O-pa(e)ra

Die swart hond wat van toeka se dae af my troue metgesel is, was vir die laaste ses maande uiters gulsig. Vraatsig het hy bly lek aan my siel totdat kop optel uiters vermoeiend geword het. Om ‘n glimlag op my gesig te plak en half normaal voor te kom, het elke greintjie energie uit my lyf getap. Uitbundig lag, sonder enige voorbehoud, was net ‘n vae herinnering.

Toe verjaar Vonkelfeetjie se geliefde. Ek en Manlief word opgekommandeer vir laatmiddag koek-en-tee. Lendelam probeer ek desperaat ‘n verskoning uitdink, maar Vonkelfeetjie se sjarme is oorrompelend. 

Op Manlief kan ek ook nie staatmaak vir redding nie. Hy ken my té goed, hy weet ek kan nie langer in my eie ellende rondplas nie. Gaan, sal ons gaan.

Met die instap by die feesvieringe sak my moed tot in my kleintoontjies. Liewe-Vader-in-die-hemele-daarbo, waar kom al die mense vandaan? Die spoeg in my mond verdamp in die niet. My bene voel lam. Die bloed druis so hart in my ore, dit voel asof ek in ‘n windtonnel staan.

Pikant stel Vonkelfeetjie my een vir een aan die mense bekend. Ek glimlag, knik my kop hoflik, maar weet vir ‘n feit dat ek niemand se naam gaan onthou nie. 

Stel jou my verligting voor toe Beste Vriendin se lieflike gesig aan die einde van die ellelange ry opduik…En sy het vir my ‘n sitplek langs haar gehou. Ook net betyds, want my bene sou my nie ‘n millimeter verder kon dra nie. Of hulle lam gelaat is deur die aanslag van vreemde mense, of van pure verligting om naby Beste Vriendin te wees, sal ek nie kan sê nie.

Nadat ek meer as die helfde van my glas koeldrank opgeslurp het, het die druising in my ore effens bedaar en my hartklop na amper normaal teruggekeer. My handpalms was welliswaar nog effens sweterig, maar Beste Vriendin se rustige praatjies het darem die rivierstrome gestuit.

Na die afsluk van ‘n heerlike bordjie eetgoed (Wat Manlief vir my moes inskep, want ek kan nie voor al die vreemde mense opstaan nie.), was ek in staat om na die geselsies van die ander gaste te luister.

Baie interessant. Baie snaaks.

Een van die onbekende Senior Dames vertel dat sy daarvan hou om besig te bly en nuwe dinge te leer. Van lyndanse saam met vriende tot by die neem van opera-lesse. Wil ons hoor hoe sing sy opera? Natuurlik wil ons!

Ewe statig staan Senior Dame regop. Bene teen mekaar. Voetjies na buite gedraai soos ‘n wafferse ballerina. Plegtig vou sy haar hande voor haar bors. Sy moet net eers haar asemhaling regkry, verduidelik sy. Asem diep in. Blaas stadig uit. Herhaal.

Ek kon regtig net in bewondering na haar staar. Soveel selfvertroue is vir my vreemder as katjiebotter en kaas op ‘n broodjie.

Toe trek Senior Dame los! “Oop-parra. Toe parra. Oop parra. Toe parra.”, kletsrym sy uit volle bors.

En die damwal binne my breek…Die lag stroom uit my lyf soos ‘n rivier in vloed. Nie eers my inkennigheid kan dit keer nie. Dink stormloop. Dink massa ongevalle.

Beste Vriendin maan Vonkelfeetjie om nie so wild te lag nie – sy weet mos wat gebeur wanneer sy en haar sussie so onbedaarlik aan die lag gaan. Alle spiere ontspan glo. Ook die noodsaaklikes wat moet knyp. (Dink maar aan die “oop parra”.) Lekkasies is gewaarborg!

“Ja,” beaam Senior Dame, “dit is boonop hoogs aansteeklik!” Ook sy het al in die geselskap van Vonkelfeetjie, en haar sussie, só gelag dat die sypaadjie voor hul huis onverwags natgelei is.

Ek dink dit is ‘n gawe om so te kan lag. Onbeheersd. Onbevange. Uitbundig. Met my hele wese wil ek ook só lag dat die swart hond tjankend weghardloop. Dat my innerlike beskroomdheid smelt en uitlek op die sypaadjie. Ongepla oor ander se stywe bo-lippe. Skaamteloos. vry.