Laat ek jou vertel, dis glad nie maklik nie. Jy beleef, en oorleef, dinge wat jy in jou wildste drome nie gedink het is moontlik nie. ‘n Menssku introvert wat aan ‘n Hoofseun se genade uitgelewer word se menswees verander – of jy al snikkend daarteen skop of nie.
‘n Hoofseun knoop geselsies aan met álmál op die planeet. Oud, jonk, vreemd, raar, van enige taal, ras of nasie. Niemand is veilig nie. Gesels sál daar gesels word – ongeag tyd, plek of okkasie. Ek, daarenteen, is meer as tevrede met die stemme in my kop. Hulle praat nie nonsens nie en stem altyd saam met my. As wederhelf van die Hoofseun het jy drie opsies: Staan stom soos Lot se vrou, loop weg en los hom met die nuwe geselskap (ongeskik!), of praat maar saam. Ek moet bieg dat in uiters lang geselsies het my sieleheil my al gedwing om net weg te stap en my eie ding te doen.
‘n Hoofseun volunteer jou vir álles, want hý maak homself deel van alles en almal in die gemeenskap. “Natuurlik sal my vrou deel wees van die pannekoekbak-rekord. Sy bak die lekkerste pannekoek wat jy in jou lewe al geproe het.” My vrou se keel trek toe en sy kry hartkloppings. Eerstens, is dit ‘n uitdaging om binne twee ure net vir haar gesin van drie genoeg pannekoek te bak. Tweedens, moet sy genoemde pannekoek voor ander gesoute gemeente-tannies bak. Derdens, moet daar seker met die gemeentetannies geselsies aangeknoop word. Hoofseun sien glad nie die probleem nie.
‘n Hoofseun dink avonture uit vir sy vrou se verjaarsdae. Dat genoemde vrou eerder van die avonture in een van haar talle boeke wil lees, is vir Hoofseun ‘n raaisel. So is My vrou al ampertjies deur ‘n walvishaai ingesluk op haar veertigste verjaarsdag. (Vrou kan nie onthou hoe oud Jona was toe dieselfde lot hom getref het nie.) Hoofseun was nie deel van die reddingspoging om My vrou weer aan boord die plastiekbootjie te kry nie. Hy was te besig om die visse te voer met sy vroёe ontbyt. Natuurlik was die naarheid net ter wille van My vrou se duikervaring. Hy het gedoen wat enige liefhebbende Hoofseun sal doen – lok soveel moontlike visse, haaie en ander swemmende gediertes om My vrou se ervaring onvergeetlik te maak. Bedagsaamheid bó alles!
‘n Hoofseun lag in die gesig van teenstand. Vir elke probleem is daar ‘n oplossing. ‘n Boer maak ‘n plan, ‘n Hoofseun staan gereed met ten minste ‘n dosyn werkbare idees. My vrou raak eers bekommerd oor ‘n situasie wanneer Hoofseun se planne op is – wat gelukkig skaarser as hoendertande is. Toegegee, as My vrou nog een maal die woorde:”Hierdie is ‘n persoonlike ontwikkelingsgeleentheid vir jou.” moet hoor, hardloop sy kaal in die straat af. Met brandende hare. Al skreeuende. Want sy voel haar persoon is al tot barstenstoe ontwikkel.
Klink dit of ek kla? Glad nie! My kennis van Wetenskap is skrikwekkend beperk, maar ek weet darem van die aantrekkinkskrag tussen twee teenoorgestelde pole. Saam maak die Hoofseun en sy skugtige vrou ‘n formidabele span. Onoorwinlik selfs.