Micra moerigheid

Moenie vir my sê dat dooie dinge nie ‘n bewussyn het nie. Veral motors en rekenaars het ‘n wil en ‘n lewe van hul eie. Êrens tydens hul vervaardiging, het hulle nie die memo gekry dat hul enigste doel is om te werk nie. Sonder enige dwarstrekkery. Kar kry brandstof. Kar word aangeskakel. Kar moet ry waarheen die bestuurder wil gaan. Elementêr, my liewe Watson!

Ek hou graag ons huisgesin se Micra voor as gevallestudie. Indien jy ooit die meesterstuk ‘Christine’, Stephen King se rillerverhaal oor ‘n uiters bose motor, gelees het – dan wil ek jou sommer nou al waarsku: moenie hierdie rubriek verder lees nie. Dit sal jou net verdere trauma besorg. Die Micra-gevallestudie is basies ‘n opsomming van King se epiese nagmerrie-verhaal.

Ek het nog nie baie motos van my eie besit nie, maar met almal van hulle het ek vredevolle verhoudings gehad. Die bottelgroen Uno het my yuppie-rig laat voel. Die Rav het my onoorwonne en braaf gemaak.  Die goudgeel Volla, met sy uitspattige sonneblom op die paneelbord, het my met uitbundige vreugde gevul. Dan praat ek nie eers van my liefdseverhouding met my rooi Mini Cooper nie. Al my motors het my gelukkig gemaak…

Toe strompel die Micra in ons lewens in, en my siening van motors beleef ‘n ommeswaai wat enige normale mens whiplash sal gee. Selfs die aankoop van die Micra, as ‘n geskenk aan Skoonma, was ‘n moeitevolle proses. Instede van die ougat KIA’s wat Manlief vir beide ma’s wou koop, het Skoonma aangedring op die Micra. Die wyse rede vir haar keuse ontwyk my tot vandag toe. Die moeilikheid met die misrabele Micra het begin…

Ek gaan julle nie vermoei met die dwalings en ompaaie waarop die Micra, én ons, vir die volgende twintig geworstel het nie. Genoeg om te sê dat die Micra se voorkoms, onder andere, drasties verander is deur ‘n erg-onder-die-invloed- van-raaiselagtige-middels- gunsteling-kleindogter. Die Micra is nooit ordentlik reggemaak nie. Skoonma kon nie wag dat Manlief ‘n plan maak nie en het geswig onder die verleiding van: “Toemaar, tannie, ek ken ‘n ou wat…” Miskien het die Micra se geestelike knak dáár plaasgevind?

Die jare stap onverpoos aan en Skoonma mag nie meer bestuur nie, want haar sig is te swak. Die Micra moet verkoop word, en wil jy nou meer, dit gebeur in die tyd wat Middelste Dogter haar eie motor moet kry. Manlief luister na geen raad of rede nie. Die misrabele Micra moet vir arme Middelste Dogter gekoop word.

Middelste Dogter hou haar mond want ten minste het sy nou haar eie karretjie. Vryheid! Onafhanklikheid! Hmmm…

Die mislike Micra weier volstrek om vir langer as ‘n week aaneenlopend te ry. Dan breek dit. Dan breek dat. Middeldogter probeer haar uiterste bes om optimisties te bly, maar die kameel se rug breek oplaas net buite Richmond. Middeldogter moet in die Kaap begin werk, daarom ritsreis ek en Laatlam saam met haar in die volgepakte Micra. Ons vrolike vroulike ritsreis verander in ‘n tragiese sloertoer, want halfpad besluit die sluwe Micra dis nou ver genoeg gery. 

As verantwoordelike moeder vir my telgies, bly ek kalm. Rustigies bel ek vir Manlief wat alreeds in die Kaap is. Ons staan langs die pad. In die vlaktes. Niemand in sig nie. Hy moet kom help. Middelkind is effens vies, Laatlam het ‘n hengse nood, en ek het ‘n hoofpyn.

Manlief se middelnaam is nie verniet ‘the Fixer’ nie. Hy neem oor die verre afstand beheer oor die situasie. Blitsig reël hy met die enigste motorwerktuigkundige in Richmond om ons met sy trok te kom oplaai. Kar en al. Hy sal ons terugvat dorp toe, waar Manlief reeds vir ons slaapplek gereël het by ‘n gastehuis. Ook is ons aandete bespreek by die beste (enigste?) restaurant op die dorp. Ons kan ontspan – ons Ridder is op pad!

