Ek is nie dik van die lag nie!

Die afgelope maand, of wat, voel dit vir my asof ek my lyf steunend en kreunend deur die dal van doodskaduwee sleep. Ietwat dramaties, maar ek kan dit nie anders beskryf nie. Nes ek dink daar is lig in die tonnel, dan is dit die aankomende trein…En koesruimte is min.

Na die geboorte van Eersteling, het ek geweet dat ma-wees my uitsluitelike doel op aarde is. Niks anders kan só belangrik wees as hierdie dogters wat God aan my toevertrou het nie. Hierdie drie wesens is my vreugde, my trots, my geluk en my groot liefde. Hulle is my bestaansreg.

Wat maak ‘n mens dan as die Bose jou bestaansreg aanval? Jy plaas elke stukkie van jou kind-grootmaak-proses onder die vergrootglas, en trek stukkie vir stukkie elke besluit en aksie uit mekaar. Jy torring aan elke woord wat jy gesê, of nie gesê het nie, totdat jou siel aan flarde hang.

Die moontlikheid dat een van my kosbare skatte, as volwassene, haar rug op my sou keer het nooit ooit by my opgekom nie. Ek het haar dan toegegooi (versmoor?) met liefde en aanvaarding. Gedweë die konstante kritiek aanvaar wanneer ons opinies verskil, omdat die blote gedagte dat ons nie meer in mekaar se lewens is nie, ondraaglik is. Totdat ek nie meer kon stilbly nie. Ek het nooit die trein sien aankom nie…

Terwyl seer swaar, soos ‘n ou weermagjas, om my hang, word ‘n hartsmaat siek. Oornag, sonder enige waarskuwing, verloor sy die gebruik van haar onderlyf. Ek is onbeholpe in vriendskappe. Die binne-werkinge van verhoudinge bou en instand hou, verbouereer my. Lomp probeer ek ondersteun, en hoop maar dat my flentersiel nie meer skade as goed doen nie.

Ek bewe in die dal van doodskaduwee.

Dan, as bevestiging daarvan dat ek misluk het in my lewenstaak, gebeur die ondenkbare. Ek nooi die Bose in my huis in. Onbedag en heeltemal onvoorbereid op die verwoesting wat hy gaan saai.

Onmenslik, dierlik, in ‘n paar minute van waansin beroof hy kosbare Laatlam van haar brose menswees. Vreesloos vir ‘n maat wat enkele treë van hom af slaap. Vreesloos vir die ouers wat ‘n paar meter verder agter ‘n oop deur waaksaam slaap.

My verflenterde siel breek terwyl Vervreemde Dogter oorneem – duidelik is ons nie bekwaam om ‘n tiener groot te maak nie. Ek probeer my skaamte wegsteek agter die stukkie van my siel wat oor is, maar die verskuilde aanklagte skree op my. Hoe kón ek die Bose in ons binnekring toelaat?  Hoe kón ek nie sien dat die Bose nie ‘n ouderdomsbeperking het nie? Hoe kon ek nie sien dat die Bose homself kan vermom as ‘n tienermaat nie? My fout het Laatlam ontneem van haar veilige vesting.

Ek wil bly lê in die dal van doodskaduwee – hier waar die donkerte my skuld kan wegsteek.

Vuisvoos, hoor ek vanaand by Sielsmater dat haar kleindogter, skaars ‘n tiener, ‘n ligte beroerte gehad het. Kleindogter sal heeltemal herstel – maar ek kan die skok in Mater se stem hoor. Hierdie insident is net die laaste van ‘n rits siektes, swaarkry en seerkry wat hulle familie die laaste jaar moes trotseer. Hoe ondersteun ‘n mens wanneer jy self verslae is?

Die Bose loop rond soos ‘n brullende leeu.

Dieselfde Sielsmater vertel ons, in ‘n ligter luim, dat een van haar vriendinne altyd kostelike sêgoed uiter. Die nuutste is waar sy ‘n foto van haar man in ‘n hospitaalbed stuur met die boodskap: “Hy is nie dik van die lag nie.” Inderdaad.

Op ‘n snaakse manier het hierdie sêding my hoop gegee. Daar moet tog ‘n einde aan hierdie stap deur die nagdonker dal wees. Voetjie-vir-voetjie, een treë op ‘n slag tot waar die lig weer skyn. Ek is nie dik van die lag nie, maar ook nie meer hooploos nie…