‘n Engel op my voorstoep

Ek glo vas daarin dat God daagliks engele oor ‘n mens se pad stuur. Hulle word egter heeltemal te veel mis gekyk omdat ons al só gewoond daaraan is om kop onderstebo, moeitevol voort te beur. Die stof onder ons voete verblind ons vir die glans van díe hemelse wesens.

Vir die eerste keer in meer as dertig jaar bevind ek myself in ‘n vreemde dorp, in ‘n vreemde provinsie, heel aan die ander kant van die land. Met geen bekendes, behalwe my gesin, voel ek op myself aangewese. En almal weet wat gebeur as ek alleen aan myself uitgelewer word – ek kruip in my kop in waar ek myself heerlik toewoel in my eie ellendes.

Manlief besef ek moet gered word en neem my op ‘n uitstappie na ‘n naburige kusdorp toe. Son, see, strand en ‘n soet eetding in my mond is wat ek nodig het. Ons ontdek ‘n winkeltjie wat fudge verkoop. Dit word op die perseel gemaak, in elke geur waaraan jy kan dink. Die keuses maak my mal – die enigste uitweg is om ‘n proeseltjie te vat van alles wat my mond laat water. In my agterkop dwaal die waarskuwing dat diabetes ‘n realiteit is en dat enigiets wat só lekker is, beslis sonde moet wees.

Dit is as gevolg van hierdie lekkerte wat ‘n engel uit my verlede, asof op aanvraag, te voorskyn gekom het. Ek het die lofliedere van die fudge-winkel hoog en laag op Facebook besing, en kan jy nou meer…die engel bewandel ook die blaaie van sosiale media en het ook al die sondige soet happies geproe! 

Hartsbande wat met tyd en afstand dun gerek het, is moeiteloos weer styf geknoop. Ek en my engel kuier, lag en huil weer saam. Sy stap lang ente saam met my langs die see, want my hart is seer. Sonder enige huiwering – al het sy pas ‘n lang skof by die hospitaal gewerk – want dit is wat engele doen. Haar ore bêre my geheime diep-diep in haar hart, daar waar niemand kan sien of oordeel nie. Sy is lief vir my dogters asof hulle haar eie is. Sy bid vir hulle asof hulle haar eie is. Sy is saam bly oor hul prestasies, is saam bekommerd as hulle swaarkry. Want dit is wat engele doen.

Soms stuur die Here vir mens ‘n splinternuwe engel. Totaal onverwags en onverdiend land dié wese op jou voorstoep. Die hemelhoë mure wat ek stewig om my kwesbare hart sement het, breek sy saggies-saggies af. Voor ek my oë kon knip, staan sy my hart vol. Presies daar, waar ek gedink het, ek regtig nie nόg iemand kan akkommodeer nie. Ha!

Ek leer vreeslik baie by haar – van pere inlê (wie sou kon dink ek kán?) tot lewenswyshede. In ‘n hartklop word sy ‘n rolmodel in wie se spore ek kan trap. Ek leer by die engel van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. By haar is dit nie nodig dat al my eendjies in ‘n ry hoef te loop nie. Hulle mag speel net waar hulle wil – ek kan maar net wees! 

Sy moedig my aan om my beste self te wees. My prestasies word trots geprys. In my laagste oomblikke word ek nader aan haar hart getrek, sonder enige vrae of oordeel. Want dit is wat engele doen.

Dit kom vir my voor asof die Here God presies weet watter tipe engel jy, op watter tyd in jou lewe, nodig het. Hy stuur hulle wanneer Hy net die bokant van jou kop kan sien soos wat jy die stof onder jou voete aanbid. Sonder aankondiging verskyn hulle op jou voorstoep. Dan moet jy net opkyk en hulle raaksien. Dis al. Hulle weet vanself wat jy nodig het. Hulle lig jou kop op, tot daar waar jy weer die Here kan raaksien. Want dit is wat engele doen.