Nommer 83. Dit is die regte plek. Hoegenaamd nie wat sy verwag het nie. Die lig wat deur die verweerde deure skyn is die enigste verwelkoming by die Arco Hotel. Monroe asem diep in, trek haar skouers reguit, verstewig haar greep op haar rekenaarsak en trek die deur oop.
Sy staan aan die voet van sementtrappe wat na die binnedeur van die hotel lei. ‘n Vars ry spore lê in die stoflaag op die trappe. Het sy die tyd verkeerd? Ongemak kom lê soos ‘n klip op haar maag. Die paar trappe wat sy moet klim, voel soos Everest. Sy kán nog omdraai. Maar dan is dit te laat.
Die voordeur swaai geruisloos oop voordat sy haar hand kan uitsteek. Die portier is geklee in ‘n swart pak, sy blink skoene kompeteer met die olie in sy glad agteroor gekamde hare. Met ‘n strak gesig tree hy terug en nooi haar met ‘n wuif van sy hand binne. “Juffrou Malherbe, u is laat. Ons wag nog net vir u.” Sy stem is skor, soos droë herfsblare.
Die voorportaal pas nie by die Arco se verwaarlose buitekant nie. ‘n Dieprooi mat gee staanplek vir oorgroot leerbanke. Die lig van staanlampe glinster in die kristal van die reuse kandelaar wat van die dak af hang. Die ontvangstoonbank kruip diskreet in ‘n hoek weg.
“Ons kan sekerlik nou begin.” Die stem kom van ‘n skraal man wat amper verswelg word deur die bank. “Een aand is bitterlik min vir die geleentheid om saam met ‘n meesterskrywer soos Stevie King te werk.”
Die rooikop vrou langs hom druk haar sigaret in ‘n asbakkie dood. Haar rooi lipstiffie klou soos ‘n minnaar se soen om die stompie. “Waar is King? As ons saam met hom skryf aan sy nuwe boek, moet hy sekerlik teenwoordig wees.”
Die portier vat Monroe se sak uit haar hand. “Neem asseblief u sitplek in by die ander gaste, juffrou. U gaan nie u rekenaar nodig hê nie.” Hy draai op sy hak om en stap met ‘n reguit rug uit die vertrek uit.
Monroe blaas haar asem uit. Sy voel lighoofdig. Die ander twee persone hou haar stip dop terwyl sy oorkant hulle op ‘n bank gaan sit. “Hallo, ek is Monroe. Is dit net ons drie wat genooi is? Is julle ook aspirant skrywers? Ek kon my oë nie glo toe ek die uitnodiging van meneer King ontvang het nie.” Monroe weet dat sy babbel, maar sy kan haarself nie keer nie. “Het julle hom al ontmoet? Hoe lyk hy?”
“Lana.” Die vrou steek nog ‘n sigaret aan. “Nie eers sy uitgewers weet hoe hy lyk nie.” Sy glimlag uitlokkend. “Dit is ‘n sakie wat ek sommer dadelik gaan regstel.”
“Carel.” Die man kyk spottend na Lana. “Dink jy is onweerstaanbaar, nê.” Hy draai na Monroe toe. “Aangename kennis. Ons is ‘n vreemde groepie by mekaar. Hoe het King op ons drie besluit?”
Voordat enigeen kan antwoord kom die portier terug gestap. “Meneer King vra dat julle nie onder mekaar moet gesels nie. Julle drie is in kompetisie met mekaar, moet mekaar dus nie as vriende beskou nie.” Hy staan nou tussen die twee banke, sy hande agter sy rug. “Soos julle weet verkies meneer King om anoniem te bly, daarom sal ek sy spreekbuis wees vir die duur van die kompetisie.”
“Kompetisie? Waarvan praat jy? Die advertensie in die koerant het gesê dat King vir drie aspirant skrywers die geleentheid wil bied om saam met hom aan sy nuwe boek te werk. Dat hy op soek is na ‘n nuwe vars stem in die riller-genre.” Monroe voel hoe die onrustige gevoel in haar maag op aandag spring. “Ek het aansoek gedoen vir ‘n werkswinkel, nié ‘n kompetisie nie.”
Lana druk haar lang hare agter haar oor in, lag vermakerig. “Moet tog nie vir my sê jy is bang vir ‘n bietjie kompetisie nie. Jy en vaalseun kan julself die moeite spaar en sommer nou loop. Daar kan geen ander wenner as ek wees nie.” Selfvondaan draai sy na die portier. “Nou toe, bleeksiel, wat moet ons doen?”
Die portier lig ‘n wenkbrou, “Noem my Janus.” Sy mondhoek lig in ‘n klein glimlag. “Die reëls is eenvoudig; u kry dertig minute om die perfekte moord te beplan. Dit moet uniek wees en geen vingers mag terugwys na die moordenaar toe nie. U kry elkeen ‘n beurt om u idee aan meneer King voor te stel. Die persoon met die beste idee wen, en sal dan saam met King aan die moordstorie skryf. Jou idee dien dus as inspirasie vir ‘n nuwe topverkoper.” Hy steek sy hand in sy sak en haal drie kaartjies uit. “Vat asseblief ‘n kaartjie. Die nommer daarop bepaal die volgorde waarop julle voor King verskyn.”
Monroe draai die kaartjie in haar hand om. Drie. So, sy gaan laaste in. Dit maak nie saak nie, dit gee haar net meer tyd om seker te maak dat haar idee die beste is.
Die dertig minute vlieg om. Janus verskyn in die voorportaal en Lana spring op. “Ek is eerste.” Sy kyk van Carel na Marnoe. “Julle tweetjies se idees sal nie nodig wees nie.” Heupswaaiend volg sy Janus in ‘n gang af.
Skaars twintig minute later is dit Carel se beurt. Stilswyend volg hy vir Janus.
Na nog tien minute se stilsit, het Monroe die besluit geneem. Hierdie hele situasie is te vreemd, sy gaan nie langer bly nie. Sy kyk rond of sy nie haar rekenaarsak sien nie, haar hele lewe is op haar rekenaar. Dit is nêrens te sien nie, sy gaan dit moet los. Vinnig loop sy na die voordeur.
“Juffrou Malherbe, dit is jou beurt.” Janus se stem is reg agter haar, sy het hom nie eers gehoor nie. “Kom saam.” Sy benerige hand op haar skouer laat haar ril. Haar brein skree vir haar om te hardloop, maar haar bene het ‘n wil van hul eie.
Janus kom tot stilstand voor ‘n toe deur, maak dit oop en tree na binne. Swyend wink hy haar in. Hulle staan in ‘n kaal vertrek wat van vloer tot dak wit geteël is. Teen die een muur is daar oop rakke, vol geprop met wapens van elke soort en ouderdom. Flesse is in elke moontlike oop gaatjie gedruk. Twee van die drie outopsietafels in die middel van die vertrek word beset deur Carl en Lana.
“Waar is King?” Haar stem is skaars hoorbaar bo die gehamer van haar hart.
“Tot u diens, juffrou.” Janus maak ‘n buiging.
En sy weet. Janus. Tweegesig. Hulle help nie skryf aan ‘n storie nie…hulle ís die storie…