Groot Brulpadda in ‘n klein plassie.

In elke poeletjie kry ‘n mens ‘n padda wat hom verbeel hy is die brulpadda onder die paddavissies. Ons dorpie se regsgeleerdes, en hof, is geen uitsondering nie. Soms gee die lewe ‘n mens ‘n paar taai klappe, en kom jy te staan teen so ‘n regsgeleerde brulpadda. Dan help dit nie om sagmoedig die ander wang te draai nie. Die enigste uitweg is om Brulpadda aan sy pofferwange te gryp en terug te knyp.
Die gemors begin wanneer mens na jou eie regsgeleerde begin soek in hierdie dorpspoeletjie…
Om mee te begin is daar net ‘n handjievol van hierdie hoogsgeleerdes wat jou saak moet stel in die hof. Tweedens is daar min (lees: geen) prokureur wat kans sien vir Brulpadda se geblaas en geplas nie. In hierdie modderige poel is daar net plek vir één brulpadda. Al die ander paddavissies moet soetjies agter hom aan swem.
Die tweede, onvoorsiene, struikelblok is dat reg en geregtigheid nie mag inmeng met familiegeld en aansien nie. Dit leer mens na baie tyd, trane en uitgawes.
Uiteindelik was die oplossing duidelik : Vind ‘n prokureur, met integriteit, ve-e-e-e-e-e-e-e-r van hierdie poeletjie af. Deur die Genade vind ons ‘n flamink wat brullerige paddas vir ontbyt eet.
Sy staan met haar skraal beentjies hoog bo die bedompige poel met sy slymerige swemmers. Uit die hoogte steek sy die vuur onder die clueless Brulpadda aan. Vreesloos daag sy venynige Brulpadda uit. Die skrif is aan die muur – sy beplan om sy waterpoel vir hom te saniteer, met of sonder sy samewerking.
Vurige Flamink ken die wet op die punte van haar vingers. Vinnig – vinnig sorteer sy die afgedankte voetesleper (geleerde paddavis) se laksheid uit. Haar oë spoeg vuur oor die onprofessionele optrede van Brulpadda en sy trawante. Sy neem die swaard van regverdigheid met vasberadenheid op. Niemand gaan haar kuikens se vere verder deurmekaar krap nie.
Die water rondom Brulpadda word warmer en warmer…
Met hul eerste fisiese ontmoeting spat die vonke. Houtgerus in sy eie belangrikheid probeer Brulpadda haar oortuig dat haar kuikens eintlik kakkerlakke is. Sy mors haar tyd met verloorders. Sommerso! Reg voor die hof!
Flamink mors nie ‘n kosbare sekonde van haar tyd om op sy (ongevraagde) kommentaar te reageer nie. Sowat van amateuragtigheid het sy in haar beroep nog nooit ervaar nie. Komkommerkoel groet sy haar kuikens wat op daardie oomblik hul verskyning maak.
Brulpadda sluk ‘n wind oor die onverwagte aankoms. Die blinde sambok looi hom soos ‘n vloek uit die Bybel. Hy begin hakkel, hy stotter, hy val oor sy woorde. Hy vergeet sy eie naam. Met wapperende toga kies hy liefs die hasepad na die veilige bekendheid van sy hof.
Flamink glimlag fyntjies vir haar kuikens.
Brulpadda skep moed toe die Landdros nie opdaag vir die saak nie. Hy ken die instaan-landdros ook goed, hulle plas mos al dekades saam in hierdie plassie. Dankie tog, omring deur bekende gesigte kan hy weer onthou wie hy is.
Almal word soos sardiens in Nuwe Landdros se kantoor geprop. Brulpadda wil die saak uitstel, weer, want Flamink het met haar blote teenwoordigheid ‘n tsoenami in sy poel veroorsaak. Kalmte moet herstel word. Dramaties beduie hy vir die Landdros die kompleksiteit van die kuikens se saak.
Flamink glimlag – effens meerderwaardig – omdat hy sy onkunde so ten toon stel.
Brulpadda druk deur. Al wat hy wil hê, u Edele, is ‘n vreedsame ooreenkoms, daarom dat hy die kuikens telkemale genooi het om van sy oop-deur-beleid gebruik te maak. Ha! Hy kyk na Nuwe Landdros met oë wat soebat vir begrip vir hierdie netelige situasie waarin hy hom bevind. Hy sit tussen vuur en warm water.
Flamink rol haar oë en kyk af na die grond. Brulpadda is besig om haar geduld te beproef. So gou as toelaatbaar sjoe-sjoe sy haar kuikens by die deur uit. Dit is duidelik wat hy met sy oop deur kan doen. Die Kuikens stribbel nie teë nie, want Flamink kan bietjie kwaai wees. Brulpadda kry nie eers ‘n terugblik nie.
By die tweede, en laaste, ontmoeting is die water heeltemal te warm vir arme Brulpadda. Hy sweet. Siestog! Hy het álles probeer om Flamink te ontsenu. Hy het briewe geskryf, gedryg, weer briewe geskryf, harder gedreig – maar Flamink is onbeweegbaar. Haar bene is in die sement van die wet en billikheid geplant.
Brulpadda kook. Hy is bloedrooi in sy gesig, die are op sy voorkop dreig om te bars. Die wagte voor sy mond gee die stryd gewonne en hy skree op Flamink. In die hof, nogals. Siesa!
Rustig, in ‘n sagte fluisterstem, vermaan Flamink hom dat hulle buite die hof moet gesels. Sonder om te kyk of hy kom, stap sy kalm by die deur uit.
Brulpadda is verstom. Hoe durf sy? Weet sy nie wie hy is nie? Sy laat hom geen keuse as om haar te volg nie.
Die kuikens wonder of daar paramedici in die gebou is. Brulpadda lyk nie wel nie. Die Flamink-effek is dodelik – veral vir venynige brulpaddas.
Dit is met die terugkom-slag wat die water finaal oorkook rondom Brulpadda. Die deur gryp sy toga stewig vas. Momentum ruk hom ‘n treë terug. Alle oë is nou op hom. Hy ruk hard aan sy toga, maar die deur klou harder. Hy moet nou heeltemal omdraai om sy toga uit die deur se kloue te bevry. Waardigheid is nie eers ‘n vae gedagte nie.
En … Flamink lag! Wie kan haar blameer?
Die kuikens, die klerke, prokureurs, aangeklaagdes en eisers, almal, sien hoe verlaat Brulpadda se strydlustige gees sy liggaam…
Flamink = drie, Brulpadda = Nul.
Bravo, Flamink!!