Om te rugby of nie?

Sport was nog nooit my ding nie.Nie om deel te neem nie, ook nie om te kyk nie.  Die ellende van sweet, miltsteek en spelers wat rondskarrel vir dieselfde bal is vir my sinneloos. Dat sport ‘n nasie kan saamsmelt, soos met die Rugby Wêreldbeker, was nog nooit vir my ‘n werklikheid nie. En toe trou ek met ‘n sportliefhebber…

Natuurlik is ek ‘n vrou van vaste oortuigings. Nie eers die Groot Liefde kon my oortuig om deur ‘n hele rugbywedstryd te sit nie. Ek het probeer. Regtig. Ter wille van die liefde. Maar wie het kon raai dat ‘n wedstryd ‘n volle tagtig minute lank is? TAGTIG minute! Toe ek na ‘n ewigheid van veertig minute dankbaar my handsak gryp, moes ek hoor dat dit nou eers halftyd is. Halftyd. Dit beteken daar is nóg veertig minute se spelery oor. ‘n Volle half-uur plus tien minute.

Die feit dat ‘n uiters entoesiastiese ondersteuner haar bier op my gemors het, het niemand se saak gehelp nie. Nie ek, of my Groot Liefde, was beïndruk nie. Welliswaar om heeltemal verskillende redes. Blykbaar is dit onnodig om te kla oor die bierwalms wat my nie-alkoholiese brein dronk maak.

Immer hoopvol dat hy my kan bekeer, het my nuwe man my saamgesleep om, saam met sy vriende, na die 1995 Wêreldbeker-eindstryd te kyk. Die opgewondenheid was groot. Selfs ek kon sien dat Springbok-rugby dalk tog mense bymekaar bring. ‘n Reënboognasie word een en al die mooi sentimente. My nuwe man was oortuig dat hierdie epiese wedstryd die keerpunt sou wees in my onpatriotiese weersin in rugby. Helaas! Tot sy afgryse het ek net tien minute na die afskop van die wedstryd aan die slaap geraak. In my verdediging moet ek noem dat ons baba nog net ‘n paar maande oud was. Elke nuwe ma sal met my saamstem dat tien minute se stilsit amper soos ‘n bevel vir jou moeë liggaam is om te slaap. 

Na daardie rampspoedige geleentheid, waarvan ek nie die einde sal hoor aan hierdie kant van die hemel nie, het ons ooreengekom om te verskil. ‘n Egskeiding veroorsaak deur die presiese sport wat ‘n nasie saamsnoer, is paradoksaal. Hoe sal mens dit aan enigiemand kan verduidelik? Geen regter sal dit aanvaar as ‘n voorbeeld van onversoenbare verskille nie.

‘n Paar vreedsame dekades later en my nie-meer-so-nuwe man is eensklaps glad nie meer so gewillig en tevrede om saam met net sy dogters rugby te kyk nie. Ná al die jare moet ek saamgesleep word om na die wedstryd tussen die Springbokke en die Skotte te kyk.

 Laatlammetjie is uit haar vel uit van opgewondenheid. Sy het vir Faf ontdek en die sterre in haar oë skitter groen en goud. (Ek blameer, met ‘n bitter hart,  die skool vir hierdie onnodige blootstelling.) Dit kan nie anders nie, ek moet saam na vriende se huis wat nie gepla word deur beurtkrag nie én ‘n enorme tv-skerm het.

Pa en dogter vat hulself uit in al wat ‘n Springboktrui en-serp in die huis is. Dat Pa se trui bietjie knap is en Dogter se baadjie soos ‘n jas hang, maak niks saak nie. Niks kan hulle geesdrif demp nie. Ek kry goedgunstiglik die springbokserp om om my nek te hang. Jippie!

Gewapen met genoeg peuselhappies vir beide rugbyspanne daag ons by die vriende se huis op. ‘n Stil egpaar met hulle twee hondjies. Ons dominee voltooi die groepie toeskouers. In my hart der harte weet ek dat dié niksvermoedende groepie glad nie gereed is vir die nasiebou wat nou op hulle losgelaat gaan word nie.

Ek was reg…

Binne die eerste paar minute kan Manlief nie meer stilsit nie. Hy staan reg voor die skerm en gee luidkeels raad en aanmoediging. Almal weet as jy teenaan die skerm staan en skree, kan die spelers aan die anderkant van die aardbol jou hoor. Spelers word geprys, ander word gedryg met vreeslikhede wat nie hier genoem kan word nie.

Dogter glo Faf is die enigste speler op die veld.

Teen halftyd is die senuwees gedaan. Die telling is glad nie wat dit moet wees nie. Pa en dogter stres eet dat daar net krummels oorbly van die eetgoed.

Die tweede helfde begin en die eerste drie word gedruk. 

Manlief gaan aan die juig en jubel. 

Die twee hondjies ruk uit remslaap wakker en gaan verbouereerd aan die blaf.

Dogter dans.

Stil egpaar is verstom.

Dominee is stil.

Die tweede drie word gedruk.

Manlief raak oorverdowend beserk.

Die twee hondjies raak histeries.

Dogter dans en gooi hande in die lug.

Gasvrou is bekommerd oor Manlief se hart.

Ek is meer bekommerd oor sy bloeddruk, en ek wonder hoeveel dit sal kos vir die honde se trauma-terapie.

Gasheer klap beskaaf hande.

Dominee raak nog stiller.

My gevolgtrekking van die aand? Dalk het almal tog ‘n punt beet dat sport uiteenlopende mense bymekaar bring – al is dit net vir ‘n kort rukkie. Vir daardie kosbare tagtig minute het ons almal dieselfde doel. Is ons almal aan dieselfde kant. Is verskille en probleme vergete.

Lank lewe rugby!