Basaarpoeding PTSD

Dit is ‘n ding. Regtig!. Want hoe verklaar jy dit dat ek in sweet uitslaan, en my siel my lyf verlaat, die oomblik toe ek die bakkie basaarpoeding in die yskas sien? Vir meer as ‘n maand, ná die kerkbasaar, kruip die bakkie slu agter die bottel tamatiesous weg. Wagtend. Listig. Slaggereed vir die regte oomblik om my te konfronteer met my tekortkominge.

Die stres word nie deur die eet van die poeding veroorsaak nie. Allermins.Dit is heerlik. Jy hoef net daarna te kyk en die kilogramme drom gesellig saam op jou heupe. Soos ‘n goeie poeding moet.

Die trauma het begin toe Beste Maat (voorslag-vrou) gereken het ek kan meer doen as net die poedinkies eet. Ons kerkie gaan ‘n basaar hou wat vergelyk kan word met enige groot dorp se bestes. Beste Maat is die basaarkoördineerder en begeester. Elke enkele vrou in die gemeente gaan haar kant moet bring want, hallo, ons ís net ‘n handjievol.

Ek word vriendelik, dog uiters ferm, ingelig dat ek die poedingtafel se koördineerder is. Sommerso. Voor die ander vroue. Eers dog ek Beste Maat maak ‘n grappie omdat ek so onhandig in die kombuis is. Een kwaaierige kyk van haar af en ek weet dat sy geen nonsens van my gaan vat nie. Poedings maak, gaan ek poedings maak…

Nadat ek oor die ergste skok gekom het dat ek harteloos voor die bewegende bus ingegooi is, herinner ek myself daaraan dat ek ten minste goed kan lees. Daar is hoop. Al wat ek moet doen is om vas te stel wat, presies, ‘n basaarpoeding is. Dan lees ek mooi en volg die resep noukeurig. Hoe moeilik kan dit dan nou wees?

Bitter moeilik, laat ons nie mekaar mislei nie! Dit sit nie in elke vrou se gene om ‘n basaarpoeding aanmekaar te klap nie. Resep of te nie. Basaars is al van die Voortrekkertyd af deel van enige respektabele Afrikaanse kerk se kultuur. Enigiets wat met so ‘n ryk tradisie spog, moet alreeds vir jou sê dat dit totaal bokant my vuurmaakplek is. My kundigheidsvlak in die kombuis begin met : Stap een – skakel die stoof aan op 180 grade Celcius. Stap twee – haal ‘n ronde mengbak uit die kas.

Beste Maat sê ek moet my glad nie bekommer nie, ons vra sommer nou al vir gemeente om vir my leë 2l-roomysbakke te bring. Ek kon net na haar staar. My brein beleef oombliklik loadshedding van pure skrik. Waarvoor is die plastiekbakke? Ek is te skaam om te vra. My logika sê vir my dat ek dit beslis nie sal kan gebruik om poedings in te bak nie. Dit sal smelt in die oond…of hoe? Ek aanvaar die plastiekbakke met ‘n hoflike glimlag.

Dis op daardie stadium wat ek besef het ek sal my trots moet sluk en hulp inroep. Ek bel ‘n vriend. Jarelange Vriendin se hande staan vir niks verkeerd nie. Plus, bonus! Sy het op ‘n plaas grootgeword. Hou plaasgemeentes dan nie gereeld basaar nie? “Geen probleem nie,” seg sy, “my ma het al honderde basaars onder die belt.” Nie ‘n benoude hartklop later nie, toe stuur Ouma haar staatmaker-resepte aan. Maklike goedjies. Soos Mosaïek-jellie. Bid jou aan! Ek aanvaar die resepte met ‘n hoflike glimlag.

Beste Maat kry my jammer en belê ‘n vergadering met die uwe. Tjop-tjop besluit sy op agt soorte poedings. (Die plastiekhouers is vir die KOUE poedings om, in die yskas, te stol. Ha!) Ek moet my nie verder bekommer nie, al die poedings word voor die tyd gemaak. Die dag voor die basaar skep ek dan vier soorte poedings in ‘n bakkie. HONDERD bakkies poeding! Die dag van die basaar is alles gedoen en hoef ek net verkope te doen. Tjop-tjop. Mmm…

Bel maar weer vir Oudste Vriendin. Ek het vrae: Hoeveel van hierdie agt soorte poedings moet ek maak om by HONDERD porsies uit te kom? Hoe meet ek die blokkies, vier van hulle, om in die bakkie te pas? Beste Vriendin gooi haar hande in die lug. Sy sal my liewer kom help inskep. Dit is duidelik dat ‘n oor-die-foon-verduideliking vir my te moeilik gaan wees. Ek neem nie aanstoot nie – ek doen ‘n feesdansie in my kop. Vir die eerste keer sien ek ‘n skrale liggie in die tonnel. My grootste vrees van ‘n leë poedingtafel is besweer. 

Die twee dae voor die basaar is in ‘n wolk van vrees en paniek gehul. Ek kan vaagweg onthou dat Manlief my gehelp het om die yskas leeg te maak. Soveel poedings staan ‘n standaard-yskas tot boordenstoe vol.  Oudste Vriendin het getrou aan haar woord vroeg aangemeld vir diens. Ek het nog die vaak uit my oë gevee, toe het sy ‘n produksielyn saamgestel. Poedings is uitgepak, afgemeet en ingeskep met verstommende effektiwiteit. Ek het die belangrike werk gekry om die deksels op die bakkies te sit en dan die finale produk in die yskas te pak. Ek het die taak met erns en oorgawe aangepak, en was uitermatig trots op myself toe ek die propvol yskas bekyk het.

Ek is jammer om te rapporteer dat die gevoel net gehou het tot vyf minute voor die basaar begin het. Die poedings was pragtig op die basaartafel uitgestal. Té oulikies vir woorde. Toe kom die treurige wintersonnetjie uit. Nie warm genoeg om die ys in my geraamte te ontdooi nie, maar onheilig genoeg om die poeding te laat dril en bibber. Nie van spoggerigheid nie, helaas! Hulle het begin smelt! Die histerie, wat by my mond wou uitspring, het ek ferm afgesluk en die poedings maar weer in die koelhouers terug gepak.

Die vroue, wat my by die tafel moes help, het my verseker die ellende is betyds afgeweer. Ha! Het jy al ooit ‘n produk probeer om verkoop vanaf ‘n paar misrabelrige voorbeelde op die tafel? Mens kan…maar ek kan nie. Ek kan nie eers water verkoop aan ‘n dorstige wat twaalf dae deur ‘n woestyn gedwaal het nie. 

Die trauma is lagie vir lagie vas gesement in my siel. Wat as ek die enigste tafel is wat ‘n verlies ly? Op ‘n kerkbasaar waar almal altyd toustaan vir ‘n bakkie basaarpoeding! Ek het ‘n leeftyd se stres beleef in daardie paar ure tussen tien-uur en twee-uur. Was dit nie vir die formidabele vroue wat my gehelp het nie, het ek nou nog in ‘n fetus-posisie onder die basaartafel lê en bewe. 

Hierdie skrywe is om julle te waarsku, liewe leser. Basaarpoeding PTSD is ‘n werklikheid.  My volgende skrywe is aan elke Psigiatriese Instituut in die heelal. Die DSM-V-TR moet opgedateer word. Enige wenke vir behandeling is welkom. Net nie blootstellingsterapie nie. Ek het dit probeer. Die resultate was teleurstellend. Ek is ten minste vyf kilogram swaarder, maar die Basaarpoeding-maak trauma? Dié sit so ferm soos die ekstra gewig om my heupe.