Help! Die wêreld om my het mal geword. Of is dit ek wat in ʼn alternatiewe onrealistiese wêreld leef? Ek is nie meer seker van enigiets nie. My wêreld is op sy kop gekeer. Swart is nie meer swart nie, en wit is nie meer wit nie.

Lojaliteit bestaan vandag net in ʼn woordeboek. Die pad wat saam gestap, gehardloop en soms gekruip is, beteken niks. Die oomblik wat eiebelang intree, word lewenslange reisgenote onder hul alies geskop en ʼn eie pad word ingeslaan. Natuurlik moet die lewe sy gang gaan en vind daar noodwendig persoonlike groei en ontwikkeling plaas. Dit is tog ʼn gegewe dat verandering noodsaaklik en onvermydelik is. Maar is dit onrealisties van my om te verwag dat ons paaie steeds langs mekaar kan loop met onontbeerlike kruisings so nou en dan? Kan ons ten minste nog op dieselfde padkaart wees?

Eerlikheid strek net so ver as my eie waarheid. Prinses Catherine van Engeland het dit so mooi gestel: “Recollections may vary.” Inderdaad. Skielik is dit aanvaarbaar om net halwe waarhede te vertel. Dit wat ek deel, is nie ʼn leuen nie, dit is net die gedeelte van die waarheid wat mý pas en mý in ʼn beter lig stel. Maar hierdie halwe waarhede lei tot onuitspreeklike hartseer tussen gesinslede, familie en vriende. En niemand is ooit bereid om die twee halwes een geheel te maak nie.

Doodgewone bedagsaamheid en hoflikheid is vandag skaarser as hoendertande. Leef ons in ʼn wêreld waar hierdie waardes onnodig is, of het ons dit verloor in ons eie egoïsme? Ek staan verstom oor hoe maklik dit geword het om net oor jouself begaan te wees. Onbedagsaam oor ander mense se gevoelens, beur ons net onbeskof voort. Solank ek net gelukkig is, traak jou belewenis my glad nie. Maak ek jou seer met my woorde en dade? Jammer om te hoor. Dompel my besluite jou in ʼn benarde posisie? Bou ʼn brug en kom daaroor.

Selfs dankbaarheid is nou vermorsde energie. ʼn Doodgewone “dankie” kom nie meer oor ons lippe nie, laat staan nog uit ons harte. Beslis verwag ek nie dat jy na die ooste toe moet salaam elke keer dat ek iets vir jou doen nie. Maar …wat van: dankie vir jou omgee, dankie vir jou sorg, dankie vir jou aandag, dankie vir jou tyd, dankie vir jou liefde. Net dit. Dankie!

‘n Kollega het ‘n paar jaar terug vir my gesê dat ek my verwagtinge van mense moet verlaag. Sodoende kan ek nie teleurgestel word nie. As ek niks van ander verwag nie, is selfs die geringste poging tot ordentlike menswees ‘n bonus. Maar ek weier om dit te aanvaar – laat staan nog om my lewe so in te rig. My hart is flenters by die blote gedagte dat nie almal (selfs hartsmense) dieselfde uitkyk as ek het oor wat die basiese elemente van menswees behoort te wees nie.

Is ek dalk regtig van ʼn ander planeet om lojaliteit, eerlikheid, bedagsaamheid en dankbaarheid van my mede-mens te verwag? Is ek heeltemal laf om te verwag dat hierdie kwaliteite so deel van ons lewens soos asemhaal moet wees? Of is die wêreld oplaas totaal van sy trollie af?