Laatlam speel hokkie. Die wedstryd word vroeg die oggend op ‘n naburige dorpie gespeel. Ek is maar te bly, want dit beteken dat die hele Saterdag nog oop is vir ander – lekkerder – dinge as skole-sport.
Ha! Toe nie! Klein-dorpie-skool beteken álmal kyk ál die westryde. Ter ondersteuning van ons almal se kosbaarste skat. Manlief is in ekstase, want dit gee legitimiteit aan sy begeerte om elke rugbywedstryd te kyk – al het ons geen kind of kraai op die veld nie.
Orals op die sportterrein is daar strategies kennisgewingborde geplaas:
- Hierdie is kinders
- Dit is ‘n spel
- Die afrigters is vrywilligers
- Die skeidsregters is mense
- Hierdie is NIE…Super Rugby nie
Eers giggel ek lekker in my mou toe ek dit sien. Vyf minute nadat die o/14 – spannetjie op die veld draf, beleef ek ‘n openbaring…
Rugby-ondersteuners is passievol, ongeag die ouderdom van die spelers op die veld óf die liga waarin gespeel word. Die intensiteit van elke liewe wedstryd is gelykstaande aan die van ‘n wêrelbekereindstryd. Ek grap nie! Dís hoekom die borde daar is.
Die fluitjie blaas en die wedstryd begin. Die pappa’s, en Manlief, neem hul posisie reg langs die veld in. (Op die stadium is dit nie vir my duidelik waarom daar ‘n pawiljoen is nie.) My skerp waarnemingsvermoë wys dadelik dat daar ‘n homogene, moontlik universele, staanposisie is wat álle pa’s inneem. Ook Manlief, al speel sy bloedjie hokkie.
- Plant jou bene wyd uitmekaar.
- Stoot jou heupe effens vorentoe.
- Kruis jou arms oor jou bors, sodat dit liggies op jou maag rus.
Hierdie posisie word net afgewissel wanneer jy jou kop in desperaatheid vasgryp. Soos wat die spel oor die veld beweeg, so beweeg die lywe saam. Nooit ooit word daar gesit of om gekyk nie. Oë is ten alle tye op die veld.
Die meelewing is oombliklik. Laatlam word nader geroep sodat Manlief name kan kry. Dit is tog te onpersoonlik om op ‘n nommer te skree. Dit maak vir my sin, want sê nou net hulle ken nie hulle nommers nie? Of hulle kan dit eenvoudig nie onthou nie? Dit kan gebeur. Ek het met my eie oë gesien hoe hulle simpel gestamp, gestoot en geduik word. Ja-nee, om ‘n kind op sy naam te bemoedig, of beledig, is sóveel beter!
Die pa’s, en Manlief, is in hulle element. Dit blyk dat hulle almal op hul dag gerekende rugbyspelers was. Net die noodlot het gekeer dat hulle nie vir die Springbokke uitgedraf het nie. “Mister Ref”, word uitgeskel as blind, onnosel of bevooroordeeld. ‘n Vloekwoord of drie glip onderlangs uit. Of dit teen die ref of ‘n speler gemik is, is nie vir my heeltemal duidelik nie.
Vrouens is gelukkig nie so nie! Of is hulle?
Met my tweede verpligte skolesportdag verbreed ek my sosiale waarneming. Die resultate het my tot in my voetsole geskok. Vir ‘n sekonde het ek selfs ‘n eksistensiёle krisis beleef. Rugby-mamma’s bestaan en is nie bang om hulle kant langs die veld te bring nie. Anders as die pappa’s is die mamma’s nie ‘n homogene groep nie. Poppies, boeretannies en ouma’s staan bankvas langs die pappa’s.
Van die groepies is ek die bangste vir die boeretannies. Jy sukkel nie met hulle, of hulle seuntjies, nie. “Floorsie” word skril beveel om sy voete te lig en te hardloop, dan sydelings vir die mamma langs haar, “Hier kom dit nou!” Arme Floorsie word geduik dat mý wind uit is. Boeretannie is briesend. “Klou die bal vas! Nee, man, druk jou kop in!” Ek voel namens Floorsie geaffronteer, want ek sidder om te dink waar die arme kind sy kop moet indruk.
Toe die poppie langs haar herhaaldelik, “Moor hom!”, begin skree, oorweeg ek dit sterk om in die veiligheid van die kar vir Laatlam te wag. Poppies is net boeretannies met lang naels en skinny jeans.
Na my intensiewe waarneming het ek tot die volgende gevolgtrekking gekom: Die enigste ding wat erger is as die gedwonge kyk van skole-rugby, is die arme, arme rugbyspelertjie. Die geweldige druk waaronder hulle moet speel sal selfs hardebaardmanne laat huil vir / oor hulle mamma’s.
O, ja! Die pawiljoen is net vir die skoolkinders wat moet gees vang…