Ek is ‘n ferm navolger van die verbranding van brûe. Het hierdie fanatiese verbranding van simboliese brûe my al telkemale in die agterend gehap? Natuurlik! Leer ek my les? Nooit. Dit moet die verskuilde Piromaan in my wees.
My man is die totaal teenoorgestelde van my . Waar dit by takt en diplomasie kom, kan niemand by hom kers vashou nie. Vir hom is dit deel van sy strategiese denke – jy kan net nooit sê wanneer jy weer oor daardie brug gaan moet loop nie. “Never say never”, en al dié dinge…
Miskien is dit die rebel binne my wat kapsie maak teen die volwasse manier van dinge doen. My hele wese skree ten hemele teen die gedagte om ten alle tye, met alle persone, in alle omstandighede, op ‘n beskaafde wyse weë te skei. Waarom hierdie aandrang van die samelewing om selfs met jou aartsnemesis goeie verhoudinge te handhaaf? Wat is die nut, of die pret daarin?
Natuurlik sê ek nie dat mens jou hele lewe in ‘n voortdurende oorlogsone moet verander nie. Só liggeraak en wipperig is ek darem nie. Anders as die indruk wat ek dalk nou skep, is ek eintlik ‘n vredeliewende, druk-die-boom tipe mens. MAAR… Daar is beslis omstandighede, en mense, waar ‘n mens nie anders kan as om die dinamiet en vuurhoutjies nader te hark nie.
Voorbeeld nommer een: Sommige mense se traak-my-nie-agtige houdings. Dit gee my hartkloppings net om aan hierdie persone te dink. Sulke mense, wat al telkemale my pad gekruis het, dryf net saam met die stroom. Hulle gee nie ‘n sekonde se gedagte aan wie, of wat, eintlik die beweging verskaf nie. Sulke gemaksugtige drywers doen net genoeg dat hulle koppe darem bokant die water bly. ‘Uitnemendheid’ is nie ‘n woord wat jy in hul woordeskat (dalk omdat hulle te lui was om te leer spel?), of in hul aksies sal vind nie.
Werk jy dan vir ‘n maatskappy wat dooierige drywers duld, en selfs beloon, dan sê ek: “Bring die vuur. Hierdie brug moet brand met woedende vlamme.” Gryp jou handsak en hol so vinnig as wat jy kan oor die brug. Moenie terug kyk nie. Moenie twee keer dink nie. Inteendeel. Gooi sommer ook ‘n Molotov-cocktail oor jou skouer net om seker te maak die brug brand af tot op die grond. Selfs al kom jou redelike self ongenooid na vore sal dit jou gelukkig niks help nie, want van daai brug is net ‘n gedagte oor.
Dalk ‘n bietjie drasties vir jou smaak?
Voorbeeld nommer twee: Toksiese mense! Hier verwys ek nie net na kollegas nie, maar ook vriende en selfs familie. Toksiese mense kán nie anders as om hul gif te versprei nie. Dit is in hulle aard. Hulle kan minder aan hul aard verander as ‘n giftige boomslang. Diesulkes diskrimineer nie. Geen persoon word ontsien nie. Kan jy vir die boomslang voorskryf om net slegte mense te pik?
Jou eie goeie intensies en welwillendheid maak geen hond (of slang) haaraf nie. Indien jy enige hoop of verwagting van ‘n wederkerige verhouding het, vergeet daarvan. Gifappeltjies het altyd net hul eie belange op die hart. Rome kan brand, Tafelberg kan omval, die see kan opdroog, Gifappel sal gal braak omdat die hele wêreld teen hulle is.
Ter wille van jou eie sieleheil en welstand beter jy blitsig ‘n brug tussen julle bou. Vang dan ‘n draffie oor dit, en laat die brug in ligtelaaie opgaan. Onthou! Moenie omkyk nie. Het jy vergeet wat met Lot se vrou gebeur het?
Verstaan jy nou dat nie alle brûe bestaansreg het nie? Glo my maar, geregverdigde vlamme sal jou siel knussies verwarm. Moet jou nie steur aan die redelikes wat mompel oor vlamme van berou nie. Brand die vervlakste brug. Dans ‘n riel in die vlamme van bevryding!