“Christene moet minder soos Bulldogs en meer soos Jack Russels lyk,” sê die dominee Sondag. Sy woorde het vir my bevestig wat ons almal reeds weet: Mense word weerspieël in hul honde en omgekeerd.
Ek het ‘n vriendin wat die mooiste mens in die heelal is.(Ter wille van privaatheid en die feit dat ek gedreig is met liggaamlike leed, noem ek nie name nie.) Sy is fyntjies gebou soos ‘n feëtjie. Lang hare kompeteer blink met die ondeunde glinster in haar oë. Net ‘n rukkie in haar geselskap en jou hart voel lig en jou kop duiselig, want sy borrel soos goeie sjampanje. Nié soos ‘n bruistablet in water wat in jou neus opspuit en binne oomblikke klaar gebruis het nie. Nee, haar borrels is blink en pop sagkens tot binne-in jou siel.
Nou wat het sy met haar hond in gemeen, vra jy? Alles! Sy het ‘n Yorkie – ‘n fyn ou dingetjie wat heel gepas vir Vonkel-feëtjie is. Hulle het dieselfde besige maniertjies, ek vermoed rustig(er) raak gebeur slegs met ‘n glas rooiwyn in die hand (vir háár, nie die hond nie) en goeie geselskap.
Ook steek beide hulle krag agter ‘n fyn voorkoms weg. Vonkel-feëtjie het regte egte sterk spiere. Die resultaat van Crossfit vyf dae ‘n week. Dis skynbaar lekker. Ek kry miltsteek net by die gedagte aan die vreeslike ge-oefenery. Benewens haar regte egte spiere skuil haar geestelike krag net-net onder oppervlak. Vonkel-feëtjie sal jou blitsig op jou plek sit indien jy met haar of haar geliefdes mors.
Net so bedrieglik is die Yorkie se tingerige voorkoms. Moenie vir ‘n sekonde dink dat jy mag reageer wanneer sy langs jou op die bank kom lê nie. Sy kom soek nie, soos ‘n gewone hond, aandag nie. Nee! Sy kom lê net by jou om vir jou te wys dat sy ‘n prinses is. Soos met enige koninklikes moet jy liefs nie eers oogkontak maak nie – tensy jy jou sin vir vrees verloor het óf masochistiese neigings het.
Vonkel-feëtjie en haar Yorkie is nie die uitsondering op die reël nie. Blink Stefaans (weereens ‘n skuilnaam) en sy hondekind is nog ‘n uitstekende bewys van mens en hond se identiteitsvermenging. Blink Stefaans is vreeslik gesteld op stigtelikheid en aansien. Al die dinge wat ‘n mens vernaam maak. As die Yorkie ‘n prinses is, dan is Blink Stefaans se worshond ‘n Ivy League student. Gladde blink pels, waterige ogies en netjiese truitjie kry jy hom nie aan die speel buite in die tuin nie. Daar waar al die lekker grond, modder en stof is nie. Net nie dit nie! Buite is nét vir wanneer Boetie ‘n draaitjie moet loop. Boetie raak verboureerd wanneer kuiergaste lewe toon. Dis nié die standaard wat hulle handhaaf nie. Appearances above all…en al die dinge.
Manlief sê dieselfde kan gesê word van my en al my vorige, en huidige, troeteldiere. Hulle is almal so bietjie skuins van die alledaagse, laat hulle nie voorsê nie, en hou nie daarvan dat sommer enigiemand aan hulle vat nie. I rest my case…