‘n Uur later daag die motorwerktuigkundige op. Mense! Hy is oud! Ouer as ons al drie én die Micra saam. Maar mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie. Met grysheid kom wysheid. Reg? Gryse, en sy handlanger, laai ons met Micra en al bo-op sy trok. Laatlam is histeries. Net die gedagte om in die Micra te bly sit, agterop die sleepwa, is vir haar vreesaanjaend. Saam met haar groot nood, is sy nou ook honger. Middelkind vervies haarself nou ernstig. Haar wange is ten minste tien bar gepomp. My hoofpyn slaan oor na ‘n hoër rat, maar ter wille van my dogters sluk ek my moerigheid met die Micra af soos bitter gal.

Lang storie kort, dit neem die antieke motorwerktuigkunde ampertjies TWEE JAAR om die Micra sodanig te herstel dat die blessitse kar tot in die Kaap kan ry…Waar sy getrou aan haar mislike aard ophou loop. Die perverse patroon word voortgesit. Die merrie word reggemaak, sy loop vir ‘n week, en gaan staan dan vermakerig.

Dit alles was hanteerbaar, totdat omstandighede ons dwing tot by die punt waar die uiters steekse merrie ons enigste ryding moet wees. 

Manlief (The Fixer) spring in aksie – hy sal self die Micra se skete uitsorteer. Hy Google. Hy swoeg, sweet en swets, Die mislike kar staan. Hy vra raad by Ekspert Vriend. Die kar staan. Ek moet my eie steeksheid sluk en hand gee. Die merrie staan. Toe hoor Manlief van ‘n kundige op die dorp. Ons leen die nodige fondse by Kleinsus. Manlief is oortuig dat hierdie nuwe kundige die Micra finaal sal genees van alle skete.

Hmmm…Eerste poging: Die mislike Micra steek die kundige in die skande, want sy weier  selfs om aan te skakel nadat hy hoog en laag gesweer het die kar is reg.

Tweede poging: Die Micra haal darem die huis…en…gaan staan. Die kundige slaan sy hande saam. Hy begin nou ernstig aan sy eie vermoëns twyfel.

Derde poging: Kundige weier dat die beserkte Micra hom baasraak. Gefokus, maak hy weer verstellings. Hierdie keer is daar meer sukses. Die Micra loop. Manlief glimlag vermakerig vir my en Laatlam. Ons glimlag toegeeflik vir hom en ry in ons Ford, terwyl ons hom nog het.

Vinnig is die enkele week van voorspoed verby. Dit is agtuur in die aand. Ons het net klaar geëet. Manlief mompel terloops dat hy net gou-gou die Micra met die Ford aan die brand gaan sleep. Maar ek moet nou nie angstig raak nie, hy het nie hulp nodig nie. Die Micra het net bietjie skeef gestaan op die sypaadjie.

Ek raak nie angstig nie. Inteendeel. Ek bly halstarrig op die bank sit…Vir ‘n volle vyf minute. Toe pla my gewete my, want ek weet wat Manlief nie weet nie. Hy kán nie self nie. Niemand kan nie. Geen mens op hierdie aarde kan die Micra red nie. Die kar kort ‘n wonderwerk. Of ‘n eksorsisme. Deur die pous self. Met heilige water direk uit Jakob se put, weggesteek in die dieptes van die Vatikaanstad se geheime kelders. 

Swygsaam, sonder om te mor of te huil, sleep ek vir Manlief (in die Micra) op en af in die strate van ons dorpie. Elke honderd meter breek die sleeptou. Manlief byt op sy tande en bly geduldig. Nuuskierige ou mense kom uit hulle huise om hierdie spektabel te bekyk. Hulle bied nuuskierig hulp aan. Manlief weier hoflik enige hulp. Dis net ‘n battery-probleempie. Ek swyg, want ek weet mos wat ek weet…

Karre het persoonlikhede. Al ooit gewonder wat van al die bose geeste geword het, nadat al die varke van Gadarra versuip het? Nou weet julle!