Langste-man-in-ons-dorpie vertel nou die dag dat die natuur die mooiste beelde aan ons gee, as ons net ons oë oopmaak om dit raak te sien.
Hy het vroegoggend gaan fietsry, al die pad tot by Gevaarbaai. Terwyl hy so in die voetpaadjie ry, sien hy die bos onkruid raak wat sommerso ongeërg in die middel van die paadjie groei. Mens sal nou dink dat iemand sou buk om die bos uit te trek, maar nee! In stede daarvan is daar al ‘n gawe paadjie rondom die bossie uitgetrap.
Langman sê dat dit vir hom tipies is van ons mensdom. Ons laat ‘n stuk sonde toe om wortel te skiet in ons lewenspad. Eerder as om die onding wortel en tak uit te roei, loop ons ‘n paadjie rondom dit uit. Dié ompad veroorsaak dat dit ons heelwat langer neem om weer op ons oorspronklike roete te kom – indien ooit.
Sy storie het my herinner aan ‘n interessante feit wat ek onlangs raak gelees het. Wanneer daar ‘n ernstige storm in die natuur broei, vlug die meeste diere weg van die storm af na gewaande veiligheid. Nie buffels nie. Hulle storm kop eerste die storm binne, want hulle weet instinktief dat die kortste pad na kalmte deur die storm is.
As ek maar net vroeër hierdie lesse geleer het…
Dan het ek my nie lewensmoeg gehardloop weg van die konflik in my lewe af nie. Ek haat konfrontasie en sal dit so lank` moontlik probeer vermy. Die probleem daarmee is dat ek dan ‘n diep sloot rondom die konflik loop. Dink wêreldoorloë. Manskappe wat in diep slote veilig is teen vyandelike vuur.
Die gemors van hierdie slote is dat mens perspektief verloor. Jy kan net sien wat in die beperkte ruimtetjie rondom jou is, maar jy klou verbete vas aan hierdie stukkie skynbare veiligheid. Jy trek jou kop dieper tussen jou skouers in en waag nie ‘n kykie bo die sloot uit nie. Want jy weet… Jou konflik, probleem, sonde, wag met Job se geduld vir jou om ‘n beweging te maak. Net omdat jy wegkruip, beteken nie dat dit moed opgegee en verdwyn het nie.
Wat is die alternatief dan? Hurk jy by die bos in jou pad en takel dit verbete? Roei en stoei jy daarmee totdat daar nie eers meer ‘n worteltjie oor is nie?
In my beskeie opinie is dit die ideaal. Die regte ding om te doen. Ek het dit selfs probeer. Maar, dan moet jy bereid wees om die storm te trotseer.
Dít is ongelooflik moeilik. Veral as jy, soos ek, nog nie die les by die buffel geleer het nie. My ondappere self vind dit onmoontlik om die kortste pad deur die storm raak te sien. Wanneer die vyandige blitse rondom my slaan, draai ek op my hakke om en begin hardloop.
Almal wat my ken, sal weet wat my probleem is – ek het nie Langman se se beenlengte nie. Hoe vinnig kan ek nou eintlik met my paar fris boomstompies hardloop?
Dit word ‘n bose kringloop. Ek hardloop totdat my moeg, moeg is. As ek sien dat die storm my inhaal, dan markeer ek die pas totdat my sloot lekker diep is.
Dan kruip ek weg.
En die bossie word ‘n boom. Word ‘n plantasie.