“Wie het op my stoel gesit?”, brom Pappa-beer. “Wie het op my stoel gesit,”, kla Mamma-beer. “Wie het my stoeltjie gebreek?”, snik Babba-beer. Jy dink dit is net in kinderstories waar mens en dier huil oor ‘n stoel? Moenie glo nie.
Ons is deel van ‘n baie klein inter-kerklike gemeente in ‘n baie klein dorpie. Die afgelope Sondag gaan sit ek redelik vroeg op my sitplek; waar die son my nie brand nie en ‘n ligte briesie my warm gloede onder beheer hou. Soos altyd maak ek dadelik my Bybel op my skoot oop. Dit dien twee doele: Eerstens bring dit my in die regte stemming om te luister na die bediening van God se Woord. Tweedens moet dit dien as ‘n uitdruklike waarskuwing vir mense om asseblief nie met my geselsies aan te knoop nie. So onder my kuif deur kan ek dan mense diskreet dophou, my gunsteling stokperdjie.
Ingestap kom ‘n middeljarige dogter en haar effens ouer pa. Pa stap voor en mik vir ‘n stoel aan die kant van die saaltjie, teenaan die muur. Dogter skuif agter my stoel in en wink vir haar pa. “Pa, ons sit nie daar nie.”
Pa verbaas, “Hoekom nie?”
“Dis nie ons stoele nie.”
“Sit iemand anders dan hier? Hier is nie name op nie.”
Dogter lag. “Ja, Pa.”
Pa skuif gedweё langs dogter in.
Onder haar asem fluister sy, “Eintlik hou ek maar net van hierdie stoel. Dit is mý stoel in die kerk.” (Kantnota: Al die stoele in die kerk is presies identies.)
Met my subtiele afloerdery sien ek dat die meeste gemeentelede hulle ‘eie’ stoele het. Die oulike egpaar sit altyd in die eerste twee stoele links van die kansel. Die gesin met ‘n tienerdogter sit altyd agter hulle in die tweede ry. Die nuut getroudes sit in die ry voor my, met die langste man in die gemeente (moontlik die hele dorp) sit altyd reg voor my (moontlik die kortste mens in die hele dorp). Dominee se vrou sit altyd heel agter in die kerk, langs die deur.
So mik almal elke Sondag na ‘hulle’ stoele toe. Dan begin my binne-pret. Die konsternasie op party gesigte wanneer ‘n oningeligte op ‘hulle’ stoel sit, is vir my histeries snaaks. Die selfvertroue waarmee hulle doelgerig op hul stoel afstap maak plek vir ongeloof wanneer hulle sien dat ‘hulle’ stoel reeds ‘n lyf op het. Dan kom die verwarde rondkyk vir ‘n ander stoel om op te sit – verkieslik so na as moontlik aan ‘hulle’ stoel. Die res van die diens kan jy maar kyk, die verplaasdes sit glad nie lekker nie.
Jy dink ek oordryf? Ons is almal so. Kyk maar om jou rond. Maak nie saak waar, in watter omstandighede nie, elkeen het sy eie stoel. In die vergadering, personeelkamer, kantoor of motor – almal gaan sit, sonder om te dink, telkens op dieselfde stoel of posisie.
Selfs in jou eie huis het elke lid van die gesin sy eie sitplek. Pa het sý stoel voor die televisie en geen kind of kraai sal dit waag om daar te sit nie. Nie eers in sy afwesigheid nie – tensy jy baie dapper is. Aan die etenstafel is dit dieselfde storie. Elkeen het sy eie stoel en die orde daarvan word nooit geruil nie. Wanneer daar gaste kom, word hulle by die oortollige sitplekke ingedeel. Jou sitplek is jou sitplek!
Mý plek is altyd aan Manlief se linkerkant. Of ons sit, of stap, of slaap, hy is regs en ek is links. Die stoel, bed of plek kan verander, maar nóóit die posisie nie. Selfs as ek alleen op die bed slaap, lê ek altyd aan die linkerkant. My kant. Dit was vanaf ons ontmoeting af so. Dit is nie iets wat ooit bespreek of besluit is nie. Dit ís net.
Waarom is dit so? Sommige mense dink dat hierdie verknogtheid aan ‘n stoel / plek net uit gewoonte is. Ek dink dit is omdat ons almal die inherente begeerte het om te behoort. Dat ek my eie plekkie in hierdie mal wêreld het waarmee mense my vereenselwig. Dat wanneer ek nie meer daar is nie, my unieke stoel leeg sal wees. Dat ek gemis sal word, want niemand anders pas op my stoel nie.