Oudste Dogter was skaars twee jaar oud, toe ken sy woord vir woord die totale dialoog van die animasie film, Jungle Book. Haar gunsteling deel was wanneer Kaa, die reuse slang, sy verskyning maak met sy tongetjie wat uithang en sy ogies wat skeel kringetjies maak. Dan sis hy: “Oe, my sinusesssssssss…” Ek het nog nooit soveel met ‘n Disney karakter geïdentifiseer soos nou nie.
Ons dorpie aan die Weskus is al te pragtig getooi in al haar blomme-glorie. Die sypaadjies staan vol blomme. Die groenstroke is baldadig vol blomme. Ons agtertuin deel met oorgawe in die spektakel. Dis blomme net waar jy kyk. Pragtig.
Ek probeer my bes om saam met almal te ‘oe’ en ‘ahhh’, maar al klank wat uitkom is ‘n gekreun van pyn: “ My sinusesssss…” My neus loop nie. My oë traan nie bloedrooi nie. My kop PYN asof my brein uit my ore wil ontsnap – weg van enige sinusholte af, waar elke liewe stuifmeel korreltjie gesellig saamkloek.
Vir ‘n volle twee weke voel dit vir my asof ek by die poorte van die hemel uitkamp. Biddend dat die hekke vir my moet oopswaai.
Ek drink elke hoofpynpil in die huis op. Dit help nie. Manlief gaan haal dringend nóg voorraad. Ek drink dit ook alles op. Dit help nie. My kop is ferm in die kloue van ‘n vuurspuwende draak. Sy naels deurboor my skedel en karring in my brein. Ek bly plat lê.
Vriende dra raad en medikasie aan, want my ellende is teen hierdie tyd dwarsdeur die gemeenskap bekend. Ek kla en kreun by almal wat ‘n oor het. (Ek ly nie graag alleen en in stilte nie.) Manlief is nie simpatiek genoeg nie, ek kort ‘n gehoor vir my epiese tragedie.
Nuutgevonde Skoolmaat-van-toentertyd bied hulpvaardig haar man se skedule medikasie aan. Sy verstáán van ontsteekte sinusse. Haar man het ‘n onoopgemaakte spuitmiddel wat ek dadelik kan gebruik. Ek skenk nie twee sent se gedagtes aan die gevare daaraan vebonde om iemand anders se voorskrifmedikasie te gebruik nie. Ek is desperaat.
Ek snuif daardie spuitmiddel se doepa met groot oorgawe tot diep in my sinusholtes in. Die effek is onmiddelik en dramaties. Ek kry terugflitse van hoe reuse branders my onderstebo geslaan het by ‘n nabygeleë strand. Skoon uit my bostuk uit en die helfde van die strand in my broekie. Ek strompel orent, probeer die hare uit my oë vee, net om weer omgedop te word. Die soutwater was in my oë, my neus, my keel, my longe…Alles brand!
Net om seker te maak, gee ek elke neusgat nóg ‘n stewige spuit. Skoolmaat het nie gesê hoeveel spuite ek moet gee nie. Ook is ek teen die tyd al in die eindnaelloop van my aardse wedloop. Daar is nie meer tyd vir effentjiese behandeling nie. Die groot kanonne moet nou uitgeruk word.
‘n Dag later voel ek effens beter, maar nog lank nie gesond nie. Mooiste-vrou-op-die-dorp dring daarop aan dat sy vir my haar beproefde medisyne gaan bring. Ek moet die neussproei gebruik, en as die hoofpyn té erg is, dan is ‘n Grandpa poeiertjie (of twee / drie) die enigste oplossing.
Ek stem geesdriftig saam, want ken ek dan nie die helende krag van hierdie wit poeiertjie nie? Midde-in my volkome instemming vang Dokter Sporty Spice my oog. Sy is ‘n kwaai enetjie! In geen onsekere terme word ek en Mooiste Vrou geroskam. Grandpa poeiertjies is die satan se dwelm van keuse. Reg uit die hel uit!
Ek skrik en ontken oombliklik enige verhouding, ooit, met die helende Oupa. Ek kon sweer ek hoor ‘n haan drie keer kraai…Herinner myself stilweg om te onthou om vir Oupa diep in die medisynelaai te bêre voordat Dok Sporty Spice weer kom kuier.
Miskien was dit hierdie skrik wat my summier uit my dal van doodskaduwee geruk het.
Dalk was dit eerder die amusante prentjie van Manlief wat die hond en die kat se sinusse óók dokter, wat die uiteindelike genesing gebring het…
Eers drink die hond soet haar medisyne.
Kat was minder gelukkig om ook medisyne te drink. Sy spartel in Manlief se arms soos ‘n wafferse Houdini. Met ‘n effense harde woord laat Manlief haar val. Sy probeer wegkom, maar Manlief pen haar rats teen die grond vas. Spuit gereed in die een hand, kat se kop in die ander hand, staan hy gebuk met reguit bene soos ‘n kameelperd wat water drink. Manlief is paraat. Hy druk die spuit in haar bek. Sy krap soos ‘n beserkte wese. Hy laat los met ‘n harder woord. Die medisyne spuit orals behalwe in kat se bek. Manlief staan regop, bekyk die bloed op sy arm. Hy is KLAAR met medisyne gee vir hierdie kat. Sy is nou op haar eie.
Komaan, sou jy nie ook dadelik baie beter gevoel het nie? ‘n Lag ‘n dag, laat die dokter wag.