Dubbel-doen Dolla

Ek is nie een van daardie ek-kan-meer-as-een-ding-doen-terwyl-ek-bestuur-vrouens nie. Vir my verg dit erge konsentrasie om ratte te verander en terselfdertyd binne die spoedgrens te bly. Om dan ook nog rigting te hou is ‘n byna bo-menslike prestasie. So het ek al met my eie oë gesien hoe ‘n vrou grimering aansit, haar selfoon antwoord, die radio sagter draai én op die bestuurder voor haar swets wat nie in sy baan bly nie. Ongelooflik!

So gebeur dit dat Laatlam ‘n hokkiewedstryd in die bose stad speel. Hulle vertrek tydens skooltyd met die bus, sodat hulle betyds kan wees. Mamma moet haar asseblief daar kry. Natuurlik sal Mamma, anders voel Mamma totaal ontoereikend en asof sy niks vir haar bloedjie omgee nie. Dit sal jare se terapie neem vir Bloedjie om deur haar gevoelens van verwerping te werk. Ek kán dit nie aan haar doen nie.

“Wat is die probleem?” hoor ek jou vra. Wel…Manlief kan nie saam nie.Probleem? Ek sal alleen moet ry. Probleem? Ek. Sal. Alleen. Moet. Ry! Probleem? Ek verwys jou graag na paragraaf een van hierdie skrywe.

Manlief, die oplosser van alle probleme, beduie kalm dat ek net Google Maps moet gebruik. Dit is heel gerieflik reeds op my foon gelaai. Hy sal klaar die adres vir my insleutel. Ek volg net die instruksies. Maklik!

Ek verstik in my spoeg. Ek kan nie op my foon kyk terwyl ek bestuur nie. Ek moet ratte verander en in my baan bly. Wat nog van koershou?

Manlief, nog steeds kalm, verduidelik dat hy die foon in ‘n staandertjie reg langs die stuurwiel gaan sit. My oë sal te alle tye op die pad kan bly. Ook sal hy die GPS se stem-watsenaampie aansit, dan hoef ek net my ore oop te maak. Inderdaad.

Na ‘n hewige sessie van mooipraat, motiveer, en uiteindelik ‘n vreeslike kwaai stem (nie myne nie), is ek agter die stuurwiel. Fluks op pad na Laatlam in die stad. Alles verloop glad. Ek sing kliphard saam met die radio. Die pad lê in ‘n mooi reguit lyn voor my. Die GPS-tannie sê net nou en dan ‘n ietsie. Ek wens myself geluk met my selfstandige optrede…I can buy myself flowers – dankie, Miley Cyrus! 

Dit blyk my gelukwensing was bietjie voortydig, want halfpad na my eindbestemming is my selfoon se battery pap. Morsdood!.My hart mis ‘n slag of drie. Die paniek verlam my brein. Ek kan voel hoe my gees my lyf verlaat. Ek is van niks seker nie, behalwe die pad terug huis toe want dit lê in ‘n reguit lyn.

Die enigste opsie is om stil te hou totdat my brein se sinapse weer konneksies kan maak. Na vyf minute se diep denke en ‘n hele pakkie Jelly Tots in my keel af, onthou ek dat my foon se laaier agter in die kattebak is. Fantasties!

Nadat my roksoom weer kuis om my enkels is, en ek my droë mond kon hidreer (die wind langs die hoofpad is ‘n vieslike ding), is ek weer op die pad. Die selfoon is fluks besig om sy kragte te herlaai. Ek kom, my kind, ek kom…

Ek is versigtig optimisties dat alles weer onder beheer is. Helaas! Uit die hoekie van my linkeroog lyk dit asof die GPS-outjie wys ek moet draai. Ek kan nie seker wees nie, want deur my bril se lense is die beeld op my foon wasig. Nog steeds is ek nie heeltemal bang nie, want die GPS-tannie sal vir my sê wat om te doen. (Ek het tot die radio af gesit om beter te kan sien.) Stilte. Ek ry verby die afrit. Stilte. Paaie draai links en regs af, maar die tannie swyg. Ek besef  daar is fout, ek sal wraggies wéér langs die pad moet stilhou.

Dit is eers toe ek met my foon in die hand sit, dat ek sien ek móés gedraai het. Nou is ek effens vererg vir die tannie, want as ek my bril op het om te sien waarheen ek ry, dan is my foonskerm nie in fokus nie. Dan moet ek oor my brilraam loer om te sien wat op die skermpie aangaan. Dit beteken ek moet my foon in my een hand vashou, bo-oor die raam loer vir aanwysings, dan my bril terug op my neus druk om die pad raak te sien, terwyl ek met net een hand bestuur. (Ek verwys weereens na paragraaf een.) Dit gaan nooit werk nie. Ek het nodig dat die vroumens praat!

Na nog ‘n paar (heelwat) kalmerende asemteue, ontdek ek dat die tannie se stem net werk as die foon nie aan sy lewenslyn gekoppel is nie. Nie ‘n probleem nie, behalwe dat my foon sy tyd gebruik om sy kragte te herlaai. Ek sal jou die detail spaar van die intense gesprek wat toe tussen my, die foon en die tannie plaasgevind het…

Daar is niemand so gedetermineerd soos ‘n ma wat na haar kind toe op pad is nie. Sy lag in die gesig van vrese, fobies en tekortkominge. Ek sit die kar in rat en verander in ‘n Dubbeldoen-Dolla. Ek hou die foon op my skoot, verander ratte, ruk die kabeltjie uit die laaier wanneer die tannie moet praat, druk dit weer in wanneer die lam foon kragte kort…álles met my linkerhand. My regterhand klou die stuurwiel vas. My voete bewerk die pedale. My oë flits tussen my bril se lens en loer oor die brilraam. Ek kyk ver, en ek kyk naby, soos wat geen bi-fokale lens kan nadoen nie. 

Daar is geen tyd vir paniek nie. My ribbes klou my siel vas. Ek bid en skel om die beurt die tannie wat vir my te laat sê om te draai. Mamma kom, my poppie, Mamma kom.

Teen die tyd wat ek sopnat gesweet by die hokkieveld stop, is die wedstryd vergete tyd verby. Laatlam was nie eers vies dat ek alles gemis het nie, sy was maar net te dankbaar dat ek wel daar uit gekom het. Ek dink haar verwagting was dat sy en haar pa my in Mosambiek sou moes gaan haal, gegewe my taktiese tekortkominge. Ha! I can buy my own flowers…

* Dubbeldoen-Dolla = ‘n Multi-tasker (Lynette De Beer, Jul 09, 2020)