My ma het altyd gesê daar is nie pille vir stoepitgeit nie. Om dom te wees kan nie verhelp word nie – jy word so gebore. Die natuur het dit so beskik dat nie almal van ons oor dieselfde breinkrag beskik nie. Hiermee het ek oneindige geduld. Maar stoepit mense kies om nie hul Godgegewe denke te gebruik nie. Dit is hierdie stoepittes wat in hul dwaasheid die rooi knoppie in my brein druk, wat die atoombom aktiveer.
Ek het dit nou al tot naarwordenstoe bedink waarom stoepit mense my retoere-meter oombliklik tot binne-in die rooi stoot, maar ‘n finale antwoord bly my ontwyk. Die beste waarmee ek vorendag kan kom is omdat daar geen logika, rym of ritme in hul denke is nie…net steekse halstarrigheid.
Dom mense is duidelik herkenbaar – hulle maak hulle monde oop en jy weet: Die hysbak gaan nie heeltemal tot bo nie. Hulle het niks om weg te steek, of voor te gee nie. Dit is nie almal beskore om ‘n Albert Einstein te wees, of Nobel-pryse te wen, nie. En dit is goed so.
Die ding met stoepit mense is dat hulle dit wel kan wegsteek dat hulle hysbak sommer lukraak op enige vloer stop. Selfs tussen vloere. Jare lank kan hulle die stoepitgeit wegsteek. Vir almal om hulle, ook vir hulself. Totdat daar ‘n situasie opduik waar hul ego met logika gekonfronteer word. Sjoe! Dit is soos om ‘n rooi vlag voor Stoepit te waai. Hy brul orent en storm vir Denke plat. Wanneer stoepitgeit geaktiveer is, dan is dit klaar met Kees. Daar is geen salf te smeer, of pilletjie om te sluk nie.
Stoepit mense praat uit twee monde. Jy dink nog dat julle op dieselfde bladsy is, dan het hulle ‘n 180 grade draai gemaak. Terug op hul eie woorde en beloftes. Jou kop draai nog in die poging om agter te kom watter koers hulle ingeslaan het, dan is julle nie eers meer in dieselfde boek nie. Net so, in ‘n oogwink!
Om te dink dat jy tot Stoepit kan deurdring, is ‘n oefening in futiliteit. Die windjie wat jy per ongeluk los, het ‘n groter kans om hoorbaar te wees in ‘n donderstorm. Hulle persepsie van waarheid is só verwronge dat selfs al slaan die feite hulle oor die kop, kan hulle nie die kaf van die koring skei nie. Dit sal jou niks baat om nog meer bewyse, logies en duidelik uiteen gesit, voor hulle op die tafel te sit nie. Dit laat net die Stoepit in hulle vasskop en toor beelde van ‘n heksejag by hulle op.
Omdat stoepit mense se oordeelsvermoë hulle erg in die steek laat, is dit maklik om hulle te manipuleer en mislei. Al wat jy moet doen is om saggies-saggies woorde in hul oor te fluister wat hul ego streel. Aller-belangrike Ego gryp vir Stoepit om die lyf en soos pronkerige karperde trippel hulle agter die nuwe meester aan. Vergete is waarheid en lojaliteit. Vergete is waardes en normes. Vergete is hartsvriende…
Al bogenoemde kan ek nog probeer hanteer, maar my brein wil ontplof en ek wil my gesig afruk wanneer die Stoepittes hul slagoffer-mentaliteit soos ‘n geliefde kombersie om hulle draai. Die hele wêreld is verkeerd, net hulle is reg. Hulle loop hulle pad alleen, want almal het teen hulle gedraai. Almal het ‘n vendetta teen hulle. Siestoggies!
Dan wil ek Manlief se geliefkoosde uitdrukking gebruik: “Stop dit!” Die eerste tree na genesing (van epidermiese stoepitgeit) is om te erken dat jy sélf jou pad gekies het. Jy het sélf gekies om jou rug op die waarheid te draai. Jy het sélf gekies om geliefdes te verraai. Jy het sélf gekies om weg te stap.
Ek wens ek het vroeër na my wyse ma geluister. Dan was my bloeddruk onder beheer en my hart nie stukkend nie. Dan het ek net kalmpies weggestap, want daar is nie pille vir stoepit nie.