Die dood van Stefanus Roos

“Geliefdes, ons is vandag hier bymekaar om die lewe van Stefanus Roos te gedenk: ’n steunpilaar vir die gemeenskap, ’n filantroop, ’n gesinsman. Sy skielike dood het die dorp geruk. Hy laat sy geliefde vrou, Melinda, agter.”

Melinda sit met ’n geboë hoof in die voorste ry. Haar donker hare, vars gekleur vir die okkasie, vorm ’n doeltreffende skans waaragter sy kan wegkruip, haar droë oë kan wegsteek. Sy weet dat almal in die stampvol kerk se blik op haar gerig is. Die stylvolle vrou van die gerekende advokaat – verdediger van die onskuldige, die weerlose. Die man met die oop hand vir enigiemand wat in nood is. ’n Oop hand vir haar wang, wanneer sy gestraf moet word.

Mel, jy het jou soos ’n slet gedra by die dinee vanaand. Klap! Met al wat ’n broek dra, geflerrie. Klap! Jy weet jy mag nie saampraat nie – asof jy ooit enigiets sinvols te sê het. Klap!

Na die derde hou brand jou gesig nie meer nie. Die geheim is om in jou kop weg te kruip. Daar waar sy oop hand nie kan bykom nie. Dan, wanneer sy weier om te huil, sy snedige bevel: “Gaan maak vir my tee. Dis al waarvoor jy goed is.”

Nooit weer sal sy ’n koppie tee maak nie. Vir niemand nie.

Sy is bly hy is dood.

“… en sy pragtige dogter, Anja. Anja, jou pa was ontsettend lief vir en trots op jou. By elke kerksvergadering het hy gespog met jou prestasies …”

Trane stroom oor Anja se gesig. Sy het jare laas gehuil. Haar ouers se sonskynkind. Almal wat haar ken, bewonder haar optimisme. Haar sonnige glimlag is haar uitstaande kenmerk. Sy het ook nie gehuil toe haar pa die eerste keer haar donker kamer binnegesluip het nie. Die deur saggies, saggies agter hom toegemaak het nie. Sy het nie gehuil toe die pyn en die vernedering haar verlam het nie. Sy het nie gehuil toe hy fluister dat dit net hulle twee se geheim is nie. Sy wil tog nie hê dat Mamma moet weet nie, wil sy? Mamma is broos. Kyk net hoe baie keer maak sy haarself seer. Nee, niemand mag ooit weet nie.

Wie sal haar tog glo? Almal is dan lief vir Pappa. Glimlag, Anja. Jy is Pappa se spesiale prinses. Kom, gaan maak vir Pappa ’n koppie tee. Niemand maak sulke lekker tee soos jy nie.

Sy is bly hy is dood.

“Stefan, nie net is jy jou pa se naamgenoot nie, jy is ook sy ewebeeld …”

Nee, asseblief, net nie dit nie. Hy is niks soos sy pa nie. Hy wíl niks soos sy pa wees nie. Sodra hy wettiglik kan, gaan hy sy naam verander. Daar moet absoluut niks omtrent hom wees wat hom aan sy pa herinner nie.  Hy haat hom. Vandag is die beste dag van sy lewe – hoe gouer sy pa in die grond is, hoe beter.

Hulle dink hy weet nie. Maar jy moet blind en doof wees om nie te weet wat agter die Roos’e se toe deure aangaan nie. As Mamma net nie so pateties was nie. Hoeveel keer moet die monster haar slaan voordat sy terugbaklei? Wanneer het hy ophou glo dat haar rooigehuilde oë en geswelde gesig hooikoors is? Vyf? Hy was tien toe hy die eerste keer gesien het dat sy pa na slapenstyd in sy sussie se kamer insluip. Net tien toe hy opgelet het hoe sonniger haar glimlag, hoe dowwer die lig in haar oë.

Hy is bly hy is dood.

“Stefanus Roos was ’n man van hoë morele waardes …”

Ha! Hoë morele waardes. As die respektabele gemeente maar net weet. Sara sluk haar lag weg en verskuif ongemaklik op die houtbank. Dis nie asof die dorp se mees eksklusiewe metgesel gereeld in die kerk kom nie.

Stefanus lag hom seker pap vir haar preutse uitrusting, vir die geleende broekpak wat  haar lyf so knel. So het sý vir hom gelag wanneer hy soos ’n Engelse lord alewig ’n koppie tee wou drink. Uit die fyn porseleinkoppies wat hy spesiaal gekoop het. Daardie teestel is deur talle ander geskenke opgevolg. As al hierdie prim en proper mense om haar net kon weet hoe luuks haar nessie geveer is. Dit is net soos die dominee sê: Stefanus het ’n oop hand gehad.

Net jammer dat dinge skeef geloop het teen die einde. Het hy regtig gedink hy kan haar afpers? Sy skielike besitlikheid en eise dat sy net sý speeding is, was belaglik. Hy sou haar baie meer moes betaal om “eksklusief” te wees.

Hy het net gelag. En gesê hy weet hoe om van ongewensde elemente ontslae te raak. Min het hy geweet sy weet ook.

Sy is bly hy is dood.

“…’n man wat ’n reguit, eerlike pad geloop het.”

Chris Delport verwonder hom daaraan dat selfs ’n uitvaagsel skielik ’n heilige word sodra hy dood is. Skielik het niemand iets leliks om te sê nie. Hy sluk aan die bitterheid in sy keel. As kantoormure maar kon praat. Hoeveel keer moes hy nie, as Stefanus se vennoot, toekyk hoe Stefanus mense vernietig nie? Hy was ’n briljante advokaat, maar sy dienste het teen ’n stywe prys gekom. Reg en geregtigheid was net diegene beskore wie se sakke die diepste was. Onskuld, of skuld, het selde in die prentjie gekom. Oor ’n koppie tee uit fyn porselein is mense se lot beklink.

Hy is bly hy is dood.

Speursersant Hofmeyer staan voor in die kerk langs die konsistoriedeur. Roerloos, probeer hy so onopsigtelik moontlik wees. Die talle blommerangskikkings verskuil hom van die gemeente se oë. Dominee se preekrede vorm die raamwerk van sy observasies. Soos dominee die een na die ander eienskap uitlig, bekyk Hofmeyer die gesigsuitdrukking en gebare van die betrokke persoon. Gesigte verklap meer as wat mense dink.

Roos se moordenaar is een van die groep mense wat sedig in hierdie banke sit. Die detail van sy moord is nie algemeen bekend nie, maar die moordenaar kon net iemand gewees het wat ná aan hom was. Sy dood is koelbloedig beplan en uitgevoer.

Roos se weduwee is koponderstebo sedert sy op die voorste bank gaan sit het. Nie een keer tydens die diens het sy na die predikant of haar man se kis gekyk nie. Nie eens toe die predikant haar naam genoem het nie. Die enigste sigbare reaksie was die effense verstywing van haar skouers toe die predikant van Roos se oop hand gepraat het. Indien moontlik, het haar lyf nog stiller geword, daar waar sy soos ’n beeldskone standbeeld tussen haar kinders sit. Afgesluit. Onleesbaar.

Anja sit aan haar ma se linkerkant. Hofmeyer frons liggies. Interessant. Sy is die enigste familielid wat enige emosie wys. Maar hoewel die trane oor haar wange stroom, maak sy geen geluid nie, staar bloot na die kis, hande netjies gevou op haar skoot, . Eienaardig dat ma en dogter nie na mekaar uitreik vir ondersteuning nie. Die paar sentimeter wat hulle skei, kan net sowel ’n gapende kloof wees.

Die broer aan die ma se regterkant is ’n raaisel. Hofmeyer kan sweer daar was vir ’n breukdeel van ’n sekonde weersin op die jong man se gesig. Die predikant is reg, hy lyk soos ’n jonger weergawe van sy pa. Aantreklik, sterk gebou vir ’n sestienjarige. Goeie gene. Waarom sal die seun sy pa so haat? En tog, Hofmeyer kén daardie houding. Het hy dit nie aan sy eie lyf gevoel nie?

Die aantreklike vrou wat ongemaklik rondskuif op haar sitplek trek sy aandag. Nou ja … wat maak Madam Sara in die kerk? Sy is skaars herkenbaar sonder haar  “uniform”. Sou die mense, spesifiek die vrouens, weet wie sy is? Daar is vir seker ’n aantal mans wat op die oomblik ietwat ongemaklik voel. Nogal veelseggend dat sy by Roos se begrafnis is. Sy is beslis volgende op sy lysie vir ’n formele geselsie.

Skuins voor haar sit Roos se vennoot. Moet sê, die man lyk nie besonder bedroef dat sy boesemvriend oorlede is nie. Met Roos uit die prentjie, sal hy heelwat kliënte inwin. Hy is immers nou die enigste advokaat op die dorp. Roos en Vennote was besonder gewild op die dorp. Tensy Delport drasties droogmaak, sal niemand hulle regsake van hulle af wegvat nie.  

Hy kug effens. As hy die stories kan glo, het Delport en Roos nie juis langs dieselfde vuur gesit nie. Selfs nadat Delport ’n vennoot geword het, is sy van nooit by die firma se naam gevoeg nie. Volgens Roos was dit onnodig, want hy was, is en sal altyd die gesig van die firma wees. Dit alleen moes vir Delport dwars in die krop gesteek het. Genoeg om moord te pleeg? Nou ja, Chris Delport bly vir eers op die verdagtelys.

“Op versoek van die familie, is die teraardebestelling ’n privaat geleentheid. U teenwoordigheid vandag word waardeer.”

***

Hy staan regop en fier terwyl die kis uit die kerk gedra word. Roos se gesin volg met geboë koppe. Nie te danke nie, liefste gesin, ek het julle gered van ’n onhoudbare lewe. Alles reg, dit was ’n groot plesier.

Aa, die lieflike Sara, beeldskoon, selfs in daardie vaal broekpak. Roos se dood moes jou diep geskok het – ek kan my net indink hoeveel hy moes opdok vir die voorreg van jou bed. Sy ontydige afsterwe moet ’n taamlike gat in jou begroting agterlaat. Maar liefste Sara, dit alles was nodig sodat ek jou kan optel uit die slyk van jou beroep. Jy sal sien dat daar ander maniere van leef is. Glo my, jy sal nog dankbaar wees vir my hulp. 

Chris, jy is so ’n goedhartige mens. Jy het dit nie verdien dat jou naam gekoppel word aan ’n ellendeling soos Roos nie. Nou kan jy sake doen sonder om jou gewete in die proses te vermink. Miskien kan reg en geregtigheid nou op ’n eerbare manier geskied.

Dae soos vandag maak hom dankbaar vir sy beroep. Een vir een kan hy van die samelewing se drek ontslae raak. Gesiene mense wat soos parasiete die lewe uit almal tap wat ongelukkig genoeg was om hulle pad te kruis. Dit is doodmaklik.  Al wat dit verg, is ’n koppie tee in die pastorie. En ’n vlugge, effens oop hand.