My spiere is seer. My voete is seer. My oë is seer. Alles pyn. My asemhaling is te vlak. My hartklop te vinnig. Here, nie nou nie! Asseblief, nie nou nie. Nie vanaand nie. Vanaand moet ek dans vir my lewe.
Die briewe het begin net nadat ek die rol van Odette, in Swan Lake, gekry het. Die eerste koevert was onder my kar se ruitveër gedruk. Binne-in was net ’n enkele getikte bladsy: ‘Baie geluk! Jy gaan ’n uitmuntende swaan wees. Die Resensent.’ Ek was in die sewende hemel. My heel eerste solo dansrol, my heel eerste bewonderaarsbrief.
Jy skuif gemaklik op die stoel – wel, so gemaklik as wat mens kan wees op ’n harde teaterstoel. Jy sit, soos altyd, in die heel voorste ry. Net die orkesput skei jou van die dansers op die verhoog. Die tweede toneel gaan begin. Jy het geen begeerte om die eerste toneel te sien nie. Sý dans nou eers. Jy sit die bos blomme wat jy saam gebring het, langs jou op die leë stoel neer. Jy weet nie waarom jy dit ten duurste gekoop het nie – sy is dit beslis nie werd nie.
Ek haal diep asem. Forseer die pyn om in ’n klein bondeltjie op te krul in ’n hoekie van my gedagtes. My mond is kurkdroog. Daar is genoeg tyd om nog ’n paar slukke water uit my bottel te drink. Die assistent-choreograaf sorg dat ons altyd water byderhand het. Die eerste note van my solo vul die verhoog. My lyf kry lewe, my geoefende spiere weet wat om te doen. Ek beweeg agter die beskerming van die gordyn uit. My tyd is hier.
Die tweede brief het na die eerste week se repetisie op my danssak gelê. Netjies vasgedruk met die skouerband sodat dit nie val nie. ‘Ek hoop nie jy is te jonk en onervare vir die rol nie. Ek hou jou dop. Die Resensent.’ Vererg het ek die opgefrommelde brief in die naaste asblik gegooi, terwyl ek gulsig uit my waterbottel drink. Ek werk te hard om my te steur aan nonsens.
Jy kan sien dat Odette nie op haar beste is nie. Haar bewegings sal vir die leek perfek lyk, maar jy weet van beter. Jy kan sien dat sy gespanne is. Jy glimlag effens. Ja-nee, poppie, nie enigeen is ’n prima balerina nie. Nie soos jy wat vir die verhoog gebore was nie…As dit net nie vir daardie verdomde gladde kol op die vloer was nie.
Nou, in hierdie oomblik, voel ek geen pyn nie. Die note word my asemhaling. My tone raak skaars die verhoog, my arms is Odette se sierlike vlerke. My spiere strek grasieus verder as wat menslik moontlik is. Ek ís Odette, Swaankoningin.
Vir ’n millisekonde maak ek oogkontak met jou waar jy in die voorste ry sit. Hoe vreemd om jou daar te sien. Ek skrik toe prins Siegfried aan my hand raak. Fokus! Ek kan nie bekostig om alreeds in die openingsaand foute te maak nie.
Na die eerste twee weke van repetisie het die briewe in ’n daaglikse stroom gekom. Dit sou opduik in plekke waar ek dit die minste verwag. My oefensak, spieëltafel, in my kar. Dit was orals. Orals. Elkeen meer dreigend as die vorige een. My tegniek is amateuragtig. My vertolking is oppervlakkig. My postuur is swak. Ek is te swaar. Almal geteken deur Die Resensent. Aanhoudend. Totdat ek geskrik het vir my eie skaduwee en paniekaanvalle ’n bekende vyand was wat ek moes wegsteek.
Kostelik. Jy kon dit self nie beter beplan het nie. Wat is die kans van oogkontak in die gedempte lig van die teater? Jy kon die verbasing in haar oë sien. Wat ’n amateur! Vir daardie oomblik was sy heeltemal uit karakter. Erger nog, sy was ’n sekonde laat om prins Siegfried se hand te neem. Jy weet hoe perfeksionisties dié danser is. Hoeveel keer het jy nie al teenoor hom gedans as sy Odette nie? Hierdie glips gaan nie ongesiens by hom verbygaan nie. Perfek!
Ek sien die frons tussen prins Siegfried se perfek geplukte wenkbroue. Die musiek is nie meer in my lyf nie. Die pyn lig sy kop en dreig om in my spiere te klim. Here, help my! Ek draai. Ek sweef. My vlerke is lood.
Die brief wat in my kleedkamer aan my tutu vasgesteek was, het net een sin bevat: ‘Jou swanesang eindig vanaand voor die vierde bedryf. Die Resensent.’
Jy staan op voordat Odette die vloer tref. Jou werk is afgehandel. Dit is jammer, maar jy het van die begin af geweet die ballerina gaan nie die paal haal nie. Na die derde brief was sy reeds ’n wrak. Geen sterkte van karakter nie. Sy kόn eenvoudig nie in jou voetspore volg nie. Jy los die bos blomme net daar op die stoel. Sy verdien dit nie.
Jy glip ongesiens by die verhoogdeur uit. Nie dat enigiemand jou meer raaksien nie. Jou heup gil die pynlike onreg uit dat jy gereduseer is tot assistent-choreograaf, wie se belangrikste werk is om die dansers se waterbottels vol te hou.