π‘Ίπ’‹π’‚π’Ž(π’‘π’šπ’) π’‘π’†π’“π’”π’‘π’†π’Œπ’•π’Šπ’†π’‡

Glinsteroog en Fris Flash besluit dit is hoog tyd dat ons paar hartsmaats moet wegkom van die ongelooflik spanningsvolle weke wat ons agter die rug het. β€˜n Bootrit op β€˜n rivier is net die regte ding om ons senuwees te kalmeer. Ons kan rustig-rustig voΓ«ls bekyk, die natuur bewonder en ons siele kans gee om asem te haal.

Die opgewondenheid is groot toe ons ses Fris Flash se monsterkar volprop. Gelukkig is Kwaai-elfie en Rein-van-Hart aan die tenger kant, want Glinsteroog se piekniekmandjie het sy eie wiele nodig.

Fris Flash en sy monsterkar is nie bang vir spoed nie, die pad vlieg verby – ons breek net-net nie deur die klankgrens nie, want ons kan darem na β€˜n paar van Glinsteroog se liedjies op haar speellys luister. Nie baie nie, maar tog…

Ons word hartlik gegroet met ons aankoms op die kaai, omhels deur die Skipper en elke ding. Ek wil nog koes, toe is dit klaar te laat. Niemand ontsnap die kleindorpse hartlikheid nie.

Ons is die enigste gaste op die boot. Elkeen kry β€˜n sitplekkie. Die reuse piekniekmandjie sit in die middel vir vinnige toegang en daar gaan ons…Wat β€˜n lekkerte! Happie vir happie en slukkie vir slukkie vaar ons teen β€˜n slakkepas teen die rivier op. Ek eet sommer Manlief se sjokolade ook op, want ons wil nou nie hΓͺ dat hy nie Sondag op die kansel pas nie. Ek is baie behulpsaam in sulke opsigte… Ek voel lig en vry, al vertel die foto’s later β€˜n heel ander storie.

Glinsteroog was heeltemal reg – met die son op ons velle en die wind in ons gesigte, kom ons siele tot ruste. Daar is niks soos die natuur en stilte om β€˜n mens te laat besef hoe nietig al ons daaglikse stryd is nie. Dit is waar wat die Prediker sΓͺ: Alles is maar net β€˜n gejaag na wind.

Van die water se kant af kry mens β€˜n nuwe perspektief op die lewe. Bekende plekke op die oewer lyk skielik vreemd, asof jy nog nooit daar gekuier het nie. Stug huise van die straat se kant af, gooi hul deure en vensters verwelkomend oop na die rivier toe. Vreemdelinge stop waarmee hulle besig is en waai vriendelik.Β 

Die water is die gemene deler om skanse te laat sak. Dit wat jy vir die wΓͺreld wil wegsteek, word blootgelΓͺ. Elke stukkie weerloosheid. Elke stukkie verval.Β 

Ons vaar verby twee afgebrande huise wat stilswyend hul hartseer storie uitblaker. Vanuit my waterperspektief getuig die swart gebrande murasies van krag. Die vlamme kon die huis opvreet, maar die mure en die fondasie het bly staan. En ons siele skep moed. Ons ruik die rook van Sadrag, Mesag en Abednego se vuuroond aan ons lywe, maar ons Fondasie staan onwankelbaar.

Dis op hierdie punt waar Vonkeloog besluit ons moet β€˜n glasie sjampanje klink. Kwaai-Elfie gee my β€˜n vermanende kyk, want sy weet wat gebeur as ek β€˜n slukkie alkohol in my lyf het. Elke druppeltjie marsjeer direk na my brein toe, en vernietig elke enkele inhibisie wat van geboorte af by my ingedril is. Maar hoe kon ek weier? Die oomblik vra vir β€˜n glasie klink met die nektar van die gode. Ook is ek baie dors. Skink, Vonkeloog, skink!

Soos β€˜n verantwoordelike grootmens het ek teugie vir teugie my sjampanje gedrink. My kop hΓ©t bietjie lighoofdig gevoel en my tong effe swaar, maar dit kon ook die skielike ontspanne atmosfeer gewees het. Ek het myself trots op die skouer geklop – ek het ten einde laaste my alkohol-gestremdheid oorkom. Soos Manlief sΓͺ: ek high-five myself sommer daar en dan.

Ingenome met myself teug ek vreeslik elegant aan my glasie sjampanje, terwyl ek na die oewer staar. Ons vaar wraggies verby nΓ³g twee afgebrande huise. β€œWat het in hierdie dorp gebeur?” vra ek vir Vonkeloog. β€œDis die hoeveelste gebrande huis wat ek sien.”

Vonkeloog kyk effens verward na my, dan na die murasies, en weer na my en begin dan onbedaarlik lag. β€œDis DIESELFDE twee huise van netnou, mater!”

Nou is Γ©k verward. Waarvan praat die vrou? Ons vaar dan nog die hele tyd in β€˜n reguit lyn! Toe is Vonkeloog heeltemal histeries. Klaarblyklik het ons al β€˜n geruime tyd terug omgedraai. Ek, in my elegante sjampanje-waas, het dit net nie agtergekom nie! My warkoppie het die hele verandering in perspektief mis geteug.

Teen hierdie tyd is die hele hartsgroep in stukke. Manlief het gedweΓ« die halwe glasie sjampanje by my gevat met β€˜n ai-tog-my-vrou! Uitdrukking in sy oΓ«. Ai, tog, inderdaad! So vinnig soos vier slukke sjampanje kan β€˜n mens totaal perspektief verloor. Word twee afgebrande huise sommer vier. Voor jy jou oΓ« uitvee ploeter jy weer in die vlak watertjies rond…

So, wat is die moraaltjie van my sjampanje-staaltjie wil jy weet? Behalwe die hernude besef dat ek ten alle tye moet wegbly van alkoholiese versnaperinge, het ek ook geleer dat ek myself tog nie so ernstig moet opneem nie. Ek mag maar my asem uit lag vir myself. Dit bring genesing.

Tweedens, die kosbaarheid van hartsvriende wat jou sonder voorbehoud en onvoorwaardelik liefhet, maak selfs onmenslik pynlike situasies, draaglik.

Laastens, bly oop(nugter)-kop stroomop vaar, in die middel van die rivier. Anders verloor jy te maklik perspektief op Wie jou fondasie gebou is, en staar jy jou vas in die swart gebrande mure.Β 

Dit is dan wanneer jy vergeet om tΓ³g maar dieΒ  sjampanje te drink, jou kop agteroor te gooi en uit jou maag uit te lag. Vir jou probleme. Vir jou moeitevolle bestaan. En, veral, ook vir jouself.