Ek is Vrou

Ek en Manlief was onlangs so bevoorreg  om in ‘n diep gesprek te wees met ‘n nuwe, jong vriendin. In die ons-leer-mekaar-ken-fase van die gesprek, verklaar sy uit die bloute dat sy ‘n feminis is.

Manlief lig dadelik ‘n wenkbrou en trek sy mond op ‘n plooi. Ek kan sommer sien hier kom ‘n ding en ek skuif myself gemaklik. Heimlik wens ek vir popcorn, want hierdie gaan ‘n titaniese stryd wees.

Jong Vriendin kan sien dat sy ‘n duwweltjie in Manlief se vlees raak gekrap het, en sy skop hakke in. Hy het dan drie dogters, hoe kan hy nie ook ‘n feminis wees nie? Dit is vir haar duidelik dat hy nie die begrip mooi verstaan nie. Hy moet gehelp word: Jong vriendin ruk die geskiedenis van feminisme tot by die Suffragettes uit. Op die daad moet ons ook na ‘n video kyk, van ‘n baie jong Emma Watson, waar sy ‘n toespraak voor die Verenigde Nasies maak oor die gelyke regte van vroue.

Ek kan sien dat Manlief en Jong Vriendin se beskouinge steeds nie ooreenstem nie. Nie eers nog ‘n glasie Rooiwyn gaan hulle gesellig saam, langs die feministiese kampvuurtjie, laat sit nie.

Manlief werk daagliks met Amerikaanse vrouens wat glo dat die gelykheid van vroue gelykstaande aan die vertrapping van mans is. Feminisme is vir hom ‘n dwaling direk uit die mond van Satan se sussie. Nie eers die welsprekende Emma Watson sal hom anders oortuig nie.

Die gesprek tussen die twee het my laat dink : Hoe sien ek myself as ‘n vrou? Waarom verdien vroue ‘n publieke vakansiedag spesiaal net vir hulle? As ons dan so hard baklei vir gelyke regte, waarom is daar nie ‘n spesiale vakansiedag vir mans nie? Is ons dan nie gelykes nie?

Dit is toe dat ek ‘n a-ha oomblik beleef. Ek wíl nie gelyk wees nie! Ek wil nie eers gelyk wees aan ander vrouens nie, laat staan nog aan mans. Ek is uniek. Enig in my soort. (Manlief dank daagliks sy goeie geluk dat daar nie twee van my is nie.)

Ek is veelkantig, kompleks, eenvoudig, aanpasbaar in bykans elke uitdaging wat die lewe voor my voete gooi. Daar is geen manier hoe ek in die boksie kan pas wat die samelewing sien as die volmaakte vrou nie. 

Ek is Ragab, in die wêreld se oë ‘n sondares.Hoe harder ek probeer om die goeie te doen, hoe meer doen ek die verkeerde. Ek is ongeduldig, kort van draad en raak super geïrriteerd met nietighede.

Ek is ook die Ragab wat moedig probeer om te help waar ek kan, omdat God dit van my verwag. Die risiko van my eie gemak wat in die drang mag kom, maak nie vir my saak nie, want my vrou-van-God-wees dwing my tot aksie.

Ek is Rut, ‘n vreemdeling in wêreld se oë. Ek gee nie om nie. Ek is selfs vir myself ‘n bietjie vreemd. In ‘n kleurvolle pakkie vetkryte, waarom sal ek die gryse wil wees? Ek hoef nie almal om my te ken nie – hulle hoef my nie te ken nie! Ek is sielsgelukkig met my eie geselskap. (Niemand is so skerp en snaaks soos die stemme in my kop nie!)

Ek is ook die Rut wat veilig onder God se vleuels geneem is. In tye van erge verleentheid en hartseer het Hy dit omgeswaai in geleenthede en vreugde. Sy voorsiening is sonder uitsondering, sonder voorbehoud. Sy enigste verwagting is my gehoorsaamheid.

Selfs op ‘n goeie dag is ek nie  Marta nie.  Die versorging van huis en haard is bo my vuurmaakplek. Wat vir ander knap vroue natuurlik is, kom nie vir my vanself nie. Hierdie deugsaamheid verg moed en deursettingsvermoë waaroor ek nie beskik nie. (Om eerlik te wees – ek probeer ook nie vreeslik hard nie.)

Ek is Maria, in die wêreld se oë ‘n eenvoudige vrou van nederige herkoms. Dit verg reuse inspanning van my om deel te neem aan la-di-da vrouegroepe en hul aktiwiteite. Ek voel soos ‘n indringer in ‘n leefstyl wat nie by my pas, όf vir my belangrik is nie. Ek kén vrees, magteloosheid en armoede. Ek dra dit soos oorlogslittekens aan my siel. 

Ek is Maria, ‘n randfiguur in die samelewing, wat heel dikwels volgens die samelewing se reëls ontoepaslik optree. Genadiglik is ek ook Maria, geseënde onder die vroue. Want God self kies die gebrokenes, die randeiers, die swakkes en die vreemdes.

Ek is al hierdie vroue, en ook nie een van hulle nie. Nêrens anders is die gesegde; “Die dele is groter as die geheel.”, meer waar as in die beskrywing van vroue nie. Daarom kan ek nie toelaat dat die samelewing my, as vrou, definiëer nie. Ons durf nie toelaat dat ‘n lamlendige samelewing ons boelie om te konformeer tot aanvaarbaarheid in die wêreld se oë nie…

God kyk deur Christus se oë na my, na vroue, sien ons geloof raak, en noem ons waardig. Ek is ‘n vrou wat geskep is na God se beeld. Ek is ‘n vrou wat op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Ek is kosbaarder as koraal. Ek is Vrou.