The Blue Room

“Hy is al weer hier, sien jy?” Die kroegmeisie beduie met ’n knik van haar kop na die tafeltjie in die hoek van die donker vertrek. Met ’n klam lap vee sy die donker hout van die toonbank skoon. “Stiptelik 9:00 ingekom, soos altyd.”

Hierdie tyd van die aand is The Blue Room nog verlate. Die stad kry eers na 10:00 lewe, wanneer almal uit hul gate kruip om aan die boesem van Bacchus vergetelheid te soek. Die kelner leun met sy bolyf oor die toonbank, probeer homself hoorbaar maak oor die harde musiek. “Hoeveel wed jy my dat hy getroud is en hier wag vir sy skelmpie?”

Die man sit ongemaklik. Sy dik woljas knel om sy skouers, maar hy kan nie waag om dit uit te trek nie. Hy vroetel aan die serp om sy nek – woel dit effens losser, maar haal dit nie af nie. Sy sál vanaand na hom toe kom. Hy weet dit. Hy sit sy hande, palms na onder, voor hom op die tafel. Wil die bewing uit sy vingers.

Die minute tik verby…

Die kroegmeisie klap speels met die lap na die kelner. “Moet jy altyd so sinies wees?” Haar oë glip na die man in die hoek. Hy laat haar ongemaklik voel. Daar hang ’n donkerte om hom. Waarom besoek jy ’n kroeg, maar drink niks? “Lyk hy nie vir jou ook asof die wêreld se laste op sy skoers druk nie?”

“Ag, foeitog!” Die kelner lag haar openlik uit. “Moeder Theresa se hartjie bloei al weer…” Hy vat haar hand wat obsessief besig is met die lap, stewig vas. Sy jong gesig in ’n frons getrek. “Ruby, ek is ernstig. Jou sagte hart gaan jou nog ernstig in die dinges drop. Jy hoef nie almal wat ’n voet in die deur steek, te red nie.”

Die man sug diep. Hoe lank gaan hy nog moet wag voordat sy ’n tree in sy rigting gee? Aand na aand kom hy na The Blue Room, hoopvol dat vanaand die aand sal wees. Hy wéét sy voel ook die magnetisme tussen hulle, maar sy speel met hom. Hou haarself afgetrokke. Hy glimlag effentjies. Ten spyte van haar nuwe beroep, hou sy haarself erg tradisioneel. Liewe, lawwe, dierbare domkoppie glo dat die man die jagter moet wees.

Die minute tik verby…die kroeg is gelukkig nog leeg…

Ruby ruk haar hand weg. “Stop dit, Mario! Jy weet nie waarvan jy praat nie!” Sy ruk haar lyf om, stoot die drankbottels op die rak in ’n netjieser ry. In die spieël, agter die ry bottels, probeer sy die man uitmaak. Net sy silhouette is sigbaar. Die blou ligte, wat volgens die eienaar ’n gesofistikeerde atmosfeer skep, skep net nog meer skaduwees op sy gesig. Sy gaan dit beslis nie teenoor Mario erken nie, maar die man laat haar effens ongemaklik voel. As sy hom net beter kan sien. Iets omtrent sy postuur wil – wil vir haar bekend lyk, maar sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Hou hy haar dop?

Mario vat die vergete lap van die toonbank af en begin ingedagte die naaste tafel skoon te vee. Onderlangs hou hy die man dop. Ruby kan haar maar wip – iets omtrent die man laat sy nekhare kriewel. Hy is nie van gister af ’n kelner nie. Mense is vir hom ’n oop boek. Hy kan gesigte lees vandat hy ’n kleuter was. Dié vaardigheid het hy duur bekom. Die mis van ’n mikro-uitdrukking op sy pa se gesig kon hom in die hospitaal laat beland het met ’n gebreekte arm…of iets ergers…

Wat het die knapie vir haar gesê? Die man sweet in sy warm jas. Miskien kan hy dit waag om ten minste die serp af te haal. Sy hande bewe. Die ventjie het haar ontstel. Hy kan dit in haar stywe rug sien. Natuurlik is die klein snotkop tot oor sy ore toe verlief op haar. In alle regverdigheid kan hy hom dit nie kwalik neem nie. Sy is werklik betowerend. Hy skuif in sy stoel. Patetiese seuntjie. Hy voel amper jammer vir hom.

Die minute tik verby…Die kroeg gaan nie meer lank leeg wees nie…

Ruby buk vinnig agter die toonbank in, maak haar handsak oop. Ervare verf sy haar lippe posbus-rooi sonder die hulp van ’n spieël. Selfversekerd kom sy regop. Sy is gereed, die mense kan maar kom. Sy geniet haar werk. Geniet die ongekompliseerde omgang met mense van elke sosiale vlak van die lewe. Sy is dankbaar vir die veilige hawe wat The Blue Room haar bied. Die spanning en intensiteit van haar Sielkundige Praktyk is nou net ’n vae herinnering van haar verlede. Haar oë dwaal onwillekeurig weer na die man in die hoek. Terwyl hier nog nie kliënte is nie, is dit nie die ideale geleentheid om te gaan hoor wat sy storie is nie?

Marno beweeg, lap in die hand, na die volgende tafel. Die tafels is eintlik reeds skoon, maar hy kan dit gebruik as verskoning om nader aan die hoektafel te kom. Vanaand is die aand wat hy die outoppie uitsorteer. Voordat daar ander mense in die kroeg is. Al is Ruby heelwat ouer as hy, voel hy baie beskermend teenoor haar. Sy sien net die goeie in mense raak en dit gaan haar nog duur te staan kom. Daar is fout met die man wat elke aand alleen by die hoektafel sit – hy voel dit in sy murg. Groot fout.

Die man hou sy asem op. Hy kan sy oë nie van die vrou afhou nie. Haar bloedrooi lippe hipnotiseer hom. Dit verlei hom. Lok hom soos ’n mot na die kersvlam. Sy speel met hom! Treiter hom. Hy sluk die woede terug. Sy weet hy haat dit as sy haar lippe soos ’n slet besmeer. Doen sy dit om die knapie te beïndruk? Hoe durf sy? Hy sal dit nie toelaat nie…

Die minute tik verby…Die begin van die einde…

Ruby stap met ’n swaai in haar heupe verby Marion. Vryf in die verbygaan sy rug. “Ontspan, Mario. Jy neem die lewe te ernstig op.” Sy glimlag breed vir hom. “Hy is net ’n eensame man wat ’n geselsie soek.” Sy stap aan, knipoog oor haar skouer. “Ek gaan hoor of hy iets wil drink.”

Mario se hart ruk vir ‘n oomblik tot stilstand. “Wag, Ruby. Laat ek dit doen.” Hy probeer haar arm gryp, maar is te laat.

Die man kan sy oë nie glo nie. Hy het geweet sy geduld sal beloon word. Na soveel vermorste tyd gaan hulle uiteindelik weer bymekaar wees. Al haar praatjies van dokters wat nie verhoudings mag aanknoop met pasiënte nie, tel nie meer nie. Die oornag toemaak van haar praktyk was net ter wille van hόm. Hy weet dit nou. Sy wou net die skinderbekke se monde stilmaak, dis al! Dit is ook hoekom sy verdwyn het. Sy wou hom, en sy reputasie, net beskerm het. Domkoppie!  Hy gee nie om wat die mense in die inrigting sê nie – hy was vanaf die eerste afspraak nie net haar pasiënt nie. Hulle siele het ’n oombliklike konneksie gehad. Niks en niemand kon dit keer nie. Hulle hoort bymekaar.

Die minute tik verby…Die einde is hier…

Ruby kom voor die tafel tot stilstand. Die glimlag op haar gesig verstar. “Jy! Hoe het jy my gekry?” Haar bene voel lam. “Wat maak jy hier?”

Mario vat aan Ruby se arm. “Wat’s fout, Ruby?” Hy kyk na die man wat nou regop staan. “Wat gaan hier aan?”

Die man knoop sy jas oop. “My liefste, ek het jou gekry. Uiteindelik. Jy hoef nie meer te wag nie…voor te gee nie… Ek is nou hier. Ons kan bymekaar wees. Vir ewig saam.” Die man druk die knoppie van die tuisgemaakte bom op sy bors.

Die tyd stop…

Mense sê dat daar elke aand, net vir ’n paar minute, ’n blou lig skyn vanuit The Blue Room. Onverklaarbaar. Die kroeg staan verlate sedert die bomontploffing bykans twintig jaar gelede.