Chappies

Verlede jaar het my soos ‘n Chappie gekou, totdat al my geur weg was. Ek het daagliks gewag om op die sypaadjie gespoeg te word – voos en vaal.

Dit het gemaak dat ek maar effentjies geleef het, te bang om hard asem te haal. Te bang, en te moeg, om hard te lag, want netnou – netnou trek ek aandag. Dit was veiliger om suutjiespoep te lewe.

Alle kleur het ek self verwyder, want grys is maklik om te onderhou. My buitekant het gelyk soos my binnekant, grys gekou.

Om so vaalgrys deur die lewe te sluip het besliste voordele: Dit verg geen energie nie. Elke broodnodige krummel energie moes ek spaar, sodat ek dit kon gebruik in my watertrap om kop bo water te hou.

Ek hoef nie te dink nie. Om net deur die dag, die week, die maand te kom, verg géén hogere denke nie. Inteendeel. Selfs jou primitiewe brein is  oorgekwalifiseerd vir ‘n sluip-deur-die-lewe-bestaan. 

‘n Vaal bestaan lei vanself na ‘n vaal voorkoms. Wie kan omgee of daar kleur op my lippe of maskara aan my wimpers is? Klere is net iets waarmee ek my lyf moes toehou, sodat mense wat my per ongeluk raakloop nie vir  intense terapie hoef te gaan nie. Nie dat ek ‘n dooie duit kon omgee vir ander se sensitiewe gevoelens nie, maar mens moet darem openbare sedelikheid in gedagte hou – al is jy vodde gekou.

Dit klink dalk vir jou na ‘n ongelooflike saai lewenskeuse, maar ter wille van oorlewing volg mens dikwels die weg van die minste weerstand.

En toe gebeur ‘n wonderwerk. 2025 breek suutjies, met ‘n knal, aan. Ek moet erken, ek was onverhoeds betrap deur haar baldadige aankoms. Uitgelate het sy die skille van my oë afgeklap. En ek was verstom…Al die tyd was die Chappie toegedraai in die helderste kleure!

Die borrel het diep in my hart begin. Eers baie versigtig, sou daar dalk ‘n stel tande wees wat venynig wag om te hap… Kort voor lank het die borrel my brein getref. En ek verstaan. Ons is nie gemaak om jammergattig deur die lewe te gaan nie. Genoeg is genoeg!

Ek kies om my lewe weer uitbundig aan te pak. Soos ‘n nat hond skud ek die skuus-tog-dat-ek-leef van my af. Ek skud en skud die voosgekoude emosies uit my hart. Skud nog ‘n bietjie en die benoud-leef vat die pad.

Ek kies nou mal kleure. Rondom my. Aan my. Binne my.

Ek glo weer soos ‘n kind. My Pa ken my nog voordat ek in my moederskoot gevorm is. Hy weet wat ek nodig het, nog voordat ek vra. Hy hou my in die holte van Sy hand. Hy het my op my naam geroep – ek behoort aan Hom. Die besef maak my lighoofdig, want my jammersalige bekommernisse is nou Syne.

Ek kies om weer te lag. Sommer kliphard en oop-mond. ‘n Ligte siel duld geen geveinsde glimlaggie nie. Hoe meer ek lag, hoe ligter word my siel. ‘n Ligter siel sien kans vir baie dinge. Uitdagings is net ‘n uitdaging – nie ‘n ramp nie. Daar is geen rede om van ‘n molshoop ‘n Everest te maak nie.

Ek tel weer my kop op. Skud die stof van my kroon af en sit dit windskeef terug op my hare. Vaalte hou daarvan om in die stof onder jou voete rond te skarrel. Geen wonder elke sinusholte in my lyf is verstop nie. Ter wille van my gesondheid is dit hoog tyd om op te hou lê in die stof, en eerder na reënboë te soek.

So, 2025… Vir jou gaan ek όpleef! Uitbundig. Kleurryk. Ligvoets. Onverskonend gelukkig!