Et tu, Brute?

Die gemors met ‘n mes in die rug is dat jy die aanval nooit sien kom het nie. Jy word eers bewus van die verraad wanneer die pyn en ongemak jou lewenskrag tap. Mens is gereed, selfs paraat, vir direkte aanvalle – dit is die oomblik waar jy saam met Julius Caesar vir Brutus herken, wanneer die mat totaal onder jou voete uitgeruk word.

Ek glo vas in die beginsel dat ‘n mens ‘n kant moet kies. Veral wanneer waardes, integriteit en die eer van God se Naam op die spel is. Dit is dan wanneer jy jouself ferm aan die skoenveters optrek en staan vir dit waarin jy glo. Jy swaai jou banier met jou kop hoog gelig sonder om regs of links te kyk. Om Switserland te pleit, is nie ‘n opsie nie. Deur niks te sê nie, sê jy eintlik alles…

Draadsitters haal ‘n baie netelige balanseertoertjie uit. Terwyl jy so effentjies, effentjies sit en kyk watter kant van die draad die groenste is, kan enige ligte briesie jou van balans af gooi…Veral as jy nie al jou liggaamsdele ferm onder beheer het nie.

Van alle liggaamsdele wat jy moontlik kán uitleen, is jou ore die ramspoedigste. Diesulke uitlenery gooi jou hele lyf van balans af. Dit veroorsaak dat jou ooglede soos ‘n moeë matriekseun se kouse oor jou oë sak. Dit is dan fisies onmoontlik om die waarheid raak te sien, laat staan nog die feite in die oë te kyk.

Geliefdes probeer dan tevergeefs skree, gil en waarsku…Jy kán nie luister nie, want jou ore behoort nie meer aan jou nie. Dit behoort aan die persoon met die heilige, heuningsoet stemmetjie wat misleiding fluister.

Jou tong is die volgende liggaamsdeel wat in die slag bly. Dit wat jy by jou ore inlaat, moet noodwendig by jou mond uitkom. Jou tong vertel die stories wat agter ‘n bakhand terloops genoem is. ‘n Klein saadjie onkruid wat in jou oor gesaai is, groei geil tot ‘n enorme bos van wantroue en onbegrip.

Dit is op hierdie presiese oomblik wat jy jou balans verloor en kop eerste in ‘n hoop stink-ten-hemele bollie val. 

En daar lê jy dan. Bedwelm deur die stank van halwe waarhede, hoogheilige vroom praatjies en die totale onvermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd. Blindelings gryp jy dan na messe om jouself mee te verdedig. In die donker tas jy rond en druk dan die mes in enige soliede voorwerp in – al is dit die rug van ‘n eens geliefde vertroueling.

Geagte voormalige draadsitter (nou ‘n in-die-bollie-lêer), dit is dan wanneer die Donker in sy mou giggel. Nóg ‘n veldslag is gewen. Nóg ‘n onheiligheid is toegesmeer. Nóg ‘n monster stap skotvry weg.

Rome brand terwyl die draadsitters en rugstekers met slap hakskeentjies en lam knieë ‘n bewerige vingertjie in die lug steek om te sien in watter rigting die wind waai. Met die as om sy voete, lag die Donker smalend…