Lui-lui telefoon

Die geel telefoon hang stom teen die muur. Die man wat op die leerbank lê, glimlag effens. Hy is verknog aan hierdie monstrositeit uit die verlede. Wat sy vrou beskou as eksentriek, is vir hom risikobestuur.

Die vrou haal diep asem en ontfrommel die kaartjie in haar sweterige hande. Die ink is effens gesmeer, maar die nommer is steeds duidelik leesbaar. Nie dat sy dit nodig het nie – sy ken die naam en nommer alreeds uit haar kop. Phonoi, 021 – 656 0278.

Die man skuif homself gemakliker op die bank. Hierdie kantoor is sy tuiste. Die res van die huis is slegs vertoon. Binne hierdie vier mure is sy verlede, sy hede en sy lank-verwagte-nie-nie-meer-so-ver toekoms. Sy oë streel oor die geel telefoon. Nog net een desperate stem deur haar gehoorbuis en sy Nirvana het aangebreek.

Die vrou weet nie hoe sy hier beland het nie. Niks in haar lewe maak sin nie. Vanaf haar warrelwind romanse en huwelik tien jaar gelede, tot hier waar sy alleen in haar kar voor haar huis sit. Te bang om in haar huis in te stap. Te bang om nié in te gaan nie. Die nommer op die kaartjie is haar kans, haar enigste kans, indien sy ’n lewe wil hê. Sy weet dit.

Die man strek genoegsaam. Die laaste dekade was goed vir hom, maar hy sal bly wees wanneer hy uiteindelik hierdie vaal jas van hom kan afgooi. Wie sou kon raai dat dit so moeitevol is om gewoon te wees?  Alledaagse huis in in alledaagse buurt, met ’n alledaagse vrou. Hy is net een oproep ver van die lewe waarvoor hy bestem is. Son, see, sand, drank en eksotiese vrouens – hy verdien die hele cliché. Miskien sal hy die geel foon saamvat, sommer net omdat hy sentimenteel daaroor is.

Die vrou strek haar hand uit na haar handsak wat langs haar op die passasiersitplek lê. Haar hande bewe, terwyl sy blindelings na haar selfoon soek. Haar handsak is voller as gewoonlik. Vandat sy die anonieme brief met die visitekaartjie onder haar ruitveër gekry het, dra sy alles wat sy moontlik mag nodig kry saam met haar. Uiteindelik vat sy haar selfoon raak en lig dit uit die sak. Vasberade sleutel sy die nommer in. Dis nou of nooit.

Die man maak sy oë, saam met die eerste lui van die geel telefoon, oop. Hy is nie bang dat enigiemand die harde geskel sal hoor nie, daarvoor sorg die klankdigte mure en deur. Buitendien sal sy vaal vroutjie dit nie waag om ’n voet in sy heiligdom te sit nie – daarvan het hy seker gemaak van dag een af. Sy vae verduideliking dat ’n veilige ruimte ’n vereiste van sy werk by die Nasinal Intelligensiediens is, het sy woordeloos aanvaar…Ook sy lang afwesighede, sy onbereikbaarheid en geheimsinnigheid. Patetiese muis.

Die vrou druk die selfoon teen haar oor vas. Dit lui. Sy hou haar asem op. “Asseblief, Here, laat hom optel.” Sy skrik vir haar eie stem. Wat vang sy aan? Sy kan nie hieroor bid nie. Alles hiervan is verkeerd! Maar dit is ál uitweg. Is dit nie ook wat haar anonieme ‘vriend’ gesê het nie? Dit het haar maande geneem om alles in plek te kry voordat sy die nommer kon bel. Soveel beplanning. Soveel geld.

Die man wip van die bank af. ’n Paar treë bring hom tot by die luiende foon teen die muur. Die man lag hardop. Showtime!.Hy lig die gehoorstuk van die mikkie af. Die skielike stilte laat sy ore tuit.

Die vrou skrik toe die gelui in haar oor ophou. Doodse stilte begroet haar. Wat het sy verwag? Dat ’n sekretaresse die telefoon sal beman? “Hallo.” Sy hoor net iemand se asemhaling. Sy maak haar keel skoon en probeer weer. “Hallo. Ek is gereed om die transaksie te maak.” Sy voel naar. “Die teiken is…” Vinnig druk sy die foon dood. Sy kan dit nie doen nie. Sy gryp haar handsak en ruk die kardeur oop. Sy kort asem.

Haar bene bewe terwyl sy in die paadjie opstap na haar voordeur toe. Met haar foon steeds in haar hand, krap sy die voordeursleutel uit haar handsak. Sy steek die sleutel in die slot en haal diep asem. Sy kán nie nou opgee nie. Dit is te laat. Die bal is alreeds aan die rol gesit. Voordat sy oopsluit, bel sy weer die nommer.

Die man luister sonder om ’n woord te sê na die stem in sy oor. Toe die stem abrup stil word, sit hy onbesorg die gehoorstuk terug op die mikkie. Sy sal weer bel. Hy lag. So, die muis het ’n stem. Hy het eerlikwaar nie gedink dat sy die moed sal hê nie.

Maande se sorgvuldige saad plant via ‘n ‘besorgde vriend’ werp uiteindelik vrugte af. Hy kon homself net nie help nie. Dit is eintlik so poëties om sy loopbaan op dié manier af te sluit. Phonoi verdien ’n laaste fooi en knoop terselfdertyd ’n los draadjie.

Hy los die foon om te lui, terwyl hy die kantoordeur op ’n skrefie oop maak. Daar is geen rede om dinge moeilik te maak vir haar nie. Hy lag. Hy kan nie wág om die verrassing op haar gesig te sien nie…

Die vrou stoot haar voordeur oop en word begroet met die skril klank van ’n telefoon wat lui. Sy laat sak haar selfoon wat in tandem lui met die telefoon in die studeerkamer. Sy is nie verbaas om die oop deur te sien nie. Hy was nog altyd arrogant. Nou vang slim sy baas. Hy moes nie sy hand oorspeel het met die notas van ‘n ’besorgde vriend’, onder haar motor se ruitveër nie. Hy moes slapende honde met rus gelaat het. 

Haar hande bewe nie meer toe sy die rewolwer uit haar handsak tel nie. Dit is tyd dat haar suksesvolle huurmoordenaar-man aan die verkeerde kant van ’n transaksie staan. Sy kan nie wag om die uitdrukking op sy gesig te sien nie…