gonsery gegaan het nie. Die oom het almal onkant betrap – hy was toe glad nie so onbeholpe soos wat almal gedink het nie. Die oom het ‘n nuwe liefde gevind. Wraggies! En dís waaroor al wat ‘n by in die korf aan die gons is. Die nog-nie-eers-’n-jaar-lange wewenaar het sy opsitkers aangesteek…Asof dit nou enigiets met enigiemand uit te waai het.
Manlief en Hartsmaat kon nie wag om my in te lig oor die betrokke brokkie nuus nie. Saam-saam. Sodat hulle gelykertyd my reaksie kon waarneem. Asof ek nou iets te sê sal hê oor ‘n ander man se liefdeslewe. Nooit! Nie ek nie. Ek het wél enkele gedagtetjies oor my eie Manlief, indien hy ooit ontydig ‘n wewenaar sal word…
Eerstens: Die tydsverloop. Nie eers al gaan daar dekades en dekades verby na my onverwagse afsterwe, sal hy na ‘n ander vrou kan kyk nie. Na dertig jaar is my beeld vasgebrand op sy retinas. Hy sal geen ander Delila, wat dalk vir hom wil ogies maak, kan raaksien so tussen my beeld deur nie. Siestog! Ter wille van sy eie goeie sig, moet hy maar na foto’s van my staar.
Tweedens: Die ander vrou. Wie is sy? Waar kom sy vandaan? Wag sy dalk nog die hele tyd in die flanke vir die geleentheid om die nuwe mevrou van Manlief te word? Ha! Sy moet sommer nou al haar visier op iemand anders stel. Sy gaan net haar tyd mors met Manlief. Behalwe dat hy haar nie sal kan raaksien nie (onthou die gebrande retinas), sal hy ook nie sy standaarde so erg kan verlaag nie. Ek is immers die perfekte vrou vir hom. Niemand sal ooit by my kan kers vashou nie. Ek is in alle opsigte net die regte hoeveelheid van alles vir hom : slim, snaaks, mooi, selfstandig, afhanklik – en al twaalf my persoonlikhede stem saam.
Jy dink jy gaan hom bederf met heerlike etes, klere altyd skoon en netjies gestryk in die kas en ‘n agtermekaar huishouding? The joke’s on you, nuwe mevrou!
Manlief is al klaar hartsgelukkig met my drie resepte – volksvreemde kos (enigiets anders as my drie resepte) sal net sy maag omkrap. Hy het ‘n baie sensitiewe maag. Hy is ook baie pedanties oor hoe sy klere gestryk moet word. Die weermag het hom presiese metodes van stryk geleer. Die huidige mevrou was nie in die weermag nie, en kan haar daarom nie steur aan enige militêre riglyne nie. Dit is waarom Manlief liefs klere koop wat nie gestryk hoef te word nie. Dit skakel onnodige wrywing uit.
Laastens, sal ‘n uiters geordende huishouding hom net verbouereer en verveel. Waar is die uitdaging as alles altyd op hul spesifieke plekke is? Wat word van die avontuur om gedurigdeur na jou goeters te soek. Hoe saai is dit om sonder ‘n tergende raaisel deur die dag te worstel?
Nee wat, nuwe mevrou, jou deugde sal nie vir hom werk nie!
Dit is nie dat ek materialisties is en vasklou aan aardse goed nie, maar nuwe mevrou moenie dink dat sy ewe loslyf in my huis sal instap en my goeters gebruik nie. Ek is nie selfsugtig nie, maar my aura wat aan al my goed vasklou, sal haar net ontstel. Manlief moet ook nie dink dat nuwe mevrou alles nuut gaan kry nie. Dit is ‘n vermorsing van die wêreld se hulpbronne. Dink aan jou nageslag, meneer!
Dit alles gesê, my liewe (manlike lesers) moet asseblief nie dink dat ek nie glo aan ‘n tweede kans op geluk en liefde nie. Almal is geregtig op ‘n liefdevolle verhouding met ‘n maat wat jou lewe weer vol maak. Iemand wat jou hart laat sing en jou laat uitsien na nuwe avonture.
Nie jy nie, Manlief! Ek het jou klaar bederf vir enige ander vrou – maar almal anders. Lank lewe die liefde!