Tekhelet

Anna staar by die vliegtuigvenster uit. Hoe het sy hier beland? Om en om draai sy die stukkie blou tou om haar vinger. Dit is al wat sy oorhet van Ruben – die stukkie tou waaraan hy sy lewe geanker het. Sy sluk, maar die rots in haar keel het permanente inwoning geneem.

Om en om knoop sy die toutjie. Om en om draai haar gedagtes.

Hy het haar van die eerste oomblik af gefassineer. Dié gaslektor met die donker oë en vreemde aksent. Sy lesings oor antieke Israel en argeologiese bewyse vir die verhale en mense in die Bybel, het waarheid geword in sy mond. Die vuur en vaste oortuiging waarmee hy gepraat het, het ’n vonk in haar aangesteek. Sy mόés net meer weet. Van die vakgebied. Maar ook van hom. Het sy uiteindelik aan die einde van haar rusteloosheid gekom?

Hulle sê teenpole trek mekaar aan. Sy kan getuig daarvan. Kort voor lank was die standvastige Jood en die onverskillige Kapenaar onafskeidbaar.

Sy het nie verwag dat hy lank sal bly nie, tydelikheid is tog ’n gegewe in haar lewe. Niks is ooit ewigdurend nie. Daarom leef sy vir die hier en nou. Vandag is al wat saak maak.

Ruben het gestry: “Nee, Anna! Almal behoort iewers. Ons is gebind aan die mense en die grond van ons vaders en voorvaders. Om geen ankers te hê nie, beteken dat die wind jou kan waai waar hy wil. Doelloos. Rigtingloos.” Dan het sy vingers die blou toutjie om sy pols vas gevat.

“This is your captain speaking. Our estimated time of arrival at Ben Gurion International airport is in thirty minutes. We will start our descend shortly.”

Niks wat hy gesê het kon haar oortuig dat alle mense instinktief daarna soek om te behoort nie. Nie sý nie. Sy het beslis geen behoefte om te hoort nie. Jyself bepaal jou ankers. Nie mense nie – nog minder hul voorsate, hul grond of hul God nie.

Na hul impulsiewe wegloop-troue het dit gelyk asof Ruben sy tuiste by haar gevind het. Die altyd-teenwoordige toutjie om sy pols net ’n sentimentele aandenking wat hom aan sy tuisland herinner. Miskien was dit waar – totdat die son opgekom het oor Israel op die sewende Oktober. Met elke nuusberig wat skree van onmenslike vergrype, moord en gewone mense wat ontvoer is, het sy die sagmoedige Ruben voor haar oë sien verander. In die plek van die akademikus was daar nou ’n soldaat wat met mag en mening huis toe wou gaan.

“Jy is nie ’n opgeleide soldaat nie, Ruben! Wat wil jy daar gaan maak? Jy stap na jou eie dood toe.” Paniekerig het sy probeer keer dat hy sy klere in ’n tas gooi. “Asseblief, Ruben. Dink weer.”

Hy het haar styf teen sy lyf vas gedruk. “Anna, ek is deel van hierdie mense, van hierdie volk. Ek kan nie hierdie band, wat deur God self gebind is, ignoreer nie. Dan verloën ek myself. Verstaan tog!”

“Verstaan? Verstaan? Hoe kan iemand wat so slim is, so naïef wees? Daardie blou toutjie maak jou nie bestand teen koeëls nie! Dink jy regtig dat ’n belofte uit die Ou Testament vandag nog geld?” Haar stem skel hard en lelik in haar eie ore. Sy weet sy maak hom seer, maar die kwaad storm oor haar lippe. “Nee, my man, daardie kastige spesiale band met God is net so dood soos die slakke waaruit daardie blou kleur gemaak is.”

Hulle is kwaad uit mekaar. Hy kόn nie bly nie. Sy het geweier om te gaan. Simpel hoe die woorde van Antjie Krog nou by haar spook :

“Ons het getrou

dat jou daar

en my hier

soos brûe in mekaar kan vou

maar nou

word jou daar daagliks daarder

en my hier hierder

alles om ons setup te onderhou”

Anna staan stram op. Met haar rugsak oor haar skouer volg sy die ander passassiers uit die vliegtuig. Dit vat nie lank om deur doeane te beweeg en haar enkele tas te kry nie. Sonder om te sukkel kry sy ’n taxi na Jaffa. Net dertig minute tussen haar en Ruben se familie.

Sy weet nie waarom sy hier is nie. Wat wil sy bereik? Sy het nog nie een van haar man se familie ontmoet nie. Dalk wil hulle haar nie eens leer ken nie. Hul enigste seun se vrou is ’n vreemdeling wat hulle seun ontneem het van sy familie en land. Daarom dat sy nie gebel het om te vra of sy mag kom nie.

Maar sy kόn nie anders nie. Die gat wat Ruben gelos het met sy vertrek, het ’n gapende afgrond geword met die oproep dat hy vermis word. Sy moes net kom   – om te soek, te treur, by mense te wees wat deel was van hom?

Die taxi-bestuurder beduie glimlaggend dat dit nie meer ver is nie.

Om en om draai haar vingers die toutjie. Ruben het dit om haar pols geknoop die laaste keer wat hy haar gesoen het. “Dit sal jou herinner aan die band tussen my en jou, Anna. Afstand en tyd kan dit nie breek nie.”

Die taxi laai haar af aan die onderpunt van ’n plaveide stegie. Ruben se ouerhuis is aan die bopunt van die steil straatjie. Sy sal moet stap van hier af. Sy tel haar tas op, gooi die rugsak oor haar skouer. Die tyd vir omdraai is verby.

Sy is uitasem toe sy voor die blou deur staan. Voordat sy kan klop, swaai die deur oop. Sy sien eerste die blou gevlekte hande raak wat bolle blou wol na haar toe uithou. Tekhelet. Dan die bekende bruin oë wat haar verwelkom.

“Ahuvati! My lief. Ek het geweet jy sal kom.”

En die storm in Anna bedaar. Sy behoort hier. By hom. Onlosmaaklik geanker